Die geld wat as gevolg van die Gupta-broers se beweerde aandeel aan staatskaping uit die staatskas verdwyn het, beloop in die omgewing van R57 miljard, waarvan sowat R16 miljard volgens bronne in die Guptas se eie sakke beland het. Die res is blykbaar as beweerde omkoopgeld geblaas om gunste en gawes te wen.
Dié skokkende syfers oor die omvang van staatskaping tydens Zuma se bewindsjare is Donderdag tydens ’n gesprek by die Toyota US Woordfees genoem. Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) se forensiese ondersoeker, Rudie Heyneke, het gesê die Guptas het ’n fyn uitgewerkte plan gehad om al die land se staatsinstellings te kaap.
Hy was deel van ’n paneelbespreking wat gehandel het oor diewe, spioene en fluitjieblasers tydens Zuma se bewind.
Die ander deelnemers aan die gesprek was die oud-Skerpioene-baas, Bulelani Ngcuka, en Themba Maseko, ’n voormalige regeringswoordvoerder en fluitjieblaser. Die gespreksleier was Ilse Salzwedel.
Salzwedel wou van die paneel weet wat na staatskaping gaan gebeur en of die skuldiges aan die pen gaan ry.
Maseko het vertel hoe magtig die Gupta-broers was en hoe hulle mense in senior regeringsposte gehiet en gebied het.
Athul Gupta het byvoorbeeld glo heeltemal beheer oorgeneem van ’n groep Suid-Afrikaanse regeringsamptenare tydens ’n buitelandse besoek aan Indië. Alle afsprake met ministers en politici in Indië moes eers met hom uitgeklaar word.
Maseko sê Ajay Gupta wou hom ook insleep by sy planne toe hy regeringswoordvoer van Zuma was. Zuma het hom skynbaar persoonlik gebel en beveel om sy volle samewerking aan die Guptas te gee.
Tydens ’n vergadering by die Gupta-woning in Saxonwold, waarheen hy ontbied is, wou een van die Gupta-broers glo hê dat hy die regering se volle begroting van R600 miljoen vir media-advertensies op die Guptas se New Age-koerant moet spandeer. Maseko sê een van die Guptas het hom gruwelik vererg toe hy dit nie wou doen nie en het hom klaarblyklik subtiel begin dreig.
Hy sê hy het “gatvol” geraak vir die Guptas se dreigemente en dit het hom uiteindelik sy werk gekos toe hy nie na hulle pype wou dans nie.
Heyneke sê die “Gupta leaks”-dokumente wat in Outa se besit gekom het, tel sowat 2,2 miljoen, waardeur hulle moes worstel om agter die kap van die byl te kom.
Volgens hom is daar geen twyfel dat die Guptas ’n fyn uitgewerkte program gehad het om elke staatsdepartement wat hulle kon te probeer kaap nie, en uiteindelik moes hulle waarskynlik self verbaas gewees het hoe maklik hulle dit reggekry het.
Ngcuka sê ten spyte van alles is hy optimisties oor die land se toekoms en dat dinge weer beter sal gaan. Hy het steeds hoop vir die land. “Ek was agt maande in alleenaanhouding tydens apartheid en drie jaar in die tronk. Gedurende daardie moeilike tyd het ek dikwels gewonder of dinge in die land ooit beter sal gaan, en tog het ek dit in my leeftyd ervaar dat dit wel moontlik is.”
Hy sê vandag is dit weer sulke tyd en die land se mense moenie moed opgee nie, want dinge kan verander. Daar is reeds positiewe tekens dat dinge aan die verbeter is. Een van die voorbeelde is die aanstelling van advokaat Anton du Plessis as adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolging. Hy is met die hand uitgesoek deur die nasionale direkteur van openbare vervolging, Shamila Batohi, om haar tweede-in-bevel te wees.
Die paneel was dit eens dat verantwoordbaarheid die kernelement is om korrupsie en wanbestuur in die land te help hokslaan.
Volgens Maseku hoort die skuldiges in oranje oorpakke sodat almal kan sien wat die gevolge van staatskaping is. Hy sê die land se politici moet ook verantwoordbaar gehou word vir hulle optrede. In die derde plek behoort daar groter klem te wees op etiese gedrag. Die publiek moet aangemoedig word om fluitjieblasers en nieregeringsorganisasies wat korrupsie aan die kaak stel, te ondersteun. Hy sê gewone Suid-Afrikaners moet leer om hulle op alle gebiede teen korrupsie te verset en hulle nie te laat verlei om byvoorbeeld omkoopgeld te betaal om vervolging vry te spring nie.