Getuie met Zuma-lojaliteite trap klei voor Zondo

  • 0

Die voormalige voorsitter van die SAL se direksie, Dudu Myeni, het die afgelope week kwaai kleigetrap toe sy voor regter Raymond Zondo getuig het oor haar beweerde betrokkenheid by staatskaping.

Sy het telkens die vrae wat deur die kommissie se advokaat, Kate Hofmeyr, aan haar gestel is, gesystap. Sy het haar voortdurend op haar swygreg beroep as verskoning om nie die vrae te beantwoord nie.

Regter Zondo het haar Donderdag daarop gewys dat die feit dat sy sekere vrae nie wil beantwoord nie, nie die kommissie sal keer om bevindings te maak wat dalk teen haar mag tel nie. Zondo het gesê indien sy nie op die vrae wil reageer nie, moet sy verstaan dat die kommissie nie haar kant van die saak in ag kan neem wanneer hy sy verslag moet opstel nie.

Myeni het in haar getuienis voor die kommissie net soos oudpresident Zuma beweer daar word ’n narratief geskep dat sy aan sekere misdade skuldig is terwyl sy volhou sy het niks verkeerd gedoen nie. Sy sê sy is reeds deur die media en ’n deel van die publiek skuldig bevind bloot as gevolg van haar assosiasie met Zuma.

Vroeër vanjaar is onder andere getuig hoe sy en Zuma na bewering haarfyn beplan het om van sekere staatsamptenare ontslae te raak.

Adv Hofmeyr het haar bes probeer om inligting uit Myeni te kry, maar sy het telkens geweier om die vrae te beantwoord omdat sy haarself nie wou inkrimineer nie.

Sy het onder andere verwys na ’n onlangse Hooggeregshof-uitspraak teen haar waartydens sy deur die regter lewenslank tot ’n misdadige direkteur verklaar is ingevolge die Maatskappyewet. Omdat sy van plan is om teen die uitspraak te appelleer, wil sy haarself nie voor die Zondo-kommissie inkrimineer nie, het sy gesê. Dit is waarom sy van haar swygreg gebruik maak.

Sy het aangevoer dat sy deel is van ’n groep mense op wie daar jag gemaak word en dat sy daarvan beskuldig word dat sy geld gesteel het terwyl sy onskuldig is.

Myeni, wat ook voorsitter was van die Zuma-stigting, wou ook nie vrae beantwoord rakende die stigting se finansies nie. “Hier is ek voorsitter, en moet vrae beantwoord oor skenkings wat aan die Jacob G Zuma-stigting gemaak is, donasies wat aan arm mense gemaak is,” het sy gesê voordat sy aangedui het sy wil nie vrae daaroor beantwoord nie.

Lede van die publiek wat die saak op Twitter volg, was nie juis beïndruk met die redes wat Myeni aanvoer waarom sy nie die vrae wil beantwoord nie.

Myeni het haar getuienis dié week vanuit haar huis via die internet gelewer, aangesien sy in selfisolasie is omdat sy glo in kontak was met iemand wat positief getoets is vir COVID-19.

Alle oë is egter in dié stadium op oudpresident Jacob Zuma wat van 16 tot 20 November voor die kommissie moet verskyn.

Zuma het vroeër deur die media versoek dat regter Zondo hom aan die kommissie moet onttrek as gevolg van “familiebande” wat daar tussen hom en Zuma bestaan en dat Zondo as gevolg daarvan nie onpartydig is teenoor Zuma nie.

Die kommissie het egter nog geen formele versoek van Zuma se prokureurs ontvang met redes waarom hy hom aan die kommissie se werksaamhede moet onttrek nie. Zondo het vroeër in ’n verklaring bekendgemaak dat die “familiebande” waarna Zuma verwys, betrekking het op 25 jaar gelede toe hy ’n verhouding gehad het met ’n vrou by wie hy ’n kind het en wie se suster later een van Zuma se vroue geword het. Volgens Zondo hou dit geen verband met sy werksaamhede by die kommissie nie.

Zondo het weer daarop gewys dat die kommissie sy werksaamhede nog vanjaar moet afsluit sodat hy vroeg volgende jaar sy verslag met aanbevelings kan opstel. Volgens Zondo sal dit jare en jare duur as hy al die bewerings oor korrupsie in die land moet ondersoek.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top