Gupta pleit die ene onskuld

  • 0

Foto: YouTube

Een van die omstrede Gupta-broers wat verbind word met staatskaping waartydens miljarde rand uit die staatskas verdwyn het, Ajay Gupta, pleit die ene onskuld. Volgens Gupta wat saam met sy familie die hasepad gekies en landuit gevlug het toe hulle manewales aan die lig gekom het, het hy en sy familie niks verkeerd gedoen nie.

’n Verontwaardigde Ajay Gupta het aan die New York Times gesê hy wil sy naam in die reine bring. Die aantygings wat voor die Zondo-kommissie teen die Guptas  gelewer word, is volgens hom vals. Dit sluit bewerings in dat die Guptas  kabinbetsposte vir sekere mense aangebied het in ruil vir geld.

Die oudste van die Gupta-broers het aan die koerant gesê hy en sy familie het tussen die kruisvuur van sekere ANC-faksies en hulle besigheidsvennote beland.

“Ek sê nie ek weier om voor die kommissie te verskyn nie ... ek sal, maar  nie op hierdie oomblik nie.”

Volgens die New York Times volg die Guptas die nuus van die Zondo-kommissie obsessief en met toenemende frustrasie vanuit die buiteland waar hulle wegkruip. Verskeie getuies voor die kommissie het die afgelope maande dag na dag die een na die ander die Gupta-familie uitgewys as die meesterbrein agter die plundery van die staatskas wat volgens kenners miljarde rand bedra.

Die aantygings ontstel glo die Guptas. Hulle het egter geen planne om onder die huidige omstandighede na Suid-Afrika terug te keer om hulle kant van die storie aan die Zondo-kommissie te vertel nie. Hulle vrees glo dat hulle “onregmatig” gearresteer sal word as hulle na Suid-Afrika terugkeer.

Suid-Afrikaners volg die getuienis voor die Zondo-kommissie die afgelope twee maande soos ’n sepie. Die publiek staan verstom oor die oënskynlike invloed wat die Guptas gehad het toe hulle nog onder voormalige president Jacob Zuma se vlerk geskuil het voordat sy eie party hom die trekpas gegee het.

Waarnemers en regskenners meen die ondersoek na staatskaping kan nog jare lank sloer. Daar is ook geen waarborg dat die skuldiges aan die pen sal ry nie. Indien daar wel genoeg getuienis voor die Zondo-kommissie gelewer word, kan dit volgens sommige waarnemers as ’n katarsis dien vir die korrupsie wat die land tydens Zuma se bewind gekenmerk het. Daar word gesê dit sou vergelyk kon word met die destydse Waarheid- en Versoeningskommissie nadat die apartheidsregering tot ’n val gekom het in 1994, mits die waarheid aan die lig kom.

Die Guptas het hulle vroeër bereid verklaar om deur middel van ’n videokonferensie vanuit die buiteland voor die kommissie te getuig. Dit is deur die kommissie se voorsitter van die hand gewys. Adjunk-hoofregter Raymond Zondo het verlede maand ook ’n voorstel van die Guptas van die hand gewys dat hulle voor die kommissie sal getuig mits die kommissie self buiteland toe gaan en hulle daar laat getuig.

Volgens Gupta is sy gesin die slagoffer van ’n heksejag wat aangevuur word  deur polities gedrewe wetstoepassingsagentskappe. “Dit sal nie die kommissie se skuld wees as hulle kant van die storie nie gehoor word nie, maar omdat hulle self besluit het om hul rug op Suid-Afrika te draai,” het Zondo gesê.

Een van die mees dramatiese gevolge tot dusver tydens die Zondo-kommissie se ondersoek was die bedanking van die voormalige minister van finansies, Nhlanhla Nene. Hy het bedank toe dit aan die lig gekom het dat hy die Guptas verskeie kere by hulle huis besoek het in sy amptelike hoedanigheid. Hoewel Nene geweier het om te swig voor die Guptas en Zuma se druk om onder andere die kernkragooreenkoms met die Russe te onderteken, het sy besoeke aan die Guptas hom sy loopbaan as minister van finansies gekos.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top