Goedkoper brandstof in sig na Kersfees

  • 0

Suid-Afrikaners wat met vakansie is, kan uitsien na ’n aansienlik goedkoper terugrit huis toe as hulle tot volgende jaar wag voordat hulle huiswaarts keer.

Brandstofpryse kan in die nuwe jaar met soveel as R2,80 verlaag word, wat ’n welkome verligting sal wees vir motoriste wat vanjaar behoorlik moes opdok as hulle nie met Jan Tuisbly se karretjie ry nie.

Weeklikse data van die Sentrale Energiefonds (SEF) toon dat motoriste in Suid-Afrika die nuwe jaar sal ingaan met ’n baie laer petrolprys – en ’n selfs groter verlaging is op die kaarte vir diesel.

Volgens die SEF se data vir 16 Desember 2022 kan motoriste ’n petrolprysverlaging van sowat R1,93 per liter in Januarie 2023 verwag, terwyl diesel met soveel as R2,83 per liter kan daal.

Die brandstofpryse word gewoonlik op die eerste Woensdag van ’n maand aangepas en word bepaal deur die prys van olie en die rand-dollar-wisselkoers.

’n Versterking van die rand, wat van R17,38 ’n week gelede tot R17,30 Dinsdag verbeter het, sal laer brandstofpryse aanhelp.

Namate verkeersvolumes regoor die land toeneem, het die Outomobielvereniging (AA) intussen weer ’n beroep op motoriste gedoen om ekstra versigtig te wees op paaie, en om versigtig te bestuur veral wanneer hulle in slegte weerstoestande ry.

Die Vereniging sê in ’n verklaring hy neem kennis van ’n gerapporteerde toename in voertuigongelukke in verskeie provinsies en waarsku dat tensy padgebruikers die padreëls gehoorsaam, hierdie voorvalle ongelukkig sal voortgaan om onverpoosd gedurende die feestyd voor te kom.

“Hierdie tyd van die jaar word ongelukkig altyd gekenmerk deur ’n aansienlike toename in verkeersongelukke wat tot baie sterftes lei. Terwyl verkeerswetstoepassing gedurende hierdie tydperk verskerp word, sal hierdie pogings alleen nie ’n betekenisvolle verbetering in padveiligheid tot gevolg hê nie. Swak bestuurdergedrag is die hoofoorsaak van ongelukke en sterftes op Suid-Afrikaanse paaie, en tensy alle padgebruikers – bestuurders, passasiers, dié op motorfietse, fietsryers en voetgangers – verantwoordelikheid vir hul optrede aanvaar, sal ons land se haglike padveiligheidsituasie eenvoudig nie verbeter nie,” merk die Vereniging op.

Die AA sê saam met padgehoorsaamheid moet padgebruikers geduldig en hoflik wees en moet hulle ’n voorbeeld vir ander stel, veral vir jongmense.

“Goeie gedrag op die paaie word aangeleer deur die optrede van ander en as meer ervare padgebruikers die reëls verontagsaam, aggressief teenoor ander is en geen respek toon vir verkeerswetstoepassers nie, word hierdie gedrag na die volgende generasie oorgedra. Daar is baie uitdagings wat padveiligheid in Suid-Afrika in die gesig staar, maar motoriste en ander padgebruikers kan help om dit te hanteer deur positiewe rolmodelle te wees,” sê die AA.

Die Vereniging sê hulle neem ook kennis dat persoonlike veiligheid ’n bekommernis bly, veral op paaie met hoë verkeersvolumes.

“Ons het deur die jaar gehoor van verskeie voorvalle waar motoriste geteiken is en óf fisies beseer is óf hul voertuie en besittings gesteel is, of albei. Ons sal alle reisigers aanraai om hul roetes noukeurig te beplan en om ekstra voorsorgmaatreëls te tref wanneer hulle op die pad is. Onder daardie voorsorgmaatreëls is om te verseker dat hulle behoorlike sekuriteitsrugsteun het as hulle dit nodig het,” sê die AA.

In hierdie verband raai die AA motoriste aan om persoonlike sekuriteitstoestelle soos byvoorbeeld die AA se Remi te gebruik. Dis ’n klein persoonlike handtoestel wat, sodra dit geaktiveer is, die naaste gewapende sekuriteitsverskaffer attent maak op die gebruiker se ligging, en onmiddellik hulp uitstuur. Die toestel is ’n selfstandige eenheid met sy eie simkaart en GSM-module en vereis nie ’n selfoon om in werking te wees nie. Meer as 200 gewapende sekuriteitsmaatskappye regoor Suid-Afrika is aan die diens gekoppel.

“Om veilig op die paaie te wees beteken om verantwoordelikheid te neem vir jou optrede as padgebruiker en om ’n goeie voorbeeld vir ander te stel. Maar dit beteken ook om verantwoordelikheid te neem vir jou en jou gesin se persoonlike veiligheid en sekuriteit, en om te verseker jy is veilig op die pad en daarvan af,” sê die AA.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top