Google moet Suid-Afrikaanse media miljoene rand vergoeding betaal, sê kommissie

  • 0

Suid-Afrika se Mededingingskommissie het aanbeveel dat Google vir ’n tydperk van drie tot vyf jaar die Suid-Afrikaanse nuusmedia R300–500 miljoen vergoeding jaarliks moet betaal.

Dit  volg na ’n ondersoek oor die ongelyke waarde tussen wat Google uit nuusinhoud verdien en wat met die inhoudverskaffers gedeel word. So iets kan ’n groot impak op die medialandskap in die land hê.

As hierdie aanbeveling wet word, kan dit ’n baken van hoop vir die plaaslike media wees. Dit kan inhoudskeppers in staat stel om te belê in digitale vernuwing, nuusprojekte en die opleiding van joernaliste. Aan die ander kant kan dit ook spanning veroorsaak tussen tegnologieplatforms en die regering, wat moontlik Google se verhouding met Suid-Afrika sal beïnvloed.

Om by die doelwitte te kom sal egter ’n lang proses wees en waarskynlik ook wetgewing in die parlement verg om dit moontlik te maak.

Die markondersoek na media- en digitale platforms se voorlopige verslag is Maandag (24 Februarie) vrygestel. Dit bevat voorlopige bevindings, aanbevelings en voorgestelde herstelmaatreëls rakende die media. Die verslag volg na 16 maande se  omvattende insameling van bewyse, openbare en privaat verhore, voorleggings van deskundiges, konsultasie met talle bedryfsrolspelers, ’n verbruikersopname en fokusgroepbesprekings.

Die voorlopige bevindings, aanbevelings en voorgestelde herstelmaatreëls is nou oop vir openbare kommentaar en belangegroepkonsultasie voordat die finale verslag vrygestel word.

Die Mededingingskommissie sê in ’n verklaring die nuusmedia is noodsaaklik vir vrye uitdrukking en demokrasie, ook om burgers in te lig en instellings aanspreeklik te hou.

Wêreldwyd ondergaan die mediabedryf vinnige verandering weens die oorgang na aanlyn nuusverbruik, wat tradisionele inkomstemodelle uitdaag en aanpassings aan besigheidsmodelle vereis. Tradisionele advertensie-inkomste neem vinnig af, en hoewel sommige media nou intekenaar laat betaal, bly die vervanging van tradisionele advertensie-inkomste met digitale advertensie-inkomste ontwykend.

In Suid-Afrika het finansiële uitdagings vir kommersiële en gemeenskapsmedia, sowel as die openbare uitsaaier, gelei tot krimpende nuuskantore, die sluiting van buro’s en ’n gebrek aan nuusdekking buite die metro’s, sê die kommissie in sy aanbevelings.

“Dit is moeilik om in Suid-Afrika te verwag dat die meerderheid mense vir nuus moet betaal, en intekenmodelle is dus nie ’n opsie vir openbare en gemeenskapsmedia nie. Dit bedreig toegang tot nuus en mediadiversiteit. Hoewel daar uitdagings is wat die media moet trotseer weens die ontwrigtende effek van digitalisering, bevind die ondersoek voorlopig dat hierdie uitdagings vererger word deur die gedrag van groot platforms wat die vermoë van die nuusmedia om geld te maak uit digitale verkeer, belemmer. Hierdie digitale platforms produseer nie self nuus nie en kan nie die rol van joernalistiek vervang nie,” lui die verklaring.

Van die belangrikste aanbevelings sluit in:

  • Google moet die Suid-Afrikaanse nuusmedia jaarliks R300–500 miljoen vergoeding betaal vir ’n tydperk van drie tot vyf jaar weens die wanbalans in gedeelde waarde, terwyl veranderinge aan soekopsies ingestel moet word om volhoubare, gedeelde waarde met die media te skep deur verhogings in verwysingsverkeer. Dit sluit in dat voorkeur nie verleen moet word aan skakels ten gunste van die buitelandse media en YouTube nie; die bevordering van plaaslike en gemeenskapsmedia moet liewer voorkeur geniet.
  • Meta moet ophou om die deel van nuusberigte op Facebook af te skaal, sodat verkeer weer kan groei tot ten minste die piek waarop dit voor die veranderinge was. Meta en X moet ook ophou om ’n laer prioriteit te gee aan plasings met skakels na die plaaslike nuusmedia.
  • YouTube moet dit moontlik maak vir die media en uitsaaiers, insluitend die SAUK, om geld te maak op die platform deur 70% van YouTube se inkomste met die verskaffers te deel en deur direkte verkope aan kykers te bied.
  • Om waninligting aan te spreek, word aanbeveel dat die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies van 2002 gewysig word sodat platforms aanspreeklik gehou kan word vir skadelike inhoud en die verspreiding van waninligting. Die ondersoek stel voor dat sosialemediaplatforms met die formele media saamwerk om vergoeding vir die kontrolering van feite te betaal.
  • Die media moet toegelaat word om gesamentlik met KI-maatskappye te onderhandel vir inhoudsooreenkomste om kletsrobotte op te lei en te befonds. Indien nie, moet maatreëls ingestel word om KI-kletsrobotte te verhoed om bestaande globale mediavennote te bevoordeel en om te verseker dat verwysingsverkeer na plaaslike nuusmedia gedryf word.

Diegene wat die ondersoek gelei het, sê dit is belangrik om te beklemtoon dat die bevindings en maatreëls voorlopig is en dat verdere voorleggings, bewyse en samewerking ná die vrystelling van die voorlopige verslag kan lei tot veranderinge aan hierdie bevindings, aanbevelings en maatreëls.

Die vrystelling van die voorlopige verslag beoog om debat en samewerking teweeg te bring, nie net deur geaffekteerde belangegroepe nie, maar ook deur die publiek, gegewe die belangrikheid van die nuusmedia vir die verwesenliking van die grondwetlike regte van burgers.

Die volledige voorlopige verslag, met die bevindings, voorgestelde maatreëls en aanbevelings, is beskikbaar by https://www.compcom.co.za/mdpmi.

Belangegroepe en die publiek het ses weke om hul reaksies op die voorlopige bevindings, voorgestelde maatreëls en aanbevelings in te dien. Alle voorleggings moet teen die einde van die werksdag 7 April 2025 gestuur word na mdpmi@compcom.co.za en moet ondersteunende bewyse insluit waar dit ter sake is. Die finale verslag sal later vanjaar gepubliseer word ná alle voorleggings hersien is en die belangegroepe verdere insette kon lewer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top