Goedkoper petrol, meer water vir Kapenaars maar die moontlikheid van ’n donker Kerstyd is Suid-Afrikaners se vooruitsig vir die Kersseisoen.
Die goeie nuus is dat die petrolprys volgende maand aansienlik kan daal. Die waterbeperkings in die Kaapse metro word ook vanaf 1 Desember verlaag. Die Kaapstadse metroraad het waterbeperkings vanaf 1 Desember van vlak 5 tot vlak 3 verlaag. Die burgemeester, Dan Plato, sê inwoners sal nou daagliks 105 liter water per persoon kan verbruik in vergelyking met die vorige beperking van 70 liter per persoon. Plato, wat ’n nuuskonferensie toegespreek het, sê die oorkoepelende teiken is na 650 miljoen liter per dag opgeskuif.
Hoewel vakansiegangers as gevolg van goedkoper brandstof ook nie met Jan Tuisbly se karretjie hoef te ry nie, waarsku die Automobiel Assosiasie (AA) dat die daling in die brandstofprys getemper kan word deur aanpassings in die winsmarge vir vulstasie-eienaars en brandstofgroothandelaars, asook vir die volgehoue gebruik van die balansheffing. Die AA is egter steeds optimisties dat motoriste ’n stewige daling in brandstofpryse kan verwag.
Die kragvoorsiener, Eskom wat in ’n geldelike verknorsing is, het egter ’n skadu gegooi op die goeie Kersvooruitsigte van goedkoper petrol en meer water. Eskom het Donderdag aangekondig dat fase een beurtkrag ingestel word. Eskom het in ’n verklaring gesê dit is te wyte aan verskeie onbeplande onderbrekings by kragstasies.
Die kragverskaffer het ook die afgelope week bekend gemaak dat sy finansiële situasie benard is. Dit word ondermeer gewyt aan ’n afname in kragverbruik, ’n styging in die salarisrekening en ’n styging in die rente wat hy op skuld betaal. Eskom se begrote verlies vir die huidige geldjaar is R15 miljard.
Netwerk24 berig die beurtkrag kom weens meer kragopwekkingseenhede in Eskom se vloot wat Donderdag buite werking was weens beplande instandhouding, asook onbeplande voorvalle.
Eskom het inwoners en sakeondernemings aangemoedig om krag spaarsamig te gebruik om die las op die netwerk te verlig. Gebruikers is versoek om geisers asook nie-noodsaaklike beligting en elektrisiteitstoestelle af te skakel.
Die jongste beurtkrag volg kort op die hakke van kragonderbrekings wat ’n week of wat gelede ingestel is weens ’n toename in ’n vraag die vorige week wat gelei het tot ’n tekort aan kragopwekkingskapasiteit by Eskom se pompopgaarskemas.
Intussen blyk dit dat Eskom geen ander keuse het as om nóg geld te leen om die land se ligte aan te hou nie. Teen einde September was Eskom se skuld reeds op R419,2 miljard teenoor R367 miljard in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
Die voorsitter van Eskom se direksie, Jabu Mabuza, het ook nie positiewe nuus vir Suid-Afrikaners gehad nie toe hy die afgelope week ’n voordrag by Eskom se hoofkantoor in Sunninghill, Johannesburg gelewer het tydens die bekendmaking van die kragverskaffer se resultate vir die ses maande tot einde September.
Mabuza het gesê soos wat Eskom tans daar uitsien is dit nie ’n volhoubare onderneming nie. “Ek haat dit om te sê, maar ons gaan pyn ervaar,” het hy gewaarsku.
Hy het gesê iemand sal moet betaal om die kragvoorsiener uit sy finansiële gemors te kry. Eskom se kliënte sal waarskynlik meer moet opdok wat beteken dat dit uiteindelik die verbruikers gaan wees wat swaar gestraf gaan word vir die chaos in Eskom.
Buro: NB