Grondwetlike stryd oor sekswerk bereik kookpunt in hof

  • 0

Sekswerkers in Suid-Afrika behoort eersdaags groter duidelikheid te hê oor die toekoms van hulle beroep wanneer die grondwetlike reg daarvan dié week in die hof getoets word.

Die Wes-Kaapse Hooggeregshof hoor vandeesweek regsargumente aan om te bepaal of sekswerk gedekriminaliseer moet word.

Die hofsaak is deel van ’n breër stryd vir sekswerkers se regte, en die uitspraak kan lei tot nasionale hervormings in Suid-Afrika oor die wêreld se oudste beroep.

Aktiviste en hul teenstanders sê mekaar al dekades lank die stryd aan in ’n langdurige poging om die seksbedryf te erken.

Die saak is deur die Sex Workers Education and Advocacy Taskforce (SWEAT) en ’n individu aanhangig gemaak. Dit word beskou as is ’n keerpunt vir Suid-Afrika se menseregterekord, veral vir gemarginaliseerde groepe.

Hulle voer aan dat bestaande wette, soos die Wysigingswet op Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede) van 2007 en die oorblyfsels van die Ontugwet, die grondwetlike regte op waardigheid, privaatheid, vryheid van handel en beskerming teen geweld skend.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het reeds ’n moratorium geplaas op die vervolging van sekswerkers totdat die uitspraak gelewer word. Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het gekies om nie die saak te opponeer nie, wat strook met regeringsbeleid om sekswerk te dekriminaliseer.

SWEAT-woordvoerder Megan Lessing het aan Eyewitness News gesê dat die onwettige seksbedryf ’n potensiële belastinginkomste van R8 miljard kan inbring as dit gedekriminaliseer sou word. Lessing het gesê die dekriminalisering van sekswerk is reeds deel van regeringsbeleid en die Departement van Justisie het gekies om die saak nie teen te staan ​​nie.

Sy sê sekswerkers word dikwels slagoffers van geweld en word blootgestel aan gesondheidsrisiko’s as gevolg van die feit dat die bedryf ongereguleerd is.

“Daar is navorsing wat die regering gedoen het oor wat sekswerkers ervaar, die vlak van geweld wat hulle ervaar, beide van gemeenskappe in terme van stigma, dikwels fisieke en seksuele geweld, en dan ook die kwesbaarhede in terme van gesondheid.”

In Suid-Afrika is die verkoop en koop van seks tans onwettig en word dit as ’n kriminele oortreding beskou. Hierdie regsraamwerk het ’n beduidende impak op die regte en veiligheid van sekswerkers.

Huidige wetgewing maak feitlik elke aspek van sekswerk onwettig.

Artikel 11 van die Wysigingswet op Strafreg maak dit ’n misdryf om ’n seksuele handeling met ’n ander persoon te verrig in ruil vir ’n voordeel (soos geld). Dit kriminaliseer dus die sekswerker. Die wet maak dit ook onwettig vir kliënte om vir seks te betaal, asook vir derde partye om by sekswerk betrokke te wees, soos om ’n bordeel te bestuur.

Alhoewel die Suid-Afrikaanse Grondwet omvattende menseregte aan almal binne sy grense waarborg, insluitend die reg op waardigheid, liggaamlike outonomie en toegang tot gesondheidsorg, ondermyn die kriminalisering van sekswerk hierdie regte in die praktyk.

In 2022 het die kabinet ’n wetsontwerp goedgekeur om sekswerk te dekriminaliseer, maar vordering is stadig. Organisasies soos SWEAT en Asijiki Coalition het sedertdien hofaksies geloods. Vorige sake het dele van die wette onkonstitusioneel verklaar, maar nie die kern van sekswerk self nie.

Suid-Afrika se benadering kontrasteer met dié van lande soos Nieu-Seeland, waar dekriminalisering sedert 2003 sekswerkers se veiligheid verbeter het sonder om handel te laat toeneem.

Diegene wat teen die dekriminalisering van sekswerk gekant is, argumenteer dat dit prostitusie normaliseer, wat kan lei tot meer mensehandel of morele verval. Groepe soos Doctors for Life het dit in vorige debatte geopponeer, met bewerings dat dit vroue uitbuit.

Kritici vrees ook dat dit misdaad in sekere gebiede kan laat toeneem, alhoewel navorsing dit weerspreek. Sommige pleit vir die “Nordiese model” (waar kliënte  gestraf word, nie werkers nie), maar SWEAT argumenteer dit sal nie in Suid-Afrika werk nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top