’n ANC-parlementslid wat tydens die bespreking van president Cyril Ramaphosa se staatsrede gesê het beurtkrag is nie die einde van die wêreld nie, het Suid-Afrikaners en opposisiepartye warm onder die kraag.
Sylvia Lucas, ondervoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies en gewese premier van Noord-Kaap, se opmerking oor beurtkrag het menige Suid-Afrikaners genoop om in die sosiale media daarop te reageer.
“So Sylvia Lucas, die adjunkvoorsitter van die NCOP van die ANC, sê dat beurtkrag nie die einde van die wêreld is nie ... Sy sê dit terwyl sy R2,1 miljoen per jaar verdien. Sy verdien hierdie salaris of die NCOP elektrisiteit het of nie,” het Ngamla Gouws op X gesê.
So Sylvia Lucas, the Deputy-Chair of the NCOP from the ANC says that loadshedding isn't the end of the world... she says this whilst earning R2.1 million a year. She earns this salary whether the NCOP has electricity or not.
— Ngamla Gouws ???????? (@RenaldoGouws) February 13, 2024
Verskeie ander Suid-Afrikaners het op dieselfde trant teen haar uitgevaar.
“Sy leef waarskynlik sonder beurtkrag, word in ’n blouligbrigade begelei en haar werk word nie gemeet in uitset wat deur beurtkrag geraak word nie. Wat weet sy van beurtkrag?” het Helgard Cronje gevra.
Die Kongres van Tradisionele Leiers, Kontralesa, eis dat die ANC haar oor haar toespraak berispe, en dat sy haar woorde terugtrek. Volgens Kontralesa is haar uitlating betreurenswaardig en ’n klap in die gesig van Suid-Afrikaners. Die president van Kontralesa, Lameck Mokoena, sê die huidige toestande weens beurtkrag kan nie geregverdig word nie. Hy sê hulle aanvaar die standpunt dat die regering werk om die ongeregtighede van die verlede uit te wis, maar dit regverdig nie Lucas se uitlatings nie.
Sy het in Afrikaans aan LP’s gesê dat die ANC-regering gedurende die eerste 30 jaar van demokrasie wette moes hanteer wat regverdigheid en gelykheid onderdruk het.
“Ons het daardie onderdrukkende en diskriminerende maatreëls herroep en wette ingestel om die funksionering van die breër staatsmasjinerie op te knap. Hierdie optrede het gehelp om ons demokrasie te verstewig en ons gehelp om groot vordering te maak om ons land se demokratiese doelwitte te verwesenlik,” het Lucas gesê.
“Loadshedding is nie die einde van die aarde nie. ... President ... sodra jy van loadshedding praat, dan begin hulle op jou te saboteer. Ons sal moet iets doen aan daai sabotasie ...”
"Load shedding is not the end of the world" - Sylvia Lucas, Deputy Chairperson of the NCOP pic.twitter.com/u691XnlM9n
— MDN NEWS (@MDNnewss) February 13, 2024
Dit is nie die eerste keer dat Lucas Suid-Afrikaners die harnas injaag nie. Tydens haar termyn as premier in Noord-Kaap moes haar kantoor vure doodslaan toe sy R53 000 met haar amptelike kredietkaart aan kitskos spandeer het tydens haar eerste 10 weke in die pos. Die Sunday Times het destyds ’n woordvoerder van die gewese premier aangehaal wat gesê het Lucas se besteding is “nie buitensporig nie” en is “heeltemal uit verband geruk”.
Die premier het hierdie spandabelrige uitgawe verdedig deur op te merk: “Hoe sou ons geëet het as ons nie belastingbetalers se geld gebruik het nie?” Die ANC het later skerp uitgevaar teen die media en spotprenttekenaars wat haar daaroor gespot het, onder andere die bekende spotprenttekenaar Zapiro.
Sy het haar daarmee in die media en koerantopskrifte die bynaam “kitskospremier” op die hals gehaal.
Thami Ntuli, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering (SALGA) in KwaZulu-Natal, het gesê dit was neerdrukkend om Lucas se uitlatings oor beurtkrag te hoor, aangesien kragonderbrekings tot verlies aan inkomste en diensleweringsbetogings vir munisipaliteite gelei het. “Daardie stelling was onsensitief,” het hy gesê.
KZN SALGA chairperson Thami Ntuli says it was depressing to hear ANC MP #SylviaLucas tell Parliament that #loadshedding is "not the end of the world" as power cuts have resulted in loss of revenue and service delivery pickets for municipalities. "That statement was insensitive." pic.twitter.com/VvCp0rj4wv
— Newzroom Afrika (@Newzroom405) February 14, 2024
Die politieke kommentator Ongama Mtimka het aan Newzroom Arika gesê Lucas se toespraak wys hoe die ANC viool speel terwyl Rome brand en verwag dat Suid-Afrikaners eenvoudig alles moet verduur wat verkeerd is.
ANC MP Sylvia Lucas has come under fire for saying #loadshedding is not the end of the world. Dr Ongama Mtimka says this statement shows how the party feels South Africans should endure what is happening, which is wrong.
Watch: https://t.co/OhXOVUf6gZ#Newzroom405 pic.twitter.com/enpj0vhwuk
— Newzroom Afrika (@Newzroom405) February 14, 2024
ActionSA Oos-Kaap se voorsitter het gesê dit bevestig hoe uit voeling hierdie “skelm kamerade” is en sê Lucas behoort haar te skaam.
Ook die DA-parlementslid Leon Schreiber het Lucas se opmerking betreur. Hy sê beurtkrag het ’n reuse impak op Suid-Afrikaners se lewens.