Die omstrede minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, weier om aanspreeklikheid vir sy dade te aanvaar en dreig dat die poppe sal dans as hy uit die ANC geskop word.
Gigaba is weens verskeie redes onder skoot waarvan die seksvideo van homself waarskynlik een van die minste van sy probleme is.
Hy het in ’n onderhoud met die Zulu-koerant Isolezwe gesê hy het in die ANC grootgeword en met klaarblyklike verwysing na Julius Malema van die EFF gesê hy is nie van plan om die ANC te verlaat en sy eie party te stig nie. Hoewel hy Malema nie by die naam genoem het nie, was dit ’n duidelik verwysing na hom nadat Malema hom die vorige dag in die parlement gespot het oor sy seksvideo wat uitgelek het tot groot verleentheid van die minister.
“Ek sal nooit die ANC verlaat nie, dit sal slegs gebeur as ek deur iemand verwyder word; en selfs dan sal ek niks sê nie, maar lê en mense toelaat om oor my te loop,” het die minister homself verweer.
Hy het egter terselfdertyd gedreig dat die hel sal losbars as iemand aan hom raak omdat daar mense in die ANC is wat saam met hom in die party opgegroei het en hom ten alle koste sal beskerm. Sommige mense beskou dit as ’n bedekte dreigement aan president Cyril Ramaphosa om hom nie af te dank as minister nie.
Gigaba moes die afgelope maande telkens vir sy paaltjies keer en probeer om sy tanende reputasie te red namate die strop om sy nek al hoe stywer trek.
Die jongste aantygings teen hom wat dreig om sy loopbaan te sink, is ’n uitgelekte verslag van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings. In die verslag is bevind dat hy ’n aandeel gehad het in staatskaping onder oud-president Jacob Zuma se bewind. Volgens Gigaba is dit egter alles deel van ’n sameswering teen hom. Die uitlek van die verslag is volgens hom deel van “’n weldeurdagte plan” om sy naam te beswadder sonder dat hy die geleentheid het om daarop te reageer.
Business Day het vroeër die week berig Gigaba en die voormalige minister van openbare werke, Lynne Brown, tel onder die 44 mense en 25 maatskappye wat volgens die verslag glo ’n aandeel in staatskaping het.
Vir Gigaba self is die seksvideo van hom wat oor die hele wêreld versprei, skynbaar ’n groter verleentheid as die bewerings van korrupsie en oneerlikheid wat teen hom gemaak word. Hy het hom tydens die afgelope week se parlementsitting so vererg vir opposisielede wat hom gespot het oor die video waarin sy privaatdele ten toon gestel word, dat hy ’n handgebaar aan parlementslede gewys het wat vertolk kan word asof hy gespot het dat hulle nie so wel bedeeld soos hy is nie, toe hy met sy pinkie in die lug gewys het.
Hiervoor het die minister later onvoorwaardelik om verskoning gevra op Twitter. Hy het die spanning van die afgelope paar weke as rede aangevoer, maar gesê dit is geen verskoning vir sy gedrag nie.
I apologise, unreservedly, for this gesture. The petty taunts that provoked it and the strain I have been taking, over the past 10 days, are no excuse for my indiscretion which is perfectly summed-up in this tweet by @SpheDludla. https://t.co/Gqko6q5fG2
— Malusi Gigaba (@mgigaba) November 7, 2018
Vroeër is Gigaba ook deur die hof daaraan skuldig bevind dat hy gelieg het oor die goedkeuring aan die Oppenheimer-familie om ’n BBP-terminus by die OR Tambo-lughawe te bedryf.
Buro: NB