Dit gons behoorlik onder Suid-Afrikaners oor die afgelope week se mosie wat in die parlement goedgekeur is oor die onteiening van grond sonder vergoeding.
Sommige mense vrees dit is die begin van grootskaalse grondonteiening in die land wat die ekonomie en voedselsekuriteit ernstig kan benadeel. Veral wit Suid-Afrikaners is bekommerd dat hul grond van hulle weggeneem gaan word sonder enige vergoeding.
Almal is egter nie so pessimisties nie. Baie mense glo nie die regering sal stappe neem wat die land se ekonomie en voedselsekuriteit sal skaad nie.
Dit volg nadat die parlement oorweldigend gestem het ten gunste van ʼn mosie wat die bal aan die rol sit vir die wysiging van die Grondwet om voorsiening te maak vir grondonteiening sonder vergoeding.
Agri SA sê in ʼn persverklaring hulle het volle begrip vir die noodsaak van grondhervorming en die frustrasie met die oënskynlike stadige vordering. Die landbou-organisasie het hom verbind tot ordelike en volhoubare grondhervorming.
Hulle meen egter politiek en emosie het die botoon gevoer in die debat oor grond wat Dinsdagmiddag in die Nasionale Vergadering gevoer is. Agri SA sê in hulle verklaring die ANC en die EFF het nie erns gemaak met die identifisering van die ware feite rondom die mislukking van grondhervorming nie.
Agri SA sê hulle sal deelneem aan die konsultasies wat nou gaan volg en sal die beste moontlike kundigheid gebruik om ʼn optimale impak op die proses uit te oefen. Die organisasie sal ook regs- en ander advies oor die proses wat ontvou, inwin.
Agri SA se President, Dan Kriek, het gewaarsku dat alle eiendomsbesitters se regte in gedrang kan kom. Hy sê dit is ʼn stap terugwaarts na ʼn verlede waar eiendomsbeskerming nie vir almal beskore was nie. “Eiendomsreg is ʼn fundamentele reg wat wit en swart, arm en ryk se regte teen onregmatige staatsingryping beskerm. Die ontkenning daarvan is uit pas met internasionale praktyk en nie in nasionale belang nie,” het Kriek gesê.
President Cyril Ramaphosa het vroeër vrese probeer besweer dat onteiening sonder vergoeding nie roekeloos gedoen sal word nie. In antwoord op die debat na sy staatsrede het Ramaphosa gesê die komplekse kwessie oor grond sal so hanteer word dat die foute van die verlede nie herhaal word nie.
“Ons sal nie ‘vat-en-gryp’-ingrypings toelaat nie. Ons sal die kwessie hanteer op dieselfde manier wat ons alle moeilike kwessies in ons land moes hanteer.”
Die uitvoerende hoof van die Bankvereniging van Suid-Afrika, Cas Coovadia, het egter by die Kaapstadse Persklub gesê onteiening sonder vergoeding sal eiendomsregte wegvreet. Hy sê dit beteken grond sal nie as kollateraal vir lenings gebruik kan word nie.
Die hoofbestuurder van Graan SA, Jannie de Villiers, is minder pessimisties. Hy het volgens Landbou.com gesê daar is genoeg mense in die regering wat deeglik bewus is van die vernietigende uitwerking wat die onteiening van grond sonder vergoeding sal hê.
Hy het vroeër die week op Kroonstad gesê geen grondonteiening sonder vergoeding oornag kan gebeur nie, en in elk geval nie ten minste voor die verkiesing in 2019 nie.
De Villiers het volgens Landbou.com gesê om onteiening sonder vergoeding enigsins te bewerkstellig, sal die grondwet eers gewysig moet word, waarvoor 75% parlementslede sal moet stem. Al die EFF- en ANC-parlementslede se stemme saam in die parlement verteenwoordig in totaal net 68.5%. Van die kommentators wat op Landbou.com se berig reageer het sê De Villiers het dit mis en dat daar slegs ʼn tweederdemeerderheid nodig is om die betrokke bepaling in die grondwet te wysig.
Buro: NB