Groenkrag wink terwyl Eskom in die duister voortploeter

  • 0

Groenkrag wink vir Suid-Afrikaners, maar Eskom ploeter steeds in die donker voort. Dit sal na verwagting meer as twee jaar duur voordat die regering se jongste planne om bykomende hernubare energie op te wek geïmplementeer kan word.

Die nuwe groenkragprojekte is die afgelope week in Pretoria deur die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, aangekondig. Mantashe het Maandag in Pretoria gesê  25 nuwe wind- en sonkragprojekte is goedgekeur. Die projekte beteken bykomende kragopwekking van bykans 2 600 megawatt en hou ’n belegging van sowat R50 miljard oor die volgende paar jaar vir Suid-Afrika in.

Eskom se opwekkingsvermoë sukkel om in die vraag te voorsien. Eskom het beurtkrag die afgelope naweek tydelik opgeskort ter wille van Maandag se plaaslike verkiesing, maar Dinsdag in ’n verklaring  gewaarsku dat beurtkrag weer op kort kennisgewing geïmplementeer kan word indien enige verdere onklaarraking plaasvind.

Eskom moes verlede week noodgedwonge fase 4-beurtkrag instel nadat hy opwekkingsvermoë moes inboet weens verskeie tegniese probleme by kragstasies.

“Ons wil weer om verskoning vra vir die ongerief (...). Eskom versoek die publiek om voort te gaan om elektrisiteit spaarsamig te gebruik, en sal stiptelik kommunikeer indien daar enige beduidende veranderinge aan die kragstelsel sou wees,” het hulle die ou bekende mantra herhaal.

Kort daarna is aangekondig dat fase 2-beurtkrag Dinsdag om 16h00 ingestel word tot Woensdag om 05h00. Dit het gevolg nadat nóg ’n opwekkingseenheid by Kusile uitgeskop het en daar reeds vier eenhede was wat oornag onklaar geraak het.

Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, het reeds verlede week gewaarsku dat die kragonderbrekings sal voortduur terwyl daar gepoog word om onklaar opwekkingseenhede weer te herstel.

Oberholzer het gesê hulle benodig gewoonlik tussen R8 miljard en R11 miljard per jaar om behoorlike en voldoende instandhouding van die kragstasies  te doen, en 24 maande om dit doeltreffend te beplan.

Eskom se spanne moes die afgelope week ook opwekkingseenhede by Camden-, Kendal- en Medupi-kragstasies herstel. In dieselfde 24 uur waartydens die herstelwerk by die stukkende eenhede plaasgevind het, het nog  twee opwekkingseenhede, een by Arnot en nog een by Hendrina, onklaar geraak. Eskom moes behoorlik walgooi toe nóg ’n eenheid elk by Arnot en Lethabo gedwing is om te sluit.

Volgens Eskom word beurtkrag slegs as ’n laaste uitweg geïmplementeer om die stabiliteit van die kragstelsel te handhaaf.

Talle Suid-Afrikaners het Dinsdag woedend op sosiale media reageer op die hernude instelling van beurtkrag. “En ons het gister die kans gehad om hierdie onbevoegdheid uit te stem. Maar die meeste mense het eerder verkies om tuis te bly en ’n jol te geniet,” het een van die talle ontstoke boodskappe op Twitter gelui.

Lees ook op LitNet

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met Bernard Swanepoel oor die ekonomie, energie en mynbou.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top