Die heropening van skole het die naweek groot verwarring veroorsaak toe daar Sondagaand op die nippertjie aangekondig is skole heropen nie meer op Maandag 1 Junie vir graad 7- en graad 12-leerlinge soos wat vroeër in die Staatskoerant aangekondig is nie.
Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het Sondagaand ter elfder ure ’n inligtingsessie oor die heropening van skole gekanselleer.
Motshekga het die media Maandag ingelig oor die redes vir die skielike verandering van planne. Verteenwoordigers van onderwysunies en nasionale beheerliggaamsverenigings het Saterdagaand met haar vergader om die heropening van skole te keer.
Dit het geblyk dat hoewel sommige skole gereed is om te heropen, die meeste skole in die land nie gereed is nie. Motshekga sê onderwysers van skole wat persoonlike beskermende toerusting ontvang het en aan gesondheidstandaarde voldoen, moet vandeesweek teruggaan skool toe. Sy sê sy moes eers samesprekings met belanghebbers voer nadat die besluit geneem is om skole nie Maandag te heropen nie.
Motshekga moes die naweek ook dringend met die Menseregtekommissie vergader nadat hulle met ’n interdik gedreig het om die heropening van skole te keer.
Die Vereniging vir Onafhanklike Skole van Suider-Afrika, Isasa, het Maandag verdere samesprekings met die Departement van Basiese Onderwys gevoer oor die infasering en terugkeer van skoliere in die grade buiten graad 7 en 12.
Verskeie instansies is bekommerd oor die gereedheid van skole om te heropen, die beskikbaarheid van persoonlike beskermende toerusting en die ontsmetting van skole.
Die uitvoerende direkteur van Isasa, Lebogang Montjane, sê onafhanklike skole is wel gereed om leerders te ontvang.
Die onderwysvakbond Natu het sy frustrasie te kenne gegee met wat hy noem die Minister se versuim om opvolgsamesprekings met die vakbond te voer. Die president van Natu, Allen Thompson, sê onderwysers se terugkeer na skole wat nie gereed is nie, kan nie geduld word nie.
Matrieks en graad 7-leerlinge het Sondagmiddag ’n skrywe van hulle skole ontvang waarin hulle verwittig is dat hulle skole nie meer Maandag 1 Junie sal heropen nie.
Verteenwoordigers van onderwysunies en nasionale beheerliggaamsverenigings het reeds Vrydag ’n verklaring uitgereik waarin hulle die opening van die skole op 1 Junie ten sterkste veroordeel. Volgens hulle is die gesondheid- en veiligheidstandaarde van baie skole in die provinsies nog nie op standaard nie.
Hoewel Motshekga ’n 10-dae-grasieperiode gegee het vir dié skole om hulle maatreëls reg te kry, voer die unies en verenigings aan dat dit onregverdig teenoor dié skole is en dat niemand agterweë gelaat moet word nie. Hulle wil hê skole regoor die land moet heropen eers wanneer almal hulle persoonlike beskermende toerusting ontvang het.
Uit Maandags se nuuskonferensie was dit duidelik dat die onderwysstelsel onder enorme druk verkeer om skole gereed te kry vir heropening. Hoewel baie gedoen is, kon talle skole nie daarin slaag om betyds die nodige voorsorgmaatreëls te tref nie.
President Cyril Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê die regering het kennis geneem van die kommer wat daar by ouers en instansies bestaan en gee aandag daaraan.
Hy sê dit is verstaanbaar dat daar gemengde gevoelens oor die saak is. Hy sê die regering stem saam dat geen skool wat nie gereed is nie, moet heropen nie, en dat die proses van heropening op ’n deursigtige manier moet geskied.
From The Desk of the President - Monday, 1 June 2020 - https://t.co/dBU9MZUybu Today is the International Day for Protection of Children, which is commemorated around the world to draw attention to children’s rights and welfare. pic.twitter.com/J9WfOsh1HC
— Presidency | South Africa ?? (@PresidencyZA) June 1, 2020
“Al die sleutelrolspelers, hetsy ouers, skoolbeheerliggame, onderwysers of amptenare moet oor die nodige inligting rakende die heropening van skole beskik. Dit is ons gesamentlike verantwoordelikheid om seker te maak dat die onderwysomgewing veilig is,” het Ramaphosa gesê.
Buro: MvH