Godzille, tuimeldroërs en kokosneute

  • 0

Manchester City het verlede week Engelse sokker se “dubbel” behaal: eers die Premier League se kampioenskap en toe Saterdag die FA Cup. Een van die spelers wat die dorp rooi geverf het, of in hierdie geval daardie seperige blou, is Kevin de Bruyne.

Of het hy?

De Bruyne, ook lid van België se kookwaterspan, se bynaam is Tuimeldroger, weens die flegmatiese manier waarop hy boodskappe op sosiale media beantwoord. Tog is hy ook bekend vir ’n sekere opvlieëndheid, nader aan sy ander bynaam, die “Gemmer Pele”, na die voormalige Brasiliaanse superster. In ’n vroeër wedstryd het hy van die veld af gehardloop, reguit kleedkamer toe nadat City se afrigter, Pep Guardiola, hom te vroeg na sy sin afgehaal het. Die sosiale media het vlamgevat soos ’n skeut spiritus op ’n lui konkavuur: Het hy dan nie die reëls oortree nie? Hy en Pep moes op ’n perskonferensie verduidelik.

In ’n onderhoud daarna het De Bruyne vertel hoe moeilik sokkerspelers dit vind om hul emosies te hanteer. Tientalle kameras is op hul gesigte, deesdae ook van hommeltuie af. Jy kan De Bruyne se sproete op  ’n skermgreep tel, so goed is die gehalte. Die feit dat hulle ’n persona moet opsit wat nie ’n spier vertrek wat verkeerd vertolk kan word nie, maak dat wêreldbekende mense soos hy robotte moet wees, vertel De Bruyne.

Siestog, wil ’n mens sê, wat ’n ou nie alles moet doen om ’n stadion vol euro’s en ’n werk te kry waarin jy die heeldag met jou maatjies speel nie. Maar hy is nietemin ’n slagoffer van “surveillance capitalism”, soos Shosana Zuboff dit noem in haar magistrale, baanbrekende boek The Age of Surveillance Capitalism: the fight for a human future at the new frontier of power. ’n Stelsel waarvan ons almal slagoffers is, en dit word skerp toepaslik vir ons in Suid-Afrika wanneer sy van ’n nuwe kolonialisme praat.

Een van die gebruikers van sosiale media wat haarself beslis nie as ’n slagoffer beskou nie – inteendeel – is Helen Zille; ook nie as ’n robot wat in vrees lewe vir die volgende openbare skande nie. Sy was óók verlede week in die nuus, maar weens ’n pos op Twitter waarin sy sê swart bevoorregting het tot staatskaping gelei.

Wanneer Zille op Twitter kwaak, is daar gewoonlik ’n koor van ewe luide eende wat reageer, en skryf die hoofstroommedia sonder uitsondering daaroor. Laasgenoemde is lank nie meer wat dit was nie, en een van die baie reëltjies wat skrywers van koppe (opskrifte) oortree, is om die woord “weer” in artikels oor Zille te gebruik. Zille “did it again”, “is still at it”, “is back to”. (Die reël bestaan omdat subredakteurs nie sonder meer kan aanneem dat die leser van ’n bepaalde item kennis dra van die vorige geval nie.)

Dit dui op ’n frustrasie met die inhoud van haar twiets, maar ook op ’n ergerlike ongeduld dat sy dan nie wil luister nie, nie wil verander nie. Haar teenstanders in haar twars (twoorloë?) voel sy moet hulle gehoorsaam, die knie buig, want hulle het haar mos verkeerd bewys. Maak soos De Bruyne, wil hulle hê: Bely jou afwykings en vra verskoning op ’n perskonferensie, waar miljoene mense jou trane kan opvang en vir die museum van die revolusie kan bewaar.

Godzille, soos sy gedoop is, is die meeste bekend vir haar reeks twiets oor die voordele van die kolonialisme, en dis hier waar Zuboff weer ter sprake kom. Zuboff vergelyk die internetrevolusie met die inval van die Amerikas deur die Spanjaarde. Hulle kon goud en silwer plunder en myne sink wat vandag nog groot opbrengste vir buitelandse maatskappye lewer. Dit kon gebeur omdat die inboorlinge geen idee gehad het van die kapitalistiese krag wat die minerale onder hul voete het nie.

Net so kon die groot internetmaatskappye (Google, Facebook, YouTube) gewone mense se kommunikasiekapitaal ontgin omdat hulle min benul gehad het van die omvang van die internetrevolusie en sy nuwe ekonomiese moontlikhede. Die gevolg is monopolieë soos Twitter en Facebook. Deur die briljante skuif om alles verniet te laat gebruik, en sosiale media onvervangbaar in ons lewens te maak, word miljarde van ons almal voorberei vir ontginning van ons data sonder enige opbrengs vir onsself, maar belangriker nog, vir verstrikking in produkte waaruit ons nie kan ontsnap nie.

Helen Zille in 2011 (Foto: The Democratic Alliance [CC BY-SA 2.0], via Wikimedia Commons)

Zille is heftig aangeval omdat sy durf sê het dat die kolonialisme in Suid-Afrika nie net sleg was nie. Daar is min twyfel dat sy nie die hedendaagse diskoers rondom konvensionele kolonialisme onder die knie gehad het nie, maar die groot ironie, binne Zuboff se ontleding, is dat die jongste neokoloniale media op neokoloniale toestelle soos selfone en rekenaars gebruik is om haar aan te val.

Twitter is neokoloniaal omdat dit gebruikers intrek in ’n ekologie van nuus met Eurosentriese maatskappye soos CNN, die BBC en die Reuter/AFP/AP-klos as die sentrum. Hoewel veral laasgenoemde meestal objektiewe harde nuus lewer, het vele studies al gewys hoe mediamaatskappye se strukture en beleid die plaaslike marginaliseer, veral die legioene van armes. Facebook weer voer ’n Amerikaanse tienersentriese narsisme in, en die maniere waarop dit die hoofstroommedia vermink het, word as ’n triomf vir kapitalistiese entrepreneurskap beskou.

Vir swart mense is dit net nog ’n verdere ingrawing van “witheid”, en van hul status as “kokosneute”, swart van buite maar wit van binne.

In verlede week se rel rondom Zille was die konsensus onder een groep respondente dat om hoegenaamd van swart bevoorregting te praat, rassisties is. Sulke herhaaldelike uitsprake, by die duisende, skep ’n atmosfeer van sensuur en inhibisie, en is op sy beurt weer ’n geval van die intellektuele kolonialisme waaronder veral dele van die Suid-Afrikaanse akademie ly, deur sterk sosiale-media-gedrewe Amerikaanse kampusbegrippe heelhuids in te voer sonder die geringste aanpassing by plaaslike omstandighede.

Die waarheid is dat ons almal in die Suid-Afrikaanse middelklas, wit of swart, voordeel trek uit bevoorregting wat in wette neergelê is, hetsy in die verlede of onlangs. Die bewys daarvoor is dat enigiemand wat aan die “debat” deelneem, bevoorreg genoeg moet wees om die toestelle en ook die data te bekostig. SEB – swart ekonomiese bemagtiging – en die drang na die maksimum opbrengste toe selfoonmaatskappye in Suid-Afrika gestig is te midde van ’n publiek wat salig onbewus was van die goud in hul ore, het veroorsaak dat Suid-Afrikaanse data van die duurste ter wêreld is.

Data wat so duur is dat die meeste Suid-Afrikaners uit die openbare debat uitgesluit is. Hulle is net nog meer arm “inboorlinge” – meestal swart, maar met al meer wit gesigte – wat gekoloniseer is deur die bevoorregtes met hul oombliklike bande met die sentrum van mag, waar dit ook al is.   

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top