’n Reuseverwelkoming word Donderdag 14 Oktober vir Jacob Zuma in KwaZulu-Natal gehou nadat hy onlangs op mediese parool vrygelaat is.
Die verwelkoming by die People’s Park in eThekwini naby die Moses Mabhida-stadion word as ’n verwelkomingsbiddag geadverteer. Die organiseerders sê egter omdat Zuma ’n politikus is, sal die program ook ’n politieke sessie insluit wat nog gefinaliseer moet word.
Dit is nog nie duidelik of Zuma self daar sal wees om die skare toe te spreek nie. Dit hang glo af van die voorwaardes van sy parool en sy gesondheid.
Die Jacob Zuma-stigting, wat die geleentheid reël, sê in ’n verklaring almal is welkom om die geleentheid by te woon en geen akkreditasie is nodig nie.
National Welcome Prayer for H.E President Zuma is ON, for the 14th Oct 2021.
Everyone is welcome.
Please put on your masks and observe social distancing.
No accreditation required.#AfricansUnite#WenzenuZuma pic.twitter.com/IYG2zK2PXD— JGZuma Foundation (Official) (@JGZ_Foundation) October 8, 2021
Hulle beweer “God se atmosfeer sal seker maak dat die koronavirus weggewaai word en nie tydens die geleentheid oorgedra word aan die teenwoordiges nie.”
Die Zuma-stigting sê in hulle verklaring die gebedsdag gaan daaroor om God te dank vir die uitstaande werk wat Hy tot dusver gedoen het om Zuma te beskerm. Die gebedsdag sal ook vra dat God sal voortgaan om Zuma veilig te hou van die “donker magte wat hom wil vernietig”.
Volgens die uitnodiging na die geleentheid is Zuma ’n simbool van die onderdrukking van Suid-Afrika se mense. Verskeie kerke van alle denominasies, Afrika-spiritualiteite en tradisionele leiers sal hom met hulle gebede verwelkom.
“Sy Eksellensie president Zuma is geliefd onder die oorweldigende meerderheid Suid-Afrikaners en almal was baie bekommerd tydens sy aanhouding dat iets vreeslik met hom kon gebeur in die tronk,” lui die stigting se verklaring.
Die stigting sê Suid-Afrikaners het nie vergeet dat Zuma pogings om hom te vergiftig oorleef het nie. Die land se mense treur glo steeds omdat hulle held, ’n ware vryheidsvegter en ’n man wat kosbare tyd saam met sy familie moes opoffer, ’n onregverdige slag toegedien is deur die demokrasie waarvoor hy so hard moes veg.
Die stigting kry ook ’n paar stewige houe in na die land se regstelsel en spesifiek die Konstitusionele Hof, wat Zuma tronk toe gestuur het. Diegene wat hulle daarvoor beywer dat Zuma sy volle tronkstraf uitdien, word as regse organisasies bestempel.
Ook Zuma se onbekende mediese toestand word bygesleep. Sy stigting sê dit was ’n sober besluit deur die kommissaris van korrektiewe dienste om hom op mediese parool vry te laat.
Volgens die stigting is daar ’n algehele wantroue in die land teenoor Zuma wat in die publieke psige deur die hoofstroommedia aangeblaas word. Dit kan glo teruggevoer word na die hof in Pietermaritzburg wat nie wou glo dat die mediese sertifikaat wat deur Zuma se regsverteenwoordigers ingedien is, goed genoeg was nie.
Die stigting sê dit is teen hierdie agtergrond dat Donderdag se byeenkoms plaasvind. Hulle is daarvan oortuig Zuma se werk om die land se mense werklik te bevry, is nog nie afgehandel nie. Hulle sê die land is ’n diep verdeelde wrak en daar word na Zuma opgekyk om dit te herstel.
Die Zuma-stigting het ook op Twitter begin om die dae af te tel tot Donderdag se byeenkoms.
2 more sleeps then we sing "Thina Sizwe....." https://t.co/YD8Wj6kBTJ
— JGZuma Foundation (Official) (@JGZ_Foundation) October 12, 2021
Intussen gons dit onder baie Suid-Afrikaners of Zuma self sy opwagting gaan maak en of sy paroolvoorwaardes dit toelaat dat hy skares mag toespreek.
Zuma het reeds aangedui dat hy kiesers in KZN aanraai om in die komende munisipale verkiesing vir die ANC te stem. Volgens die stigting se woordvoerder, Mzwanele Manyi, sal die oudstaatshoof mense in die provinsie aktief bearbei om vir die ANC te stem. Zuma se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, het volgens Moneyweb gesê haar pa het niemand se toestemming nodig om stemme vir die ANC te werf nie en dat hy onwettig toegesluit was.