Gerrie Nel wil beleggers uit bedrogspul help

  • 0

.............

“‘Die skema was van die begin af onwettig, terwyl die direkteure steeds in weelde leef. Hierdie skema kan gelykgestel word met die bedryf van ’n misdaadsindikaat en daarom moet hulle optrede onmiddellik gestop word. Mense werk hard om nie arm af te tree nie. Die slagoffers verdien geregtigheid,’ skryf AfriForum op hulle webwerf.”

.............

Duisende beleggers wat altesaam miljarde rand verloor het in die Sharemax-bedrogspul, hoop advokaat Gerrie Nel en die burgerregteorganisasie AfriForum kan hulle help dat geregtigheid uiteindelik geskied.

AfriForum en Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wil toesien dat geregtigheid ná byna tien jaar geskied.

Foto: Canva.com

Sowat 34 000 beleggers het meer as R4,5 miljard in die skemas belê en die meeste van hul geld verloor. In agt jaar het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nog geen stappe gedoen om oortreders en direkteure te vervolg nie.

Die aankondiging dat AfriForum ’n bewaringsbevel opgestel het om die NVG by te staan dat geregtigheid geskied is Maandag tydens ’n nuuskonferensie in Pretoria gedoen.

AfriForum berig op hulle webwerf dat Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê ’n duidelike boodskap moet uitgestuur word dat mense wat ander se swaarverdiende geld steel, nie daarmee kan wegkom nie. “Die skema was van die begin af onwettig, terwyl die direkteure steeds in weelde leef. Hierdie skema kan gelykgestel word met die bedryf van ’n misdaadsindikaat en daarom moet hulle optrede onmiddellik gestop word. Mense werk hard om nie arm af te tree nie. Die slagoffers verdien geregtigheid,” skryf AfriForum op hulle webwerf.

Die bewaringsbevel wat deur Nel en AfriForum se privaatvervolgingseenheid opgestel is, wil verhoed dat die Nova-eiendomsgroep die maatskappy se eiendomme teen pryse ver onder die markwaarde daarvan verkoop – ten koste van aandeelhouers. AfriForum het hierdie bevel aan die NVG gestuur en geëis dat hulle dit in ’n hof bring. Die Nova-eiendomsgroep is volgens AfriForum vir alle praktiese doeleindes ’n voortsetting van Sharemax.

Volgens AfriForum kan die batebeslagleggingseenheid van die NVG hierdie eiendomme ingevolge ’n hofbevel in bewaring neem, maar die NVG het nog geen só ’n aansoek gebring nie.

.............

“In die aansoek wat AfriForum se vervolgingseenheid vir die NVG opgestel het, sê hulle hul ondersoeke het ook bewyse dat die direksielede van Nova buitensporige salarisse aan hulself betaal het. Hulle het glo ook eers hul eie salarisse betaal voordat hulle skuldbriefhouers uitbetaal.”

.............

Nel het op Maandag se nuuskonferensie gesê agt jaar is lank genoeg en dit het tyd geword dat geregtigheid nou geskied. 

Netwerk24 berig dat die Reserwebank reeds gesê het die Sharemax-eiendomsindikaat onregmatig is omdat dit die bankwet oortree het. ’n Klag is in 2012 deur die Reserwebank by die polisie ingedien, maar daar het niks van gekom nie. Nel sê daar is mense wat moet tronk toe gaan oor die saak, maar daar gebeur niks nie.

AfriForum sê op hulle webwerf die eiendomme ter sprake is bekom met die opbrengs van onwettige aktiwiteite, insluitend geldwassery en bedrog soos vervat in die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, Wet nr 121 van 1998, asook die Wet op Banke, Wet nr 94 van 1990. “Aangesien die eiendom instrumenteel was tot die pleeg van die bogemelde misdade teen die aandeelhouers, en aangesien die maatskappy Nova sedert 2012 in beheer is daarvan (maar dié maatskappy gestig is met die opbrengs van onwettige deposito’s wat deur Sharemax van die publiek aanvaar is) het AfriForum versoek dat die NVG hierdie eiendom in bewaring neem.”

In die aansoek wat AfriForum se vervolgingseenheid vir die NVG opgestel het, sê hulle hul ondersoeke het ook bewyse dat die direksielede van Nova buitensporige salarisse aan hulself betaal het. Hulle het glo ook eers hul eie salarisse betaal voordat hulle skuldbriefhouers uitbetaal.

Skynbaar probeer Nova nou om van geboue ontslae te raak in ’n poging om likwidasie te vermy. Volgens AfriForum is die Nova-direksie se optrede gewetenloos en daarom is hulle genoodsaak om hierdie aansoek op te stel en vir die NVG te stuur om te verhoed dat aandeelhouers verdere verliese ly.

Nel het Maandag gesê hulle wil baie graag met die NVG saamwerk en bied al hulle hulp tot die NVG se beskikking sodat daar vordering in die saak kan kom.

Eva Kautzy, ’n slagoffer wie se pa weens die impak van die bedrogspul in 2013 voor die Sharemax-gebou selfmoord gepleeg het, het Maandag volgens AfriForum se webwerf gesê sy is dankbaar dat mense nou kan hoor waardeur beleggers soos haar pa is en hoe swaar hulle gekry het.

Buro: MvH
  • 0
Top