Guptas lankal landuit

  • 0

Oudpresident Jacob Zuma se vriend, die voortvlugtige Athul Gupta wat landwyd deur die polisie gesoek word, is al die begin van die maand uit die land uit. Sy broer Ajay en oud-president Jacob Zuma se seun Duduzane is ook nog skoonveld en word steeds deur die polisie gesoek.

Die  nuusagentskap eNCA het gister bevestig een van die Guptas op wie se kop daar ’n losprys is, het Suid-Afrika reeds die begin van die maand verlaat.  Athul Gupta wil boonop die R10 miljoen in sy rekening terughê wat op die oomblik gevries is omdat dit na bewering wederregtelik aan hom betaal is deur die Estina-suiwelprojek by Vrede in die Oos-Vrystaat. Hy ontken dat die geld uit die omstrede Estina-projek aan hom betaal is en sê dis sy geld.

Die Afrikaanse radiostasie RSG het gister berig sy broer Ajay is volgens berigte in Indië. Hy en sy broer Athul het blykbaar ’n troue bygewoon in die staat Uttar Pradesh en daarna na ’n vakansiehuis in die noorde van Indië vertrek.

Verskeie ander rolspelers in Suid-Afrika se staatskaping wat deur die polisie gesoek word, is nog steeds op vrye voet.

Een van hulle is die seun van oudpresident Jacob Zuma. Volgens die naweekpers het hy reeds op 18 Januarie op ’n Emirates-vlug na Dubai vertrek waar hy ’n woonstel van R17 miljoen het wat deur die Guptas vir hom gekoop is. Sedert dit bekend geword het Zuma se seun word ook deur die polisie gesoek, is daar niks weer van hom gehoor nie. Sy pa self, die oudpresident,  het ook niks verder van hom laat hoor nadat hy verlede Woensdag kort voor middernag bedank het nie.

Hy was uitgenooi om verlede week se staatsrede in die parlement by te woon wat deur Suid-Afrika se nuwe president Cyril Ramaphosa gelewer is, maar het geskitter in sy afwesigheid. Twee van Suid-Afrika se vorige presidente Thabo Mbeki en FW de Klerk het wel die staatsrede bygewoon.

The Times of India het die afgelope naweek ook berig twee van die Gupta-broers, Ajay en Athul, is verlede week in Indië opgemerk.

Die minister van polisie, Fikile Mbalula, het Sondag in ’n spesiale onderhoud aan die SAUK onthul die polisie se spesiale ondersoekeenheid, die Valke, spits hulle nou op Dubai, Indië en China toe om die voortvlugtige Gupta-broers en oudpresident Zuma se seun op te spoor weens hulle rol in die Vrystaatse suiwelprojek waarvoor daar reeds verskeie lasbriewe uitgereik is.

Dertien verdagtes is reeds geïdentifiseer in verband met korrupsie. Agt van hulle het verlede week in die hof verskyn en is uit op borgtog.

Mbalula het gesê Suid-Afrika se nuwe president Cyril Ramaphosa het opdrag gegee dat die skuldiges gejag word en dat niemand ontsien word nie. Hy sê Ramaphosa streef na ’n korrupsievrye Suid-Afrika en dit sal die polisie se hand sterk om hulle werk sonder vrees of begunstiging te doen.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top