André de Ruyter, toenmalige grootbaas van Eskom, het die afgelope naweek mense van regoor die wêreld herinner waar energie vandaan kom: “Prometheus het vuur van Zeus gesteel en het daardeur ’n geskenk aan die mensdom gegee.”
Soos destyds op Olimpus, het grootkoppe en denkers van regoor Afrika hierdie afgelope naweek besin oor maniere om ons beboude omgewing meer volhoubaar te maak. Saam met die denkers het sakeleiers, professionele persone en besluitnemers vergader om die toekoms te probeer beveilig.
Die tema van hierdie jaar se konvensie was: Nul+: Netto zero vandag, klimaat positief môre.
Elke jaar is die konvensie se missie om protokolle en maatreëls op te skerp om die omgewing, sowel as die verbruiker, op lang termyn te bevoordeel.
“Dit is ’n wekroep vir ons om die ekstra myl te loop, om proaktief te wees en om ons beboude omgewing ten goede te omskep in die stryd teen klimaatsverandering,” sê Lisa Reynolds, die hoof- uitvoerende beampte van die Green Building Council South Africa (GBCSA). Lees meer hier: https://gbcsaconvention.org.za.
GBCSA is ’n organisasie sonder winsbejag wat sedert die stigting daarvan in 2007 die bevordering van volhoubare praktyke in die eiendoms- en konstruksiesektor voorstaan. Dié instansie het ’n sterk verbintenis tot die skep van ’n groener, meer volhoubare beboude omgewing en is deel van die wêreldwye netwerk van eendersdenkende organisasies, insluitende die World Green Building Council (World GBC).
Vier groen sterre en puik sprekers
Vanjaar het die konvensie, die 17de een, plaasgevind by die Century City Konferensiesentrum, wat self spog met ’n vierstergroengradering. Naas André de Ruyter was daar sprekers soos Sechaba Maape, Harold Spies en Sharon Rapetswa op die verhoog. Die komediant en elektroniese-data-strateeg John Vlismas het as seremoniemeester opgetree met pittige, raakvatkommentaar.
Die hoofborge, Rand Water, Similan Properties en die Raubex-groep, een van Afrika se grootste infrastruktuurontwikkelaars, het ook kommentaar gelewer oor hul eie strewe na volhoubaarheid.
Boitumelo Sethlatswe van Standard Bank het die banksektor se rol in die Just Transition Framework, wat geskep is om klimaatvolhoubaarheid te ondersteun, verduidelik.
Matthew Whalley van Balwin Properties het die eiendomsektor se perspektief op die finansiering van volhoubaarheid gedeel.
Die persepsie van kostes
Alhoewel volhoubaarheid en groener keuses baie belangrik vir die konvensiegangers was, is die kommer oor kostes ook uitgespreek. Vir die huiseienaar en -huurder is dit die koste wat sal bepaal of hulle ’n groener benadering sal oorweeg of nie.
GBCSA se tegniese hoof, Georgina Smit, het gesê om groen opsies te implementeer behoort nie ’n raaiselspeletjie vir die verbruiker te wees nie. “Die navorsing toon dat die groen premie nie net laer is as wat verwag is nie, maar dit bly daal, wat volhoubare keuses meer toeganklik en haalbaar maak vir almal.”
Kampvegters van volhoubaarheid erken met GBCSA se 2024-leierskapstoekennings
Die GBCSA se 2024-leierskapstoekennings is tydens ’n galadinee aan verdienstelike groepwenners oorhandig. Wenners is beoordeel op grond van prestasies sedert die vorige Groenboukonvensie wat verlede jaar in Oktober plaasgevind het.
Die toekoms is inderdaad blink met sulke professionele persone wat saamwerk om ’n beter beboude omgewing te skep, het Lisa Reynolds by die geleentheid gesê. “Die bekroondes het ’n onwrikbare verbintenis tot die doelwit van ’n klimaatpositiewe toekoms getoon.”
Harold Spies spog met ses sterre vir Similan
Die onthulling, in Junie, van die Newinbosch Neighbourhood Estate se 6-ster-groengradering is ’n belangrike mylpaal in die Suid-Afrikaanse eiendomsbedryf. Newinbosch is die hoogs gegradeerde volhoubare gebied in Afrika en net een van ’n handjievol wêreldwyd wat met so ’n gradering kan spog.
Harold Spies, wat Similan Developments in 2010 begin het, sê Similan se verbintenis tot ’n ekovriendelike lewe en volhoubare ontwikkeling is hierdeur bewys. “Dit is ’n waardegebaseerde benadering. Die huise gebruik 20% minder water, 40% minder elektrisiteit en 20% minder koolstof. Ook is die koolstofdioksiedkoste van die bouwerk met 20% verminder. Die gebruik van minder energie en water verlaag die huishoudelike onkostes.”
Spies het voorts gesê dat Excellence in Design for Greater Efficiencies, bekend as EDGE, ook op ander maniere die koper help. Banke gee tans voordele aan EDGE-gesertifiseerde wonings en sal heel moontlik in die toekoms nie huislenings toestaan tensy die woning aan ’n EDGE-sertifisering voldoen nie.
Studies deur Francois Viruly van die Universiteit Kaapstad toon ook dat die koste van eienaarskap op ’n EDGE-gesertifiseerde woning goedkoper is en dus volhoubaarheid bevoordeel.
Op die vraag hoe Suid-Afrika teenoor ander lande soos Frankryk, Nederland en Brasilië vaar, was Spies opgewonde. “Nes die res van die wêreld gebruik ons EDGE as ’n maatstaf. Suid-Afrika verteenwoordig tussen 10% en 15% van al die EDGE-gesertifiseerde eiendomme in die wêreld. En as jy Suid-Afrika moet vergelyk met die res van die wêreld, vaar ons fantasties, in ag genome ons beperkings. Ons het ’n eersteklas konstruksiebedryf in ’n Derde Wêreld-land.” Hy beklemtoon dat hierdie vernuwing deur “die privaat sektor en nie die regering nie” gedryf is.
André de Ruyter oor die Just Energy Transition
Die Groenboukonvensie het afgesluit met André de Ruyter wat oor die Just Energy Transition (JET) gepraat het. JET het dit ten doel om minder koolsuurgas vry stel sonder om werksgeleenthede te benadeel.
De Ruyter het die gehoor aan die mitiese Prometheus herinner wat aan die mens vuur gegee het. Sedert James Watt se stoomenjins ’n nywerheidsomwenteling begin het, was daar “’n geweldige toename in die verbranding van brandstof om hitte om te skakel om dinge te laat beweeg en om elektrisiteit op te wek”.
Met statistieke het De Ruyter aangetoon dat die verbranding van fossielbrandstowwe as ondoeltreffend bewys is. Twee derdes van die energie wat ontstaan in die verbranding van fossielbrandstowwe, word vermors. Hierdie proses van verbranding veroorsaak ook besoedeling en gesondheidsprobleme.
Suid-Afrika se energievlakke is van die laaste in die wêreld, sê De Ruyter, maar daar is goeie nuus.
“Ons het tegnologie wat die krag van die son kan omskep in alles wat ons nodig het om hitte, lig en werk te verskaf, teen ’n koste wat nou laer is as enige ander vorm van opwekking van elektrisiteit wat beskikbaar is.”
Die toename in die gebruik van die son en wind as energiebronne het gesorg vir ’n verlaging in die koste daarvan. Selfs die stoor van die opgewekte energie is moontlik. “Kalifornië, die elfde grootste ekonomie in die wêreld, funksioneer twee derdes van die dag eksklusief op herwinbare energie.”
Alhoewel ons ’n klein hoeveelheid koolstofdioksied (CO2) in die atmosfeer nodig het, is die versnellende koers waarteen ons fossielbrandstof se vrystelling, sonder ophou, die atmosfeer instuur, ’n “groot probleem vir die mensdom”. Die waarskuwing dat CO2 die atmosfeer gaan verander, het reeds in 1912 gekom, tog was daar in die laaste 60 jaar eerder ’n toename in die verbranding van fossielbrandstof. Daarmee saam was daar ’n globale styging in die CO2-vlakke in die atmosfeer.
De Ruyter het die belangrikheid van woude en boomryke omgewings beklemtoon. “Bome speel ’n belangrike rol om klimaatsverandering te versag deur CO2 uit die atmosfeer te verwyder en dit in hul hout, blare, wortels en omliggende grond te berg.” Net so stel brandende bome egter die koolstof wat hulle geabsorbeer het, weer in die atmosfeer vry. De Ruyter sê “die mensdom kap verder ook bome vinniger af as wat hulle kan groei”.
De Ruyter het ook die komponente van CO2, die tydsduur wat dit in die atmosfeer bly en die koste verbonde daaraan om dit uit die atmosfeer te verwyder, verduidelik.
Oor die klimaatontkenners sê De Ruyter: “Net soos ’n klein hoeveelheid sianied nie vir jou goed sal eindig nie, kan ’n 0,04%-konsentrasie CO2 in die atmosfeer ’n verskil maak. Die nuutste navorsing bewys dat ons reeds ons CO2- atmosferiese kwota bereik het. Die voorspelling is dat hierdie somer die warmste somer nog gaan wees.”
Daar is ’n alternatief, sê hy, een “waar daar geen verloorders is nie”.
De Ruyter het daarop die vraag gestel: “Gaan jy bly soos jy is of gaan jy verander na die gebruik van hernubare-energie-bronne?”
Ter afsluiting het De Ruyter teruggekeer na Prometheus se lot. “Dinge het nie goed vir hom geëindig nie. Die enigste manier waarop die mensdom ’n beter toekoms kan verseker, is om geleidelik, maar doelbewus en met toewyding fossielverbranding uit faseer.”
Na die toekoms!
Die volgende konvensie word vir 12–14 November 2025 beplan.