Grahamstad se ekonomie kom om van die dors

  • 0

Die Oos-Kaapse dorp Makhanda (voorheen bekend as Grahamstad) se ekonomie stuur op ’n ramp af as gevolg van droogte en die munisipaliteit se wanbestuur van die dorp se waterbronne.

Die dorp se krane is besig om vinnig leeg te loop. As daar nie vinnig ’n oplossing vir die dorp se waterkrisis gevind word nie, sal Rhodes Universiteit, wat een van die dorp se ekonomiese lewensare is, genoodsaak word om sy deure te sluit.

Groot dele van die dorp is reeds sedert Sondag sonder water. Die sowat 70 000 inwoners moes die afgelope vakansieseisoen, onder andere op Kersdag, spook om water in die hande te kry.

Die knellende droogte, die dorp se jarelange verwaarloosde infrastruktuur en die plaaslike owerheid se gebrek om instandhoudingswerk te doen, het inwoners nou al maande lank behoorlik keelvol.

Die oostelike deel van die dorp wat hoofsaaklik die township insluit, kry hulle water van die Oranjerivier maar weens die swak infrastruktuur het hulle slegs enkele ure per dag water. Verskeie van die inwoners het hulle frustrasie op Facebook uitgestort.

Die res van die dorp wat die sakesentrum, universiteit, skole en ander woongebiede insluit, is afhanklik van water uit twee damme naamlik Settlersdam en Howisonspoortdam. Settlersdam is tans slegs 13.4% vol waarvan die laaste 10% moeilik gebruik sal kan word. Die veel kleiner Howisonspoortdam was aan die begin van die week 23% vol en daar word beraam dat die water in dié dam waarskynlik nog slegs 14 tot 28 dae sal hou.

Een van die dorp se inwoners het aan Voertaal gesê die krisis het vererger nadat ’n pyp Saterdag gebars het. “Weens wanbestuur en onbevoegdheid het die munisipaliteit die hele dorp se water eenvoudig afgesny en naweek gehou tot Maandag – en toe eers aan die lek begin werk. Teen sononder wou hulle glo weens swak lig ophou werk.”

’n Besigheidsman op die dorp het sy eie kragopwekker en ligte beskikbaar gestel sodat hulle kon aanhou werk. Die watertoevoer is daarna herstel maar intussen het die staatsinstansies en verskeie ander besighede Maandag net halfdag (of glad nie) gefunksioneer nie omdat daar nie water was nie.

Nog een van die inwoners, Anschen Conradie, wat in die hoërliggende dele van die dorp woon, sê op goeie dae het hulle slegs 0,5 bar waterdruk en hulle moet op eie koste ’n hoëdrukpomp gebruik om enigsins water te kry.

Inwoners kla dat die munisipaliteit en staatsdepartemente geen gebeurlikheidsplanne het nie. Daar kan byvoorbeeld nie water aangery word nie omdat daar nie voldoende bronne naby is nie. Die enigste watertenkers (daar is twee in werkende toestand) behoort aan die brandweer en die weermag.

Die Grahamstown Residents’ Association het ook op hulle Facebook-blad gewaarsku die dorp kan binnekort ’n ernstige waterkrisis in die gesig staar.

Die plaaslike koerant Grocott's Mail het die afgelope week berig Rhodes Universiteit sal hulle deure moet sluit as daar nie ’n dringende oplossing gevind word vir die dorp se waterprobleme nie. Die universiteit open op 2 Februarie vir registrasie van eerstejaars en die dosente moet op 11 Februarie begin werk. Meer as 8 000 studente waarvan bykans 4 000 op die kampus woon, word direk deur die waterkrisis geraak.

Volgens kenners kan dit minstens 30 dae duur voordat die dorp daarin kan slaag om die plaaslike gebruik van water deur middel van streng regulasies met die helfte te verminder.

Een van die universiteit se woordvoerders, dr Iain L’Ange het aan Grocott's Mail gesê die universiteit het reeds die owerhede genader vir dringende hulp om die krisis te help oplos. Hy sê te oordeel aan ’n vorige ervaring in 2013 toe daar ook waterprobleme was, kan die universiteit slegs drie tot vyf dae sonder munisipale water funksioneer. “Na drie dae sal die universiteit sy deure moet sluit as daar nie ’n alternatiewe plan gemaak kan word nie.”

Volgens ’n studie deur Rhodes se departement van ekonomie dra die universiteit tussen 60% en 65% by tot die dorp se bruto binnelandse produk. Nog een van die groot bydraers is die Nasionale Kunstefees wat miljoene rand tot die dorp en die provinsie se BBP bydra. ’n Woordvoerder van die fees wat die afgelope week ’n krisis-vergadering bygewoon het, Tony Lankester, het na die tyd aan die plaaslike koerant gesê hulle werk reeds aan ’n plan om die krisis te hanteer en die impak daarvan tydens die feestyd te probeer bestuur.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top