Die Suid-Afrikaanse humanitêre groep Gift of the Givers het nog vier helikopters na Mosambiek gestuur om vasgekeerde inwoners by te staan na sikloon Idai die streek getref het.
Sowat 700 mense is dood en duisende in Mosambiek, Malawi en Zimbabwe is haweloos gelaat. Die stigter van Gift of the Givers, Imtiaz Sooliman, sê hulle werk nou saam met die Suid-Afrikaanse weermag om mense by te staan.
Duisende mense is nog in oorstroomde gebiede gestrand sonder toegang tot water of mediese dienste. Dokters in die Mosambiekse stad Beira het al ’n menigte mense behandel vir diarree, een van die vroeë simptome van cholera. Intussen het die onvermydelike ook reeds gebeur in die nasleep van die sikloon Idai toe dié dodelike siekte in die omgewing van die Mosambiekse hawestad Beira uitgebreek het. Tientalle siek en swak mense daag daagliks by ’n kliniek in Beira op.
Gesondheidsbeamptes is ook op ’n gereedheidsgrondslag vir gevalle van ingewandekoors en malaria. Die direkteur van die Wêreldvoedselprogram, David Beasley, sê Mosambiek gaan nog vir ’n hele ruk hulp benodig. Hy wys daarop dat dit byna oestyd in die land was en al daardie oeste het weggespoel. Volgens hom is ’n hele jaar se kosvoorraad vernietig.
’n Suid-Afrikaner wat in Maputo woon, Louis Grobbelaar, het aan Netwerk24 gesê volledige nedersettings is weggevee en hy meen dat die dodetal in Mosambiek na die verwoestende sikloon baie hoër is as wat enige iemand besef.
Gift of the Givers is die grootste nie-regeringsorganisasie in Afrika wat al aan duisende mense in verskeie lande hulp verleen het, ongeag hulle ras of geloof. Die organisasie het sy ontstaan gehad in opdrag van ’n Moslem Sufi Sheik, Muhammed Saffer Effendi al Jerrahi, wat ’n spirituele leier in Istanbul, Turkye is.
Sedert hul stigting op 6 Augustus 1992 het Gift of the Givers verskeie lewensreddingsprojekte onderneem. Die hulp wat hulle tot dusver in 43 lande verleen het wissel van mediese spanne, inentings teen siektes, mediese toerusting asook kos en water vir miljoene mense op die vasteland.
Vroeër vanjaar het Gift of the Givers ook vragmotors met gebottelde water verskaf aan verskeie droogtegeteisterde gebiede in Suid-Afrika, onder andere in die Kannaland munisipale distrik in die Klein-Karoo asook ander dorpe.
Gift of the Givers het ook al boere wie se vee weens die droogte vrek met vragte vol voer gehelp. Tydens die huidige droogte in Makhanda (Grahamstad) het hulle boorgate in verskillende dele van die stad geboor. Altesaam 100 watertenks wat Gift of the Givers as borgskap ontvang het, het ook vroeër die maand in die dorp aangekom.
Buro: NB