Gesoek: ’n minister van die toekoms

  • 0

Suid-Afrika het ’n minister van die toekoms nodig. Maar wie? Hoe sou hy, sy, daar uitsien?

Met dié dat ons nou weer ’n bietjie meer normaal kan leef van 1 Junie af, is die toekoms op almal se lippe. Die woord/voorvoegsel post is die nuwe taaltameletjie: met koppelteken, aanmekaar, los? Subtiele verskille, maar die implikasies is groot. Postpandemie is veel meer van ’n toestand as post pandemie, wat net ’n ander tyd aandui.

Gaan ons ’n postpandemie hê, of gaan dinge maar net aangaan soos tevore, post die pandemie?

Nuwe normaal is die ander gewilde frase, maar wat was “normaal” in die eerste plek? Het ons nie sedert die 1950’s, toe ons na die oorwinning teen polio vir die eerste keer ’n wêreld sonder te veel moordvirusse kon skep, in ’n borrel geleef wat nou finaal gebars het nie?

Die frase sosiale distansiëring kom uit die 1950’s, en het verwys na klasapartheid. Is ons nie nou terug na die “ou normaal” wat die eintlike normaal is waarin die mens al vir tienduisende jare leef in stryd met sy grootste vyand, die mikrobe nie?

’n Minister van normaliteit sou aandag aan sulke dilemmas kon gee. Maar dit klink soos iets uit Monty Python, of 1984.

Dus, liewer: minister van die toekoms.

Trouens, ’n veel meer sobere pleidooi as een deur John Cleese, George Orwell of Franz Kafka is verlede week vir so ’n minister gelewer deur die filosoof Roman Krznaric by die Hay Boekefees wat die naweek ten einde geloop het. En die aansporing daarvoor is reeds daar, in wetgewing deur die Walliese regering, ’n toekomskomitee in die Duitse Bundestag en hofsake deur studente in Amerika, wat almal probeer om nuwe wetgewing te laat rig deur die uitwerking wat dit op toekomstige generasies kan hê.

In Wallis moet alle wetgewing eers teen die Well-being of Future Generations Act van 2015 geweeg word. My familie in Wallis vertel dat daar meestal maar lippediens betuig word, hoewel dit gebruik is om ’n snelweg te keer wat Newport deur ’n wildreservaat wou bou. Tog beteken dit dat politieke debatte deurweek word deur kwessies rondom volhoubaarheid, klimaatsverandering en nou ook mikrobes.

Krznaric praat van die toekoms wat reeds ’n paar jaar vooruit bepaal is, en daar was baie getuienis vir sy aanspraak in ander praatjies op die virtuele fees, waaraan soms soveel as 25 000 mense op ’n slag van oor die wêreld deelgeneem het. Outomatisering en tegnologiese hernuwing, het die ekonoom Daniel Susskind gesê, is reeds ’n onstuitbare masjien. Teen die tyd dat ons kan begryp wat alles tans gebeur, het dinge reeds soveel verander dat ons weer van vooraf sal moet begin.

Sy groot vrees, dat Groot Teg (Big Tech) binne die volgende paar dekades die wêreld gaan oorneem, het ’n groot hupstoot gekry met die COVID-19-pandemie en sy afdwing van afstande en monitering. Die Nobelpryswenner vir ekonomie Paul Krugman reken in dieselfde trant dinge gaan nie veel verander nie – die rykes gaan nog ryker word en die armes armer.

Dié week impliseer die baas van Naspers, Bob van Dijk, dat groot maatskappye reeds voor COVID-19 besig was om groter “societal awareness” te vestig, en reeds besig was om die skuif van “offline to online” te maak. Elders is daar konsensus dat die krisis nuwe geleenthede skep vir sakemanne, natuurlik dié met genoeg geld.

Krznaric se probleem met sulke houdings is dat ons almal gebuk gaan onder ’n “patologiese korttermynisme”. Die toekoms is gekoloniseer, sê hy in ’n analogie wat herinner aan Shoshana Zuboff s’n oor die kolonisering van ons nuwe digitale grensgebiede. In daardie toekoms stort ons al ons afval en vermorsings; ons laat dit aan die nageslag oor om klimaatsverandering, besoedeling en mensgemaakte pandemies (superkieme) te hanteer.  

Dis ’n negering van ons eie evolusie as mense. Ons het dit reggekry om ons okkerneutbrein, die een wat die laaste twee miljoen jaar ontwikkel het tot ’n formidabele orgaan wat kan planne maak om ruimtetuie na ander beskawings te stuur, ondergeskik te stel aan ons “malvalekkerbrein”, die een wat 80 miljoen gelede ontstaan het toe ons nog reptiele was, en wat gerig is op ’n kinderlike kitsbevrediging van ongesonde begeertes.

Hy het sy gehoor ’n eenvoudige denkeksperiment laat doen: Dink aan ’n jongmens vir wie jy omgee, en stel hom/haar voor in 2050, dan weer in 2080, en uiteindelik wanneer hulle 90 jaar oud is en ’n baba, ’n kleinkind dalk, in hul arms hou. Daardie baba, sê Krznaric, gaan dalk tot diep in die jare 2200 leef, en tog kan ons ’n emosionele band met hom/haar hê.

Sy boek se titel is The good ancestor, en na aanleiding van ’n vraag uit die 1950’s deur Jonas Salk, die man wat polio uitgeroei het, vra dit: Gaan ons eendag gesien word as goeie voorsate vir ons nakomelinge?

’n Minister van die toekoms sal kan help om ten minste oor hierdie vraag te dink. In Suid-Afrika is ’n mens natuurlik dadelik skepties: Dit sal net nog geleenthede skep vir reusagtige salarisse, per diems vir familie in die entourage wat rondrits in vliegtuie van die SAA-feniks wat nie weet of hy moet vlieg of val nie.

Die groter probleem in Suid-Afrika is dat ons gekoloniseer is deur die verlede, beide omdat sy vergrype ons laat met bykans onoorkomelike ongelykhede, en omdat ons denke oorheers word deur kwessies gedryf deur 19de-eeuse ideologieë. Die meerderheid Suid-Afrikaners sien die oplossing vir hul probleme in swart identiteitspolitiek as slagoffers van die verlede. Hulle veg nog teen Britse kolonialisme en apartheid, terwyl die nuwe kolonialismes bedryf word deur Microsoft, Facebook, Twitter, Amazon en Google.

Krznaric meen ons nasionale demokrasieë kan nie anders as om korttermyn ingestel te wees nie. Na ’n duisend of so jaar van eksperimentering weet ons dat ons ons leiers nie kan toelaat om langer as ’n handvol jare te regeer nie, anders word hulle diktators. Ons moet werk aan internasionale koördinasie, maar hy sien ook oplossings in die groeiende mag van stede. Die feit dat so baie Amerikaanse stede die Parys-ooreenkoms oor klimaatsverandering onderskryf teen president Donald Trump se sentimente in, dui vir hom ’n moontlik pad aan.

As ons nie kans sien vir ’n nasionale minister van die toekoms uit ANC-geledere nie, kan ons dink aan een in die Kaap, dalk in die provinsiale kabinet, hoewel die Demokratiese Alliansie my nie baie geesdriftig maak oor enigiets nie.

Wie sou so ’n posisie kon beklee? Nie Helen Zille nie. Ook nie Roger Federer nie. Trevor Noah? Hy is nou te Amerikaans. Gwen Ngwenya? Kan ek voorstelle kry, asseblief?

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top