Die ses politieke partye wat hoop om later die maand ’n plan gereed te hê om die ANC-regering tydens volgende jaar se algemene verkiesing met ’n koalisieregering te vervang, het ’n wyd gerespekteerde politieke ontleder en denker aangestel om die proses te fasiliteer.
William Gumede is as voorsitter aangestel van die Nasionale Konvensie wat op 16 en 17 Augustus 2023 by Emperor’s Palace in Kempton Park sal vergader om die beoogde Moonshot-pakt van stapel te stuur.
Dit word beskou as ’n historiese stap om ’n geloofwaardige alternatief op pad na die 2024-verkiesing te bou.
Gumede sal as ’n onafhanklike voorsitter van die proses opgetree en is nie met enige van die deelnemende partye geaffilieer nie.
Die politieke partye wat hulle reeds daartoe verbind het om ’n veelparty-ooreenkoms te ondersoek met die oog op volgende jaar se verkiesing, is die DA, IVP, VF Plus, ActionSA, United Independent Movement (UIM) en die Spectrum National Party (SNP).
Die ses partye het Donderdag in ’n gesamentlike verklaring gesê geen Suid-Afrikaner is beter geplaas as Gumede om die veelpartyproses te lei nie, gegewe sy beduidende bydraes tot Suid-Afrika en verskeie demokrasieë regoor die wêreld.
The political parties exploring a multi-party agreement are pleased to announce that Professor William Gumede has agreed to chair the National Convention that will sit on 16 and 17 August 2023 at Emperor’s Palace in Kempton Park.https://t.co/cJQ5ELkiKD
— ActionSA (@Action4SA) August 3, 2023
Die partye sê hulle is daartoe verbind om aan Suid-Afrikaners ’n dwingende alternatiewe visie en rigting vir die land te bied. “Die basis vir hierdie ooreenkoms sal ’n agenda wees om die grootste uitdagings wat ons land in die gesig staar aan te spreek om die miljoene Suid-Afrikaners wat hoop verloor het, te inspireer. Hierdie ooreenkoms moet die grondslag lê vir ’n nuwe veelpartyregering in 2024 wat die werk kan begin om ons land weer vorentoe te beweeg.”
William Gumede is medeprofessor, Skool vir Bestuur en voormalige sameroeper, Politieke Ekonomie, Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en stigter van die Democracy Works Foundation.
Hy is ’n bekende Suid-Afrikaanse skrywer, joernalis en politieke ontleder. Hy is op 16 Oktober 1968 gebore en het ’n ryk geskiedenis van bydraes tot die Suid-Afrikaanse samelewing.
Gumede het by verskeie publikasies gewerk en was ’n medestigter en besturende redakteur van die politieke en kultuurtydskrif New Agenda. Hy het ook as ’n politieke joernalis vir The Sowetan en The Star gewerk.
Hy het verskeie boeke geskryf, insluitend Thabo Mbeki and the battle for the soul of the ANC, The failure of governance in Bellagio: the effects of conflict on the development of Bellagio, en Restless nation: making sense of troubled times.
Die ses partye sê in hulle verklaring hierdie groepering van partye het van meet af aan die behoefte verstaan dat hierdie samesprekings voordeel moet trek uit die wysheid en ervaring wat in Suid-Afrika beskikbaar is en te dikwels geïgnoreer word deur politieke leiers wat valslik glo dat hulle ’n monopolie het op oplossings wat in Suid-Afrika nodig is.
The Moonshot Pact is proud announce that Professor William Gumede has agreed to chair the National Convention on 16 and 17 August. This is a historic step forward to building a credible alternative heading into the 2024 election. pic.twitter.com/75CXx42bXm
— John Steenhuisen MP (@jsteenhuisen) August 3, 2023
As politieke ontleder en denker het Gumede bygedra tot die gesprekke oor Suid-Afrika se demokrasie, die ANC, en sosio-ekonomiese kwessies in die land. Hy is ’n kritiese denker wat ’n verskeidenheid van sosiale en politieke sake belig. Sy bydrae tot die openbare debat in Suid-Afrika het hom een van die invloedryke stemme in die land gemaak.
Tydens die anti-apartheidstryd het Gumede verskeie leiersposisies in Suid-Afrikaanse studente-, burgerlike en vakbondbewegings beklee. Hy was ’n politieke-geweld-bemiddelaar en gebiedskoördineerder vir die Nasionale Vredeskomitee tydens die veelparty-onderhandelinge vir ’n demokratiese Suid-Afrika en is na Suid-Afrika se Waarheid-en-versoeningskommissie gesekondeer.
Vir die Pakt-gesprek sal Gumede die proses saam met ’n spesialisspan tegniese adviseurs bestuur. Die span sluit Nerine Kahn, Uwe Jun en Zamayirha Peter in.
Kahn is die voormalige uitvoerende hoof van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA). Sy is ’n gekwalifiseerde prokureur met ’n BA, LLB en gevorderde Diploma in Arbeidsreg. Sy het vir ses jaar gepraktiseer, waartydens sy hoofsaaklik in arbeidsreg gespesialiseer het. Sy was toe vir ses jaar in diens van die KVBA as ’n kommissaris voordat sy aan die hoof van die organisasie gestaan het.
Jun is die direkteur van Trier Instituut vir Demokrasie en Partynavorsing (TIDuP) in Duitsland. Hy is professor in regeringsteorie en fakulteitsdekaan aan die Universiteit van Trier. Hy het breedvoerig geskryf oor koalisiebou in die Duitse deelstate.
Peter is ’n ervare joernalistiek- en kommunikasiespesialis en sal ’n kommunikasie-adviseur vir die sameroepende span wees. Sy het vir City Press gewerk en haar stories is op News24, Power FM, Rapport en Huffington Post versprei. Sy is ’n voormalige SR-adjunkpresident by Wits.
Gumede het reeds begin met die werk van die voorsitter van weeklikse vergaderings van die politieke partye wat betrokke is by die pogings om ’n veelparty-ooreenkoms op 16 en 17 Augustus 2023 te vestig.
Hierdie vergaderings stel partye in staat om betrokke te raak by die agenda vir die konvensie en om groter konsensus voor die konvensie te bereik.