’n Ou gesegde, “Gee my ’n suurlemoen en ek maak limonade daarvan”, lééf in vele gedaantes in die huidige, onstuimige Suid-Afrika.
Want die skeppende gemeenskappe van die land blyk (ondanks die heersende resessie, ook die gewelddadige onrus en voorverkiesingschaos) hard besig te wees om die kunste lewendig, ook uitdagend, te belig.
Feeste (of festivals, soos ons Nederlands-genote dit noem) van alle gedaantes word gedurig gevier. Dit kan wees ’n aand om iets soos boerewors op ’n afgeleë dorpie te vier, of miskien ’n boekefees op ’n mooi, hoewel klein, dorpie; ook kosfeeste, wynfeeste, digtersfeeste, portretskilderfeeste en selfs feeste om kleilat te gooi – ’n ou Boerespeletjie waar kinders modderkluite op riete se punte plooi om dan te kyk wie sy klei die verste kan gooi.
Asof ’n fees die daaglikse werklikheid besweer, sal dorpe hul argitektuur, bome of tuine vier. Kultuurgroepe sal onderwerpe soos genealogie of sg boererate vier. In swart geledere word Afrika-uitbeeldings baie gewild. Musiek en ou tradisionele rites lok veral baie toeriste.
Etlike nasionale kunstefeeste vind dwarsdeur die jaar plaas, en ondanks die voortdurende gejammer oor ’n swak ekonomie word hierdie feeste deur letterlik duisende mense bygewoon.
Wat veral vanjaar in die nasionale feeste opduik, is gesprekke, waarnemings of uitbeeldings met betrekking tot die huidige maatskaplike, veral politieke, gebeure. Ewe sterk, en veral in die afgelope drie jaar, kom die maatskaplike problematiek aan bod.
So veral word die waarneembare toename in verkragtings en vrouemishandeling by die nasionale feeste bespreek. Ontstellende verskynsels soos (veral) die ontvoering en verkragting van jong meisietjies wil dui op die groei van ’n onderklas wat geen behuising of werk het nie. Ook – skrikwekkend – blyk dit dat die groeiende bendekultuur dikwels van jong mans, selfs seuns, vereis dat hulle iets soos ’n verkragting of ’n moord moet pleeg om lid van die bende te word.
Pas afgeloop is die gewilde Aardklop Nasionale Kunstefees wat jaarliks op die universiteitstad Potchefstroom gehou word.
Hier kon, soos by die ander groot feeste, die “temperatuur” van die huidige maatskaplike klimaat gemeet word.
Omdat landbou ’n dominante gesprekspunt is, is dit by die Aardklopfees, wat in ’n landbougebied plaasvind, ’n belangrike onderwerp. Opvallend hier was die positiwiteit van die boeregemeenskap ondanks die ANC-regeringsbeleid dat grond van (wit) boere ontneem sal word om aan (swart) grondlose mense te gee. Duidelik is die landbougemeenskap op oplossings gefokus vir beide opkomende (swart) boere en bestaande groot (wit) boere.
Wel het die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa (tot die verstomming van veral die boere) in die Verenigde Nasies in New York verklaar dat daar geen plaasmoorde is nie. Die President het hierdie leuenagtige uitlating nog nie tuis verdedig of herhaal nie.
“Betrokke” teater is ook kenmerkend van die toneelaanbod by hierdie feeste. Opvallend is die herbesinning van die verlede, en dan veral die apartheidsverlede.
Reeds het twee opspraakwekkende films begin draai oor die sg Grensoorlog van 1975–87, toe Suid-Afrikaanse troepemagte Angola binnegeval het om die nasionalistiese Unita party te ondersteun teen magte wat deur Rusland en Kuba die leierskap wou oorneem. Suid-Afrika se beweegrede was om ’n moontlik kommunistiese oorname in Angola te verhoed.
Hierdie oorlog is vandag hoogs omstrede, omdat dit onder apartheid gevoer was en ook oor die groot verlies aan soldate wat bloot opgekommandeer is om die oorlog in ’n vreemde beboste land, ook teen vroue en kinders, te voer.
In die film The Recce, sowel as in Kanarie, word die invloed van die oorlog op die soldate se families sowel as die jong soldate uitgelig, en in Kanarie word die verskynsel van gayverhoudings belig.
In Bloed en bodem, ’n teaterstuk, word ’n familie na drie generasies weer met die strakheid van ’n sterk calvinistiese verlede gekonfronteer.
In die beeldende kuns word opvallend veral deur jong swart kunstenaars hul omgewing uitgebeeld. Die opbloei van jong swart kunstenaars is inderdaad een van die kunste se groot geselsonderwerpe.
Die “vrouestem” in die kunste sluit aan by die universele stem oor selfbemagtiging, maar dit blyk dat hoewel ’n sterk aandrang heers dat vroue 50%-verteenwoordiging in feitlik alle instansies moet hê, kom mishandeling in ontstellende maat nog voor. Desondanks, of dalk as gevolg hiervan, kom daar indrukwekkende vrouestemme na vore in musiek, teater en veral in die digkuns. Baie van hierdie werk word in die inheemse tale aangebied, maar ’n groot aanbod kom ook in Engels. Inderdaad is sg swart teater stuwend uitgesproke.
Uiteindelik kom daar ook ’n “samekoms” in die kunste onder die verskillende rasse en kulture in die land voor. Versoening, aanklag, spot, vernedering, uitdaging en pret is die onderwerpe wat oral in die kunste opduik.
Dalk help die heersende kwaadwilligheid in die politiek om die kunste so te laat blom? Indien wel, dankie dan vir die suurlemoen van die politiek. Die kunste maak limonade daarvan.
Buro: MvH