Sophakama Primary School se hoof Sabelo Makhubalo wys na die punt waar die skool se watervoorraad getap word. Foto: Peter Luhanga
’n Laerskool by die informele nedersetting Dunoon in Kaapstad sit met ’n yslike waterrekening van bykans ’n halfmiljoen rand nadat onwettige plakkers die munisipale sportveld agter die skool beset en die skool se watertoevoer begin gebruik het.
Die Sophakama Primary School in Dunoon se rekening beloop reeds R444,827.20 en moes al op 20 November verlede jaar betaal word.
Groundup berig mense het in Maart 2017 begin om die sportgrond te beset. Hulle het voorheen in agterplase in die Dunoongebied gewoon. Baie van die inwoners kon nie langer die huur bekostig nie terwyl van die ander deur sommige huiseienaars uitgesit is.
Peter Luhanga van Groundup berig dat desperate huissoekers verlede jaar begin het om die enigste oop ruimte in die gebied, naamlik die munisipale sportgrond, te beset. Ten tye van die besetting het inwoners van die omgewing ’n voortdurende stryd met Kaapstad se anti-grondbesettingseenheid, die Anti Land Invasion Unit (ALIU), en die polisie gehad.
Elke keer wanneer die ALIU die tydelike strukture afgebreek het en die boumateriaal gekonfiskeer het, het die inwoners dieselfde dag teruggekeer en weer begin om hulle strukture op te rig. Die toedrag van sake het maande lank voortgeduur totdat die plakkers uiteindelik daarin geslaag het om hulle verlede jaar in Junie permanent daar te vestig.
Hulle betaal egter vir geen munisipale dienste nie, insluitend water.
Die sportveld bevat besproeiingspype wat deur van die plakkers gebruik word om water te kry. Van die ander inwoners kry hulle water vanaf die aangrensende skool.
Die skoolhoof, Sabelo Makhubalo, sê hy was geskok oor die buitensporige hoë waterrekening wat die skool van die munisipaliteit ontvang het. Hy sê die skool se water-rekening beloop tussen R20 000 en R25 000 per maand. Hy het die aangeleentheid by die Wes-Kaapse onderwysdepartement asook die plaaslike raadslid gerapporteer en vrees dat die stadsraad die skool se watertoevoer sal afsny.
“Ons het nie daardie hoeveel geld in ons begroting om die rekening te betaal nie. Hoe gaan ons dit betaal?” sê hy.
’n Woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, Bronagh Hammond, sê die departement is bewus van die skielike styging in die skool se munisipale rekening. Sy sê daar mag dalk maniere wees hoe die skool die watergebruik deur die gemeenskap op die aangrensende sportveld kan beperk. Volgens haar sal die departement ook die saak monitor en bystand verleen waar hulle kan.
Die munisipale raadslid vir die wyk, Lubabalo Makeleni van die ANC, sê die stadsraad het sportgeriewe op die perseel beplan voordat dit deur die plakkers beset is. Daar is R16,5 miljoen vir die projek begroot maar nadat die grond deur plakkers beset is, het dit deur die mat geval.
Hy dring nou daarop aan daar dienste deur die stadsraad aan die inwoners voorsien word om die skool se probleem te help oplos.
Makeleni sê van die plakkers gebruik ook water van die omliggende bure se huise, asook elektrisiteit wat hulle direk van Eskom se kragkabels bekom.
“Daar is geen vullisverwydering nie, geen water en geen elektrisiteit nie. Die noodsaaklikheid vir hierdie dienste veroorsaak spanning met die inwoners van die omliggende gebied en die plakkerskamp wat nou as Ekupholeni bekendstaan.”
Die stadsraad sê egter die stadsraad kan nie voorkeur gee om dienste aan nedersettings te verskaf wat onlangs deur grootskaalse grondbesetting tot stand gekom het ten koste van inwoners in ander gebiede wat reeds geoormerk is vir dienslewering nie.
Die bestuurskomiteelid Malusi Booi sê die stadsraad besef die behoefte aan behuising maar sal voortgaan om onwettige besettings te voorkom. “Grondbesetting hou gesondheid- en veiligheidsrisiko’s in asook die onwettige koppeling van dienste soos water en elektrisiteit.”
Een van die grondbesetters sê al wat hulle wil hê is grond om hulle huise op te bou. Die res sal hulle self voorsien. Thobela Nkone, wat voorheen in ’n agterplaas gebly het, sê hulle kan nie vir die stadsraad wag om dienste te verskaf nie. “Ons wil grond hê en ons het dit. As hulle nie vir ons dienste wil gee nie, sal ons self planne maak,” sê Nkone.
Buro: NB