Gratis onderrig kos Suid-Afrika miljarde

  • 0

Suid-Afrikaanse studente wat aandring op gratis opleiding aan universiteite gaan die land miljarde rande kos. Meer as die helfte van die geld sal waarskynlik vermors word.

Dit is omdat minder as die helfte van die studente wat vir gratis onderrig kwalifiseer, daarin sal slaag om hulle studies suksesvol te voltooi.

Jacob Zuma het universiteite verlede maand onkant gevang toe hy aangekondig het dat behoeftige studente van vanjaar af gratis aan die land se universiteite kan studeer.

Duisende studente het by universiteite oral in die land opgedaag om vir gratis onderrig te registreer. Die meeste moes weggewys word omdat hulle nie voor die tyd aansoek gedoen het om te registreer nie en omdat die universiteite nie plek het vir almal nie.

Zuma het beloof dat studente met ’n huishoudelike inkomste van minder as R350 000 per jaar gratis kan studeer. Meer as die helfte van die studente wat reeds vir die nasionale finansiële hulpskema (NSFAS) kwalifiseer, laat vaar hulle studies binne vier jaar sonder om ooit vir ’n graad te kwalifiseer. As die regering alle studente moet finansier wat na Zuma se aankondiging vir gratis onderrig kwalifiseer, sal die geld wat aan onsuksesvolle studente bestee word, dramaties toeneem.

Meer as 300 000 voornemende studente wat van die reeds bestaande hulpskema gebruik wil maak, het vanjaar aansoek gedoen vir beurse.

Die Sondagkoerant Rapport berig dat die nasionale tesourie in 2016 bevind het dat 36% van NSFAS-studente wat in 2007 vir ’n graad, sertifikaat of diploma begin studeer het, binne ’n jaar opgeskop het, 56% in hul derde jaar en 61% na vier jaar van studie sonder om ’n graad te kry.

Volgens die tesourie se berekening kos dit gemiddeld R75 000 om een student vir ’n jaar op universiteit te hou. Dit sluit die koste van verblyf en handboeke in.

Die land se adjunkminister van onderwys, Buti Manamela, sê na Zuma se aankondiging oor gratis tersiêre onderwys was daar ’n groot toeloop van studente wat volgens hom voor dit geen planne gehad om te gaan studeer nie, maar wat na die aankondiging van plan verander het.

Hy sê die departement het nie in hierdie stadium enige planne om nuwe universiteite te bou nie, maar gaan ander tipes onderrig drasties uitbrei om te voorsien in die groeiende vraag na tersiêre onderrig. Daar word onder andere planne gemaak om afstandonderrig uit te brei om al die voornemende studente te akkommodeer.

Amanda Gouws van die Universiteit Stellenbosch sê nie almal het die vermoë om aan ’n universiteit te studeer nie. Sy sê gratis onderwys moet op primêre en sekondêre vlak begin. Selfs daardie vlakke het ’n totale transformasie nodig, omdat dit leerders oplewer wat in graad 4 nog nie kan lees of skryf nie. Volgens Gouws is die fokus op tersiêre onderrig misplaas. Dit verg besondere toewyding, dissipline en vasberadenheid om suksesvol te wees. Dit verg ook dat dosente die kennis van hulle vak kan oordra aan alle studente wat geakkommodeer kan word.

Gouws sê tersiêre onderwys is per definisie gegrond op meriete. In die meeste lande is diegene wat toegelaat word slegs ’n klein persentasie. Die massafisering van tersiêre onderrig is kortstondig omdat dit nie die probleme van werkloosheid gaan oplos nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top