Groot druk op nuwe spioenbaas om skelmstreke oop te vlek

  • 0

In ’n buitengewone gees van eenstemmigheid het politieke partye regoor die politieke spektrum die afgelope week eenparig gestem ten gunste van die aanstelling van Imtiaz Ahmed Fazel, huidige adjunkdirekteur-generaal van openbare werke en infrastruktuur, as Suid-Afrika se nuwe spioenbaas.

In ’n geskiedkundige oomblik in die Nasionale Vergadering is ’n 100%-stem ten gunste van sy aanstelling as die nuwe inspekteur-generaal van intelligensie (IGI) uitgebring. Al 334 parlementslede wat teenwoordig was, het ten gunste van Fazel se aansstelling gestem, met niemand wat buite stemming gebly het nie.

Fazel se eenparige goedkeuring deur parlementslede vir die topspioenasiepos geskied te midde van toenemende druk deur opposisiepartye dat daar behoorlike ondersoek ingestel word na die omstandighede rondom die beweerde diefstal van miljoene dollar by president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildsplaas.

Fazel se aanstelling moet nog deur Ramaphosa bevestig word.

Die spioenbaas beskik oor wye magte waardeur hy ondersoek kan instel na onder andere enige vorm van misbruik in die land se drie hoofintelligensiedienste, naamlik die staatsveiligheidsagentskap, militêre intelligensie en die polisie se misdaadintelligensie.

Moloto Mothapo, die parlementswoordvoerder, het in ’n verklaring gesê die komitee het altesaam 25 aansoeke vir die pos ontvang wat na ’n deeglike siftingsproses aan die vereistes ingevolge die Wet op Toesig oor Intelligensiedienste voldoen het. Die Gesamentlike Staande Komitee oor Intelligensie het toe 12 kandidate op die kortlys geplaas, met wie daar onderhoude gevoer is.

Hoewel hy een van die onderskatte kandidate tydens die onderhoudproses was, het Fazel ’n stewige agtergrond in die intelligensiegemeenskap.

Die joernalis en redakteur van die ondersoekende tydskrif Noseweek, Martin Welz, het op Twitter gesê Fazel se aanstelling is ’n unieke prestasie vir hom en vir die parlement. “Tydens die onderhoud met hom het hy ’n merkwaardige kennis van die werk geopenbaar en innoverende oplossings vir die probleme daarvan aangebied,” sê Welz.

Die ANC se voorkeurkandidaat in Junie was aanvanklik Frank Chikane gewees, maar hulle kon nie daarin slaag om die ander partye te oortuig dat hy die regte man vir die pos is nie.

Beide die DA en die EFF het die afgelope week die hoop uitgespreek dat die nuwe  IGI die Phala Phala-kwessie deeglik sal ondersoek.

"Ons wil hierdie kandidaat in die pos hê sodat hy Phala Phala sonder vrees of guns moet ondersoek," het Mbuyiseni Ndlozi van die EFF gesê.

Die DA sê in ’n verklaring hulle wil graag hê die nuwe IGI moet fokus op kwessies wat die burgery die afgelope maande aangegryp het. Volgens hulle moet die Phala Phala-kwessie en die opspoor en terugbesorging van die miljoene rand wat deur die staatsveiligheidsagentskap geplunder is, soos in die Zondo-kommissie-verhore onthul, bo-aan Fizel se prioriteitslys wees wanneer sy aanstelling deur die President bekragtig word.

Dianne Kohler Barnard van die DA sê in ’n verklaring hy is die man wat hulle glo die vermoë het om beslissend op te tree ten opsigte van mense wat honderde miljoene rande gebuit het – soos alles in “Technicolor detail” uiteengesit is tydens die Zondo-kommissie-verhore.

Sy sê dit is ’n besondere posisie en benodig iemand wat nie sal toegee aan druk van ministers wat met die staatsveiligheidsagentskap, misdaad- of verdedigingsintelligensie te doen het of wat poog om sekere gunstelinge binne hul departemente te beskerm nie. “Besluite moet geneem en geprioritiseer word ongeag hoe ongewild dit is.”

Volgens sy CV het Fazel in 2013 as adjunkdirekteur-generaal in die kantoor van die staatsveiligheidsagentskap gedien.

Hy het ook tussen 1997 en 2002 as konsultant vir die destydse ministerie van intelligensiediens gewerk.

Fazel het ’n meestersgraad in sekuriteitstudies en het ’n baccalaureusgraad in rekeningkunde.

Hy was ook ’n adjunkdirekteur-generaal vir risikonakoming en -bestuur by die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur, waar hy ’n ondersoek na die Beitbrug-grensskandaal gelei het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top