Kerkgenootskappe in Suid-Afrika is verdeeld oor die vraag of daar ’n verbod moet wees op godsdienstige byeenkomste om die verspreiding van COVID-19 te probeer bekamp.
Kerkbyeenkomste word beskou as een van die potensiële superverspreiders van die virus. Verskeie godsdienstige leiers, onder andere die moderator van die NG Kerk, Nelis Janse van Rensburg, het die verbod as drasties maar noodsaaklik bestempel toe president Ramaphosa dit einde Desember heringestel het nadat ’n tweede vlaag van die virus die land getref het.
’n Groep godsdiensleiers het hulle egter nou tot die hof gewend om die verbod op godsdienstige byeenkomste tydens die staat van inperking ongeldig te verklaar.
Freedom of Religion South-Afrika (For SA) sê in ’n verklaring die verbod kom neer op onbillike diskriminasie en maak inbreuk op mense se grondwetlike reg om hulle godsdiensvryheid uit te oefen.
Die organisasie het Maandag hofstukke ingedien om die verbod nietig te laat verklaar. Die Christian Leaders Forum South Africa het ook reeds die hof versoek om die betrokke regulasies ongrondwetlik te verklaar. Die aansoeke word op 2 Februarie in die Johannesburgse Hooggeregshof aangehoor.
Volgens For SA behoort godsdienstige werkers ook erken te word as essensiële werkers wat ’n noodsaaklike diens verrig. Hulle beweer verder dat godsdienstige byeenkomste geen groter bedreiging vir mense se gesondheid inhou as enige ander byeenkoms wat toelaatbaar is nie, byvoorbeeld by restaurante, filmteaters en casino’s.
AfriForum en Solidariteit Helpende Hand het hulle by die twee groepe aangesluit. Hulle het Woensdag die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg op ’n dringende grondslag genader om die verbod op godsdienstige byeenkomste tersyde te stel. Hulle sê in ’n verklaring die Begrond-instituut en individuele gemeentes van verskeie kerke vorm ook deel van dié aansoek.
| MEDIAVERKLARING |
.@AfriForum en Solidariteit Helpende Hand nader hof oor verbod op godsdienstige byeenkomste https://t.co/am2V85Plo1
— AfriForum (@afriforum) January 27, 2021
AfriForum en Helpende Hand sê hulle is van mening dat die betrokke regulasies inbreuk maak op burgers se reg op geestelike welstand. In hul hofstukke vra dié twee organisasies dat die verbod tersyde gestel word om godsdienstige byeenkomste toe te laat mits daar aan die nodige riglyne voldoen word. Alternatiewelik vra die organisasies dat godsdienstige byeenkomste toegelaat word met beperkinge wat nie strenger is as dié van teaters, casino’s, gimnasiums en restaurante nie.
“Dit is verregaande dat casino’s, rolprentteaters, gimnasiums en ander instellings toegelaat word om onder sekere voorwaardes bedryf te word, maar lidmate van kerke word verbied om dienste by te woon. Dit is burgers se volste reg om hul geloof vry en sonder vrees te beoefen. Ons voorouers het baie opgeoffer om hul geloof volgens eie oortuiging te kan beoefen; ons kan nie toelaat dat gelowiges dié reg eensydig deur die owerheid ontneem word nie,” sê Monique Taute, hoof van Veldtogte by AfriForum.
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê dit was van die begin af duidelik dat ’n maatskaplike krisis op die ekonomiese krisis sou volg. “Die maatskaplike krisis het reeds begin. ’n Mens kan egter nie só ’n krisis hanteer sonder om mense geestelik te voed en te versterk nie, en die kerke speel ’n prominente rol daarin, ongeag die kerk se denominasie.
“Ons besef mense moet veilig en verantwoordelik wees, kerke ook, maar kerke moet die vryheid hê om sonder vrees vir die regering te kan kerk hou of self te besluit. Hulle moenie die regering vrees nie. Kerkrade en -besture is verantwoordelik genoeg om veilig en versigtig byeen te kom [...]. Die regering moenie die mag hê om te besluit of kerke oop of toe is nie,” sê Noëth.
Christa MacLennan het op Twitter gesê sy is ’n lid van AfriForum, maar hierdie keer is hulle verkeerd. “Dit is in die middel van ’n Covid-pandemie en as die regering ’n verbod plaas op byeenkomste waar baie mense saamdrom behoort kerke ook ingesluit te word.”
Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), wat verskeie hoofstroomkerke verteenwoordig, het verlede maand ná Ramaphosa se aankondiging gesê kerke mag dalk nie hou van die verbod nie, maar hulle kan nie as ’n alternatiewe gemeenskap optree nie.
Die SARK het voor Ramaphosa se laaste toespraak ook gevra dat godsdiensbyeenkomste weer toegelaat word, maar het na die President se aankondiging gesê kerke is nie gevrywaar van die land se wette nie en moet die besluit gehoorsaam. Hulle het egter bygevoeg dit lei tot rebelsheid by mense as restaurante oop mag wees maar nie kerke nie.