Genade bepleit vir dokter wat genadedood toepas

  • 0

Suid-Afrikaners is diep verdeeld rondom die beginsel van genadedood, maar daar was groot steun vir Sean Davison, ’n professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap, wat in die Hooggeregshof in Kaapstad deur regter John Hlope tot agt jaar tronkstraf gevonnis is omdat hy drie mense help sterf het. Die tronkstraf is na ’n pleitooreenkoms opgeskort, maar hy moet steeds vir drie jaar in huisarres wees en nie weer aan soortgelyke oortredings skuldig bevind word nie.

Hy het al drie sy pasiënte op hulle versoek gehelp om ’n einde aan hul lewe te maak.

Davison se vonnis het wye reaksie op sosiale media uitgelok. Hoewel talle mense steeds sterk gekant is teen enige vorm van hulpdoding, gaan daar al hoe meer stemme op vir die wettiging van bystanddoding deur medici wat gevra word om terminaal siek mense op ’n waardige manier te help sterf.

Davison het die betrokke pasiënte voorsien van middels wat hul ingeneem het om sodoende hul lewe te beëindig.

 “Dank Vader tog, dis net huisarres. Veral met die stand van sake in Suid-Afrika moet genadedood asseblief gewettig word,” was een van die algemene reaksies wat op sosiale media uitgespreek is na Davison se vonnis.

Hoe lank moet ons nog in Suid-Afrika wag voordat genadedood gewettig word? wou talle mense weet.

Nie een van die diegene se familie wat deur Davison gehelp is om te sterf wou hê hy moet daarvoor gestraf word nie. Al drie die families het in beëdigde verklarings aan die hof gevra dat hy nie vervolg moet word of tronkstraf opgelê moet word nie.

Davison het ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan waarin hy sy rol in die dood van die drie persone beken het. Hy is aangekla van moord op al drie.

Ingevolge sy huisarresbepalings mag hy sy huis in Pinelands verlaat slegs wanneer hy werk of dokter toe gaan of as hy sou wou kerk toe gaan of ’n geloofsbyeeenkoms wil bywoon.

Hy moet ook elke maand ’n minimum van 16 uur gemeenskapsdiens doen.

Davison is in 2018 in hegtenis geneem nadat hy een van sy vriende, dr Anrich Burger, gehelp het om sy eie lewe te neem deur ’n noodlottige dosis dwelms aan hom toe te dien. Burger was na ’n motorongeluk verlam en wou nie langer leef nie. Daarna is Davison ook aangekla in verband met die dood van Justin Varian, wat aan motorneuronsiekte gely het en nie kon sluk nie. In April vanjaar is Davison aangekla nadat hy glo vir Richard Holland in 2015 gehelp het om te sterf.

Talle mense wou op sosiale media weet waarom aborsie in Suid-Afrika wettig is maar nie genadedood nie.

“By aborsie het die fetus geen sê in die saak nie; by genadedood en selfdood het die persoon ’n sê in die saak en maak hy/sy die keuse om te sterf. Belaglik om dit met mekaar te vergelyk. Beide aborsie en genadedood behoort egter onder sekere omstandighede wettig te wees (gelukkig is aborsie reeds wettig),” het Christiaan de Klerk op Netwerk24 se kommentaarblad geskryf.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top