Die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, sal weer aan die hof moet verduidelik dat sy haar werk ooreenkomstig die Grondwet doen en nie een of ander versluierde agenda het soos wat baie mense beweer nie.
Pravin Gordhan, wat tot die algemene verkiesing minister van openbare werke was, veg nou kaalvuis om sy naam in ere te herstel. Dit volg na ’n omstrede verslag van die openbare beskermer waarin gevra word dat president Cyril Ramaphosa teen hom optree omdat hy volgens haar onbehoorlik en ongrondwetlik opgetree het.
Pravin Gordhan (Foto: Richter Frank-Jurgen [CC BY-SA 2.0], via Wikimedia Commons)
Gordhan het Dinsdag ’n hersieningsaansoek by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om Mkhwebane se verslag tersyde te stel.
Sy het Vrydag die hele land se wenkbroue laat lig met die skokverslag kort voordat Ramaphosa as president ingehuldig is en sy nuwe kabinet moet aankondig waarin Gordhan na verwagting ’n belangrike rol sal speel .
JUST IN: Public Protector Busisiwe Mkhwebane has found #PravinGordhan guilty of improper conduct regarding a payout for former Sars Commissioner Ivan Pillay’s early retirement. https://t.co/XqsQj5FcJM pic.twitter.com/PNbNgQWwV6
— Eyewitness News (@ewnupdates) May 24, 2019
Daar is wyd bespiegel dat sy Gordhan wil bykom en deel is van die faksiegevegte in die ANC wat oudpresident Zuma se belange beskerm. Tydens Zuma se bewind het hy Gordhan tot almal se skok summier afgedank, en Gordhan moes op TV sien hy is afgedank.
Gordhan is die derde persoon wat in die openbare beskermer se jongste verslag geïmpliseer word wat haar verslag in die hof gaan betwis. Die destydse hoofkommissaris van die inkomstediens, Oupa Magashula, het reeds die naweek aangedui hy wil die verslag deur die hof laat hersien.
Die derde persoon wat hof toe wil gaan oor haar verslag, is die voormalige adjunkkommissaris van die inkomstediens, Ivan Pillay, wat volgens haar nie geregtig was op die geld wat hy met Gordhan se toestemming ontvang het vir sy vervroegde aftrede nie.
Verskeie mense beweer die openbare beskermer is besig met ’n heksejag teen mense soos Gordhan en diegene wat korrupsie in die regering wil beveg.
Busisiwe Mkhwebane (Foto: YouTube)
Dit sal nie die eerste keer wees dat sy haar in ’n hofsaak bevind oor haar werk nie. Sy is vroeër daarvan beskuldig dat sy die Vrede-suiwelprojek waarin die Vrystaatse regering R350 miljoen gepomp het, wou toesmeer, eerder as om dit behoorlik te ondersoek en die skuldiges aan die pen te laat ry.
Die hooggeregshof in Pretoria het toe bevind sy het haar plig versuim om die Estina-suiwelprojek in Vrede behoorlik te ondersoek en daaroor verslag te doen. Daar is uit verskeie oorde versoek dat sy uit haar amp verwyder moet word, maar sy hou vol dat sy net haar werk gedoen het en ontken sy het enigiemand probeer beskerm.
Haar verslag oor die apartheidreddingsboei vir Bankorp wat later deur Absa oorgekoop is, is ook destyds deur die hof op ’n verdoemende manier tersyde gestel. Dit was die eerste groot verslag wat deur haar opgestel is. Die hof het haar aanbeveling dat die parlement die Grondwet moet wysig om veranderinge aan die mandaat van die Reserwebank aan te bring tersyde gestel.
Met haar jongste verslag oor Gordhan wou sy volgens baie kommentators keer dat Ramaphosa hom in sy kabinet aanstel.
Gordhan hou vol haar verslag is “totaal verkeerd” en dat sy glad nie die voorlegging wat hy tydens die ondersoek by haar ingedien het, in ag geneem het tydens haar verslag nie.
Indien Gordhan se hofaansoek om die verslag tersyde te stel misluk, sal dit hom in ’n baie netelige situasie plaas en dit haas onmoontlik maak vir hom om in Ramaphosa se kabinet te dien.
Sou hy egter slaag, kan dit dalk die finale spyker in die openbare beskermer se kis wees en sal sy onder groot druk verkeer om haar pos te ontruim.
Buro: MvH