Die aanhoudende dade van geweld teen vroue in Suid-Afrika vereis dringende aandag. Ten spyte van wetgewende ingrepe om dit hok te slaan, is die hele Suid-Afrikaanse samelewing vol daarvan.
Twee onlangse voorvalle van beweerde mishandeling van bejaardes het die land se nimmereindigende plaag van geweld en huishoudelike mishandeling opnuut beklemtoon.
Die 83-jarige Sindiwe Ngqaza se kleinseun het haar na bewering mishandel omdat sy nie vir hom vleis voorsien het om te eet nie, en minder as ’n week gelede het UThukela News Times ’n video geplaas waarin ’n 40-jarige man blykbaar sy ma in Mnambithi, KwaZulu-Natal, aanrand.
Oproepe om ’n einde daaraan te maak het Maandag vanuit verskeie oorde opgeklink.
Die kantoor van die openbare beskermer het verlede maand ook ’n verdoemende verslag vrygestel oor die gebrek aan ondersteuning wat slagoffers van geweld van die Departemente van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling en Maatskaplike Ontwikkeling en van die SAPD ontvang.
Die openbare beskermer het 38 landdroshowe regoor die land ondersoek.
Die ondersoek het ontstaan ná bewerings dat Altecia Kortje in Junie 2020 by die Bellville-landdroshof weggewys is toe sy om ’n beskermingsbevel aansoek gedoen het. Sy en haar dogter is later vermoor gevind.
Die minister in die presidensie verantwoordelik vir vroue, jeug en persone met gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, sê in ’n verklaring alle Suid-Afrikaners moet saamstaan in die land se stryd teen geweld teen en moord op vroue.
“Daar is ’n dringende behoefte om voldoende hulpbronne te belê om te reageer op die geslagsgeweldpandemie en alle vorme van diskriminasie in die samelewing,” het Chikunga gesê.
Die DA het in ’n verklaring ’n beroep gedoen op slagoffers om gevalle van mishandeling by die polisie aan te meld en op gemeenskappe om nie slagoffers van mishandeling in stilte te laat ly nie.
“Slagoffers is dikwels te bang vir vergelding om hul mishandelaars aan te meld, terwyl bure, familie en vriende getuies daarvan is, maar swyg. Ons doen ’n beroep op hulle om mishandelaars aan te meld sodat die SAPD vinnig kan ingryp,” sê twee DA-parlementslede, Angel Khanyile en Ian Cameron, in hulle verklaring.
Zandile Phiri, waarnemende sekretaris-generaal van die United Democratic Movement (UDM), sê in ’n verklaring die onlangse voorvalle van geweld teen vroue beklemtoon die kwessie van die voortdurende aard daarvan in Suid-Afrika.
— UDM (@UDmRevolution) July 21, 2024
In die Oos-Kaap het die Ralgane-gesin by iGxulu Administratiewe Area ’n tragedie in die gesig gestaar waar ’n pa na bewering sy vrou en kind wreed vermoor het.
In Limpopo is Mpho Mokwele na bewering deur haar kêrel by Lithuli Park buite Seshego gesteek.
Dorcas “Didi” Lekganyane is verskeie kere by haar huis in Kew, Johannesburg, deur haar lewensmaat gesteek.
In die Noord-Kaap was daar verskeie voorvalle van messtekery, insluitend dié van ’n 20-jarige LGBTQ-leerder by Roodepan in Kimberley. ’n 38-jarige vrou is onlangs buite haar huis geskiet deur ’n verdagte wat van die toneel gevlug het. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Dié voorval is gevolg deur die moord op ’n 39-jarige vrou in Kimberley wat na bewering deur haar lewensmaat by ’n informele nedersetting gepleeg is. Boonop het ’n Bloemfonteinse skuiling ’n toename gerapporteer in die aantal vroue en kinders wat skuiling soek, van wie baie slagoffers van geweld is.
Minister Chikunga sê daar is ’n behoefte aan sistemiese verandering om geweld teen vroue hok te slaan.
Sy sê vroue was en is steeds die fondament van menslike beskawing, en tog word ons elke dag wakker met mans wat gesmeek moet word om vroue se reg op lewe te erken en te respekteer.
“Ons het gemeenskapsintelligensie nodig, navorsers, geleerdes, advokate en aktiviste wat ’n noukeurige prentjie kry van gemeenskappe wat geweld in die gesig staar, om te verseker dat geregtigheid geskied,” het Chikunga gesê.
In sy 2020-verslag getiteld “Killings of women and girls by their intimate partner or other family members – global estimates” het die Verenigde Nasies se Kantoor vir Dwelms en Misdaad (UNODC) geraam dat ’n vrou of meisie gemiddeld elke 11 minute deur iemand in haar eie gesin aangerand word.
’n Jaar later het ramings deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ook bevind dat een uit elke drie vroue wêreldwyd in haar leeftyd aan fisieke en seksuele geweld blootgestel word. Een uit elke vyf vroue wat minstens een maat gehad het, het al ’n fisieke of seksuele ervaring van geweld deur ’n intieme maat beleef.
Lees ook:
Sewentiende Artscape Women’s Humanity Festival vra vir sterker optrede teen GBV