Gevangene wat oor lekker tronklewe spog, loop sy rieme styf

  • 0

’n Verhoorafwagtende gevangene wat op sosiale media gespog het met die lekker lewe in die tronk, het nou vir homself en sy medegevangenes ’n lat vir hulle eie bas gepluk.

Dit volg nadat die gevangene onder die naam Bornface Banks die land geskok het toe hy video’s vanuit die tronk op die sosiale netwerk TikTok geplaas het waarin hy spog oor die goeie lewe agter tralies.

Hy het verskeie video’s in die Goodwoodse korrektiewe sentrum opgeneem en op TikTok gespog hoe lekker die lewe in die tronk vir hom en sy medegevangenes is.

Die man, wat volgens mediaberigte ’n Zimbabwiër is wat teregstaan op aanklagte van ontvoering, moord, uitbuiting en die onwettige besit van ’n vuurwapen, word na verneem word sedert 2022 in die Medium B-afdeling in die Goodwood-gevangenis aangehou.

In een van die video’s wat oral op sosiale media versprei is, vertel hy hoe hy al twee jaar in aanhouding is. Hy het gesê hy word van moord, ontvoering, afpersing en roof aangekla.

Die Zimbabwies-gebore gevangene het gesê hy weet selfone word nie in die tronk toegelaat nie, maar hy is in elk geval ’n “misdadiger” en gee nie om nie.

In een van die video’s wat die afgelope naweek verskyn het, lag en gesels hy en sy medegevangenes uitbundig terwyl hy spog dat hulle verblyf hulle niks kos nie.

“Julle sit ons in die tronk en dink ons ​​ly … Nee, my broer, dit gaan baie goed met ons. Kyk hoe gelukkig is ons. Vanoggend het ons ontbyt gehad; in die middag het ons middagete geëet en aandete geëet ... Ons is op die punt om aandete te eet, my broer. Dit gaan baie goed met ons … Ons ly nie eers nie. Ons is gelukkig. Ons betaal nie eers huur nie. Nee, ons koop nie elektrisiteit nie. Ons kook nie eers kos nie; hulle gee ons kos gratis,” het hy vol bravade oor die lewe agter tralies gespog. 

Die gevangenisowerheid dink egter nie dit is ’n grap nie. Hulle het gou gespring om ’n einde te maak aan die tronkvakansie en ’n klopjag uitgevoer op die sentrum waar die voorval plaasgevind het.

Tientalle noodondersteuningspanbeamptes het Donderdagoggend douvoordag op die sentrum toegesak en is deur joernaliste van verskillende mediahuise vergesel. Daar is beslag gelê op talle selfone, daggapype, kontant en ander items.

Die nuwe minister van korrektiewe dienste, Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus, het aan Eye Witness News gesê hy glo die voorval is moontlik gemaak weens korrupte Korrektiewe Dienste-personeel en hy sal uitvind wie nog betrokke was.

“Ek wil weet hoe dit gebeur het dat hierdie gevangene ’n selfoon by hom gehad het. Dit beteken daar is ’n sekuriteitsprobleem, of korrupsie is hierby betrokke.”

Groenewald sê een van sy prioriteite as minister is om ’n zeroverdraagsaamheidsbeleid ten opsigte van korrupsie in te stel.

Die gevangene wat die video gemaak en versprei het, is intussen na ’n maksimumregstellingsfasiliteit oorgeplaas nadat dissiplinêre stappe teen hom ingestel is.

“Die Departement van Korrektiewe Dienste is ontsteld oor die video wat deur die gevangene Bornface Banks op sosiale media die rondte doen. ... ’n Klopjag is uitgevoer en die gebruikte selfoon is gekonfiskeer,” het Singabakho Nxumalo, DKD-woordvoerder, aan die nuusagentskap IOL gesê.

Makgothi Samuel Thobakgale, die waarnemende nasionale kommissaris van DKD, het bevestig dat Banks ’n aangehoue verhoorafwagtende is wat teregstaan ​​op aanklagte van moord en ontvoering en dat hul ondersoeke voortduur.

“Ons het Dinsdag met die skoonmaakaksie by dié fasiliteit begin en ons het die risiko’s geïdentifiseer wat ons in die gesig staar met betrekking tot die verspreiding van selfone, veral by dié fasiliteit,” het Thobakgale volgens IOL gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top