Die Stormkaap het die afgelope naweek sy naam gestand gedoen toe ’n verwoestende storm die stad en omliggende gebiede getref het.
Die gure weerstoestande het verwoesting in die Wes-Kaap gesaai en die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) moes ’n vlak 9-waarskuwing uitreik vir skadelike winde en reën in baie dele van die provinsie. Ander provinsies, onder andere Noord-Kaap, Oos-Kaap, KwaZulu-Nata, Vrystaat en Noordwes, het ook gedurende die naweek weerwaarskuwings ontvang.
Stad Kaapstad en die provinsiale regering in die Wes-Kaap het hul hande vol gehad om die impak van ’n strawwe weerstelsel te hanteer. Bome is ontwortel, huise se dakke het afgewaai en miljoene rand se skade is aangerig.
Capetown Wind is crazy man ???????????? pic.twitter.com/NeDBhEZfCF
— JAMMIE ®️ (@JamesChego9) April 7, 2024
Die SAWD het die naweek eers ’n vlak 6-stormwaarskuwing uitgereik wat na vlak 9 opgegradeer is. Die waarskuwing het vir ’n gebied gegeld wat strek vanaf die Suid-Kaap, Beaufort-Wes, Overberg en Kaapse Wynlande tot by Namakwaland in Noord-Kaap. Dit is Maandag afgeskaal na ’n geel vlak 4-waarskuwing vir skadelike winde in die Wes-Kaap en Namakwaland.
Yellow level 4 warning: Damaging winds: Western Cape and Namaqua: Monday 8 April 2024 pic.twitter.com/k8tzLrg6MA
— SA Weather Service (@SAWeatherServic) April 8, 2024
’n Veiligheidswag is dood nadat ’n boom ontwortel is en op hom geval het in die Paarl. Die hoofdirekteur van rampbestuur in die Wes-Kaap, Colin Deiner, sê die man was op patrollie by die plaas Diemersfontein toe ’n sterk wind die boom ontwortel het.
Die Hugenote-tonnel op die N1 buite die Paarl is Maandag weer vir alle verkeer in albei rigtings oopgestel nadat die padagentskap Sanral die tonnel die naweek gesluit het weens sterk wind op die brug by die tonnel. Sanral sê ten spyte van die voortgesette gure weetoestande het die nooddienste daarin geslaag om ’n voertuig te verwyder wat omgewaai en die pad versper het. Die tonnel is teen laat Sondagaand vir ligte voertuie oopgestel en teen Maandagoggend vir alle voertuie.
Oh Sheeit! Wind blows truck off bridge! This looks like the bridge before the huguenot tunnel to Worcester. pic.twitter.com/DnS8elELlF
— Kidddo (@KiddoOnFire) April 7, 2024
Skole in die Helderbergkom by Somerset-Wes en omgewing was Maandag gesluit weens die gure weer, en talle bly vandag nog gesluit.
Die nieregeringsorganisasie Gift of the Givers het versoeke vir bystand vanuit 20 gebiede binne verskillende munisipaliteite ontvang na die sterk winde en reën die Wes-Kaap. Gift of the Givers het ook gereageer op drie brande oor die Paasnaweek in Langa, Du Noon en Mfuleni, gevolg deur ’n brand in KTC (Nyanga) en Kayamandi (Stellenbosch) nadat oproepe van die Wes-Kaapse provinsiale regering en die provinsie se rampbestuur gekom het om bystand vir ’n vlak 9-ingryping.
Die organisasie sê ’n kombinasie van veranderende weerpatrone, menslike foute, sterk winde en substandaard lewensomstandighede oor baie jare het in tragedie, pyn en lyding in Suid-Afrika gemanifesteer.
Gauteng-spanne van Gift of the Givers is ook na die vloedgeteisterde Kroonstad in die Vrystaat ontplooi. Die Oos-Kaap het ook hulp gevra en verwag oorstromings in Graaff-Reinet, Maraisburg en ’n wye gebied regoor die provinsie.
Gift of the Givers het op Facebook gesê hulle ontvang geen hulpbronne van die regering om in wese uit te voer wat die regering se verantwoordelikheid teenoor sy burgers is nie.
“Tesourie-begrotingsbeperkings is ’n uitdaging. Die welwillendheid van gewone Suid-Afrikaners, die skarebefondsingsplatform BackaBuddy en maatskappye se KMB-afdelings het Gift of the Givers gehelp om hoop te bring vir honderde duisende van ons geaffekteerde burgers, baie in substandaard, rioolbesoedelde, water- en afvalgeïnfiltreerde informele nedersettings.”
Die organisasie sê in die meeste gevalle is dit die kwesbares met minimale lewensbesittings wat die swaarste getref word.
Gift of the Givers het ’n beroep op die regering gedoen om weer na wetgewing te kyk wat sy verskillende departemente toelaat om toegang tot fondse te verkry en dit onmiddellik na ’n ramp aan te wend.
“Ons doen ook ’n beroep op lede van ons gemeenskap wat met geluk bedeel is om te reageer op die behoeftes van diegene wat minder bevoorreg is. Ons bou positiewe menseverhoudings deur sulke pogings. Dit is wat ons menswees, wat ’n integrale deel van Suid-Afrikaanse DNS is, van ons eis,” het Imtiaz Sooliman, Gift of the Givers se stigter, gesê.
Diegene wat die huidige rampinisiatiewe wil ondersteun, kan dit doen deur bydraes te stuur aan Gift of the Givers, Standard Bank, rekeningnommer 052137228, takkode 051001, verwysing “Disasters”.
Skenkers kan bewyse van betaling aan donations@giftofthegivers.org stuur om ’n artikel 18A-belastingaftrekbare sertifikaat te bekom.