Groen ID-boek het sy laaste hoofstuk bereik: Suid-Afrikaners kry tot 2028 om oor te skakel

  • 0

Suid-Afrikaners wat steeds die bekende groen ID-boek gebruik, het minder as twee jaar om dit met ’n slim-ID-kaart te vervang voordat die boekie finaal nie meer as ’n geldige identiteitsdokument erken sal word nie.

Die minister van binnelandse sake, Leon Schreiber, het  gister (Donderdag)  aangekondig dat die departement die produksie van die groen ID-boek teen 31 Maart 2027 gaan staak. Die boekie sal egter nie onmiddellik daarna ongeldig wees nie. Die ongeveer 14,7 miljoen Suid-Afrikaanse burgers en permanente inwoners wat steeds net ’n groen ID-boek het, kry daarna nog 12 maande om na ’n slim-ID-kaart oor te skakel.

Vanaf 1 April 2028 sal die groen ID-boek ingevolge die Identifikasiewet nie meer as ’n geldige identiteitsdokument erken word nie.

Schreiber het die aankondiging gemaak tydens ’n geleentheid by Constitution Hill in Johannesburg, waar hy sy departement se sogenaamde Quantum Leap-visie vir die modernisering van staatsdienste uiteengesit het.

Volgens hom sal die masjiene waarmee die groen boekies vervaardig word, op 31 Maart volgende jaar permanent afgeskakel en uit diens gestel word.

Die groen boek is sedert die 1980’s ’n bekende deel van Suid-Afrikaners se daaglikse lewe, maar is toenemend gekritiseer gekom omdat dit ’n papiergebaseerde dokument is met ’n foto wat met die hand aangebring word.

Schreiber sê in sy toespraak onafhanklike navorsing het bevind dat die groen ID-boek een van die dokumente in Afrika is wat die meeste aan bedrog blootgestel is. Volgens hom maak die formaat dit makliker vir mense om identiteite te steel of vervalste dokumente te bekom.

Hy het ook gesê die departement het die aantal mense wat slegs ’n groen ID-boek besit, reeds van sowat 16 miljoen tot 14,7 miljoen verminder.

Die regering wil dié proses nou aansienlik versnel.

Een van die belangrikste veranderinge is dat mense toenemend nie meer na ’n kantoor van binnelandse sake hoef te gaan om ’n slim-ID te kry nie.

Die departement se vennootskap met banke, wat in Maart vanjaar begin het, stel mense in staat om by deelnemende banktakke vir slim-ID-dienste aansoek te doen. Teen Donderdag was daar volgens Schreiber meer as 515 banktakke waar biometriese slim-ID-vervangings gedoen kan word, en meer as 822 000 mense het reeds van die diens gebruik gemaak.

Die departement sê die proses kan in sommige gevalle binne sowat vyf minute afgehandel word en dat geen vooraf afspraak of papierwerk vir dié diens nodig is nie.

Die netwerk van deelnemende banktakke sal na verwagting verder uitgebrei word. In Augustus was daar 372 deelnemende takke, teenoor die meer as 515 wat nou beskikbaar is.

Schreiber het mense wat nog ’n groen boek het, aangemoedig om nie tot die laaste oomblik te wag nie.

Die departement het ook aangekondig dat groepe wat voorheen probleme ondervind het om slim-ID-kaarte te bekom, voor die einde van die groen ID-boek se produksie toegang daartoe sal kry. Dit sluit onder meer genaturaliseerde Suid-Afrikaners, permanente inwoners en Suid-Afrikaanse burgers wat in die buiteland woon, in.

Eerste-keer-aansoekers en mense ouer as 60 sal steeds van die slim-ID-aansoekfooi vrygestel wees.

Die afskaffing van die groen boek is egter net een deel van Schreiber se groter plan om Binnelandse Sake te digitaliseer.

Hy het Donderdag ook ’n werkende prototipe van Suid-Afrika se eerste digitale ID gedemonstreer. Die doel is dat mense in die toekoms hul identiteit veilig met ’n selfoon sal kan verifieer en toegang tot sekere dokumente en staatsdienste sal kan kry.

Die digitale ID is bedoel om saam met die fisiese slim-ID-kaart te bestaan en vorm deel van ’n breër moderniseringsproses by Binnelandse Sake. Regulasies wat vroeër vanjaar gepubliseer is, maak reeds voorsiening vir digitale identiteitsbewyse en biometriese verifikasie.

Vir die miljoene Suid-Afrikaners wat steeds hul groen boek in ’n laai of beursie het, is die boodskap van Donderdag se aankondiging egter eenvoudig: Die groen boek het nou ’n vaste vervaldatum. Produksie eindig op 31 Maart 2027 en die dokument self verdwyn as ’n geldige vorm van identifikasie op 31 Maart 2028.

  • Lokprent: Izak de Vries
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top