Suid-Afrikaners wat die rieme dun moet sny om hulle vakansiebegroting te laat klop as gevolg van die hoë brandstofpryse, kan in Januarie waarskynlik met ’n groter glimlag huis toe ry. Aansienlike brandstofprysverlagings word vroeg in die nuwe jaar voorspel.
Die Automobiel-Assosiasie (AA) voorspel op grond van (ongeouditeerde) data van die Sentrale Energiefonds (SEF) dat Suid-Afrikaanse motoriste in Januarie minder sal betaal vir beide grade van petrol, vir diesel asook vir paraffien, wat die finansiële druk op verbruikers in Januarie sal verlig.
Good fuel news for motorists to start 2024
Read more here: https://t.co/wBzxB8D7lt#AASA #AAPress #press #fuel #petrol #fuelprices #southafrica pic.twitter.com/JthMdQpkdu— AA South Africa (@AASouthAfrica) December 14, 2023
Petrolpryse toon tans ’n oorverhaling van tussen 63 sent en 76 sent per liter, terwyl diesel ’n groter daling van tussen R1,34 en R1,41 per liter toon.
As hierdie oorverhalings tot die einde van die maand duur, sal motoriste en ander brandstofgebruikers ’n broodnodige blaaskans kry wanneer hulle in die nuwe jaar teruggaan werk toe.
“Volgens die data sal ULP93 met sowat 68c/liter daal, en ULP95 met 82c/l. Diesel gaan met sowat R1,50/l daal, en paraffien kan met sowat R1,42/l daal. Die voorspelde verlagings in die groothandelprys van diesel sal hierdie brandstofpryse in die binneland afbring tot sowat R20,32/l, wat laer is as dieselfde tyd verlede jaar,” sê die AA.
Die verwagte verlagings kan toegeskryf word aan die aansienlik laer internasionale produksiepryse. Terwyl die rand nie goed presteer teenoor die Amerikaanse dollar nie, toon die data dat die beweging van internasionale produkpryse die mees wesenlike rol speel in die voorspelde verlagings.
“Hierdie dalings sal baie help om die brandstofpryslas en die gepaardgaande impak daarvan op ander pryse wat deur miljoene Suid-Afrikaners ervaar word, te verlig. Vir baie reisigers wat met vakansie gaan, is dit ook goeie nuus, aangesien dit ongetwyfeld uitgawes op die terugkeer van hul reise sal verminder,” het die AA in ’n verklaring gesê.
Die eerste helfte van Desember het die rand nader aan R19/$ verhandel, wat bygedra het tot ’n algemene onderverhaling in brandstofpryse (tussen 20 en 22 sent per liter).
Volgens Reuters is Amerikaanse rentekoerse die sleutel tot die rand se beter prestasie.
Beleggers is gewoond daaraan dat Suid-Afrika baie hoër rentekoerse as die VSA bied, wat randbeleggings in die verlede aantreklik gemaak het. Maar ná aggressiewe Amerikaanse rentekoersverhogings het daardie differensiaal gekrimp en die rente wat op randbates aangebied word, lyk nou minder aanloklik.
Moneyweb berig dat brandstofpryse na verwagting in die nuwe jaar sal aanhou daal danksy die laer oliepryse en ’n sterker plaaslike geldeenheid wat waargeneem word.
Motoriste moes die afgelope jaar die hand diep in die sak steek weens skommelinge in brandstofpryse as gevolg van verhoogde oliepryse en ’n wisselvallige rand.
November se daling in die brandstofpryse was die eerste daling nadat verbruikers vier agtereenvolgende maande die druk van duurder brandstof moes verduur.
Volgens ’n navorsingsnota wat einde November vrygestel is, het PwC se jongste ekonomiese vooruitsigte voorspel dat die eerste drie maande van die nuwe jaar laer brandstofprysgemiddeldes in vergelyking met die laaste kwartaal van 2023 sal registreer.
“Na die brandstofprysdalings in November en Desember 2023 word verwag dat beide petrol- en dieselpryse in die eerste kwartaal van 2024 die onderpunt sal bereik, en dan stadig sal styg gedurende die oorblywende kwartale van 2024,” het Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC Suid-Afrika, gesê.
“Dit is gegrond op verwagtinge in finansiële markte dat die depresiasie in die randwisselkoers gedurende 2024 effens vinniger sal wees as ’n verwagte daling in wêreldwye oliepryse,” het sy bygevoeg.
Koketso Mano, senior ekonoom van FNB, voorspel volgens Moneyweb ook dat die nuwe jaar met laer brandstofpryse sal begin, maar sy waarsku dat dit onderhewig sal wees daaraan dat daar geen uiterste skokke aan die stelsel op die geopolitieke front sal wees nie.