Goedkoper petrol vir vakansieseisoen voorspel

  • 0

Suid-Afrikaners kan hulle gereed maak vir ’n welkome verligting in die prys van brandstof gedurende die komende Kersseisoen wat veral vakansiegangers sal bly maak.

Die AA het aangekondig dat motoriste ’n aansienlike verlaging in die petrolprys kan verwag terwyl die prys van diesel en paraffien ook gaan daal.

Volgens ’n verklaring wat die AA uitgereik het, is die goedkoper brandstof wat in die vooruitsig gestel word as gevolg van die vinnige daling van internasionale oliepryse sedert die begin van November.

Daar word sover voorspel dat die prys van petrol met soveel as R1.54 per liter kan daal, die prys van diesel met 92 sent per liter en 85 sent in die geval van paraffien. Maar met ’n bietjie geluk kan Kersvader dalk selfs ietsie ekstra in motoriste se Kerskous of petroltenk gooi. Ontledings van die jongste syfers toon dat die prys van petrol moontlik tot soveel as R1.68 per liter kan daal en diesel se groothandelprys met R1.10, as die jongste oorverhaling van die afgelope week vir die res van die oorsigtydperk tot die einde van die maand gehandhaaf word.

Die AA grond sy voorspellings op die ongeouditeerde petrolprysskattings wat deur die Sentrale Energiefonds bereken word.

“Na maande van volgehoue druk op die brandstofprys sal brandstofverbruikers aan die einde van November aansienlike verligting kry as die huidige tendens voortduur,” het die AA in hulle verklaring gesê. Motoriste sal dan tot minstens vroeg volgende jaar  ’n hele paar rand spaar elke keer as hulle hul voertuie volmaak.

Daar was ook ’n matige verbetering van die rand se wisselkoers teenoor die dollar wat die hoop laat ontstaan dat die daling dalk groter mag wees as wat die AA voorspel. Die AA waarsku egter dat die herinstelling van die balansheffing wat in November gekeer het dat die brandstofprys in November daal, Desember se voorspelde daling kan beïnvloed.

Nog ’n demper op die positiewe vooruitsig is die onsekerheid ten opsigte van olieproduksie in Saoedi-Arabië wat tot beperkte olieverskaffing in die nuwe jaar kan lei en weer brandstofpryse kan opjaag.

Die AA sê hoewel die huidige prentjie rooskleuriger lyk as in al die vorige maande, moet motoriste nie oormatig opgewonde raak nie en versigtigheid bly die wagwoord.

Die voortdurende styging van die brandstofprys het verbruikers die afgelope tyd hard geslaan. Na die vorige styging betaal Suid-Afrikaners meer as ooit vantevore vir petrol. Dit kos tans vir die eerste keer meer as R17 vir ’n liter petrol in die binneland.  

Die vorige styging was die negende brandstofprysverhoging vanjaar en dieselgebruikers is die swaarste getref. Tydens die vorige verhoging het ekonome gewaarsku dat die brandstofverhoging ’n bose siklus van prysstygings op meeste produkte, van kos tot motors het. Of die laer petrolprys dieselfde positiewe resultate ten opsigte van voedsel en ander kommoditeite gaan hê, is egter geen uitgemaakte saak nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top