.....
"Die gevolg is die grootskeepse vergrype van godsdienste, wat mense medepligtig aan moord maak deur ’n hoofregter te laat praat van entstowwe wat DNS verander, of te laat verkondig die virus is ’n sekulêre komplot deur Bill Gates en dat hy hulle lewens nog meer gaan beheer as wat sy rekenaars reeds doen."
.....
Was 31 Desember die einde van ’n dekade, of van die eerste jaar van ’n nuwe een? En gaan dit ’n nuwe roaring twenties inlui, soos 100 jaar gelede toe oorlog, Grote Griep en dranktaboes moes opsy staan vir ’n nuwe waardering vir pret en plesier (kom hier in met Gershwin se “Rhapsody in blue” asseblief). Dis die soort vrae waarmee ’n mens jou besig hou terwyl jy maak of jy op vakansie is met net jou selfoon as hulp.
Maar daarvan gepraat, wáár die jaar haar ook al wil laat klassifiseer, dit bly ’n fenomenale tyd vir die wetenskappe – 2020 is die jaar toe die SARS-CoV’s hulself tot wêreldheersers gekroon het, maar ook toe ’n entstof ’n tiental maande later vir die eerste keer in iemand se arm gespuit is. Hoewel die koronavirusse en navorsing op hulle reeds lank met ons is, bly dit ’n uitsonderlike prestasie van veerkragtigheid en samewerking, veral as ’n mens in ag neem dat die vorige “rekord” vier jaar was, in die geval van pampoentjies.
Maar dit was nie al nie. Ander wetenskaplike prestasies het voortgerol. China gaan vanjaar klippe karwei van die maan af, die eerste keer in 40 jaar. Vroeg in die jaar gaan die Perseverance-snuffelaar suurstof maak uit die atmosfeer van Mars, of so is die plan met die tuig wat in Julie gelanseer is en nog op pad soontoe is. ’n Ander tuig het “kampvuurtjies” op die son ontdek, spikkeltjies waar dit nog warmer is as kamertemperatuur daar, 5 600 grade Celsius.
Dieper in die heelal staan die aantal botsings deur ontsaglike kosmiese voorwerpe waarvan die gravitasiegolwe deur die nuwe Ligometer aangeteken is, op drie dosyn en meer. Een so ’n gebeurtenis was twee neutronsterre wat mekaar miljarde jare gelede opgevreet het en … verdwyn het. Teen alle verwagtinge en voorspellings in. Daar is nou net ’n groot swart gat. Belangrike ontdekkings oor swart gate in 2020 alleen tel meer as 10, en wanneer dit kom by eksoplanete, of swerwers soortgelyk aan ons sonnestelsel s’n, het nuwe ruimtetuie en teleskope al byna 3 000 ontdek.
Hoe hou ’n mens by? Op aarde is ’n stelsel van ongeveer drie miljoen termometers in satelliete besig om aardverwarming te monitor; onder die aarde is dit dieselfde magdom inligting wat opbruis soos lawa uit vulkane. In ’n ambisieuse projek genaamd ArcheoGLOBE is al die kennis van sowat 700 argeologiese spesialiste saamgevoeg in ’n databasis wat in 2019 aan die publiek geskenk is. Een gevolgtrekking is dat aardverwarming etlike duisende jare gelede begin het, so omvangryk was landboupraktyke toe alreeds.
Hierdie projek is van stapel gestuur omdat argeoloë begin besef het geeneen van hulle is menslik in staat om ’n greep op alle kennis in hul veld te kry nie. Dit geld natuurlik vir alle gebiede in die wetenskappe. Sommige stukke navorsing is lank nie meer moontlik sonder masjiene nie, waarvan sommige groter is as die CERN-versneller in Switserland, wat so wyd soos die stad Genève is. Of sonder kunsmatige intelligensie wat in baie gevalle so wyd as die aardbol en sy wolk satelliete is nie.
.....
"Die wetenskappe raak deel van hierdie onsekerheid wanneer dit misbruik word uit wanbegrip, of selfs wanneer ons dinge korrek verstaan, want menslike begrip is geen waarborg vir die waarheid nie. Godsdiens, die groot bedrieër, sal altyd na vore tree om die gaping te vul, en genoeg mense sal hulle willens en wetens daaraan onderwerp, genoeg om ander mense se lewens op die spel te plaas, en uiteindelik die voortbestaan van die mens self. Dis die tragedie van homo sapiens."
.....
Dit het diep filosofiese implikasies. Een hiervan, het Hannah Arendt in die 1950’s in The human condition geskryf, is dat die mens nie in staat is om ’n sterk genoeg greep op die waarheid te hê nie. Sy skryf dat die moderne era ingelui is deur die ontdekking van Amerika, die Hervorming en die teleskoop. Laasgenoemde het alles verander omdat dit finaal bewys het dat die mens nie meer die middelpunt van enigiets is nie – trouens dat daar geen middelpunt meer is nie.
Maar die teleskoop se mees invloedryke aspek is dat dit ’n instrument is. Voorheen moes die mens op sy sintuie staatmaak (Arendt het die word “mens” nog as manlik gebruik), maar die wetenskappe, gebou op Descartes se de Omnibus dubitandum est (“Alles moet betwyfel word”), het gewys hoe onbetroubaar ons sintuie is. Haar filosofie is gegrond op ’n analise van werk en aksie: Die enigste manier waarop ons ons verganklikheid en verswelging deur die siklus van produksie en verbruik kan oorkom, is deur ’n omringende wêreld van blywende objekte te skep, as homo faber, die dierespesie wat dinge maak.
Die moderne mens is onderworpe aan twee verstrengelde nagmerries, het sy geskryf. Die eerste is dat alles om ons onwerklik is of net vlugtig bestaan, en dat die wese van dinge (Being) die mens aktief flous met voorkomste en aangesigte wat hy nie onmiddellik sonder sy instrumente kan peil nie. Teen Arendt se dood in 1975 was dit inderdaad wat kwantummeganika aan ons begin doen het: Op ’n sekere vlak kan ons niks meet sonder dat dit in iets anders verander nie.
Omdat ons gewoond is om te wag dat dinge aan ons onthul word, en nie kan hoop op veel meer as om hulle op heterdaad te probeer betrap met ons instrumente en werktuie nie, is ons ontvanklik vir enigiets waaraan ons net hoef te glo. Dis veel minder moeite as om homo faber te speel. So ontstaan die tweede nagmerrie dan, dat hierdie gedurige geflous dit laat lyk of die een of ander nydige krag of gees, ’n dieu trompeur (“bedrieglike god”), die wêreld beheer eerder as die stilswyende, passiewe opperwese waaraan die meeste mense glo hulle glo.
Die gevolg is die grootskeepse vergrype van godsdienste, wat mense medepligtig aan moord maak deur ’n hoofregter te laat praat van entstowwe wat DNS verander, of te laat verkondig die virus is ’n sekulêre komplot deur Bill Gates en dat hy hulle lewens nog meer gaan beheer as wat sy rekenaars reeds doen.
Die mens het geen sekerheid oor sy hede, verlede of toekoms nie. Arendt haal vir Archimedes aan wat gesê het: “Gee my ’n plek om te staan en ek sal die aarde met ’n hefboom verskuif.” Die mens het geen so ’n plek om te staan nie; al is die hefboom hoe groot, hy is gebonde aan die aarde en sy eie biologiese benodigdhede.
Die wetenskappe raak deel van hierdie onsekerheid wanneer dit misbruik word uit wanbegrip, of selfs wanneer ons dinge korrek verstaan, want menslike begrip is geen waarborg vir die waarheid nie. Godsdiens, die groot bedrieër, sal altyd na vore tree om die gaping te vul, en genoeg mense sal hulle willens en wetens daaraan onderwerp, genoeg om ander mense se lewens op die spel te plaas, en uiteindelik die voortbestaan van die mens self. Dis die tragedie van homo sapiens.
Buro: MvH