Die foto uit Davos, Switserland was genoeg om jou na jou muesli te laat wend en mense met rosyntjies te begin bestook, of hulle met ’n fonduestokkie aan die brand te probeer steek.
Mthuli Ncube, Zimbabwe se minister van finansies, geklee in ’n duur pak klere en ’n syserp, vertel aan joernaliste dat die jongste onrus in sy land, waarin 12 mense dood is, 300 of so aangehou en gemartel is en talle ander nog soek is, “was just a blip on the agenda of reform”.
Foto: YouTube
Vyf lede van die parlement is in arres, aktiviste is uit hul huise gepluk en verskeie mense aangekeer eenvoudig omdat hulle soos betogers lyk, volgens menseregte-organisasies. Dit alles nadat president Emmerson Mnangagwa se woordvoerder, George Charamba, gesê het dit was net die eerste proesel van wat nog gaan kom.
Mnangagwa praat soos die Weste, maar maak soos die Ooste. Na sy oorname by Robert Mugabe in ’n staatsgreep het hy ’n nuwe, vrye Zimbabwe met ’n neoliberale beleid belowe. Die regering se optrede herinner ’n mens egter aan die Laat ’n Duisend Blomme Bloei-veldtog van Mao Zedong in die jare vyftig in China.
Toe het Mao die land se intellektuele klas genooi om kritiek te lewer op die regering, wat dit dan sou gebruik om te hervorm. Maar Mao se weermag het die name van die petisieskrywers gebruik om ’n grootskaalse reiniging onder sy kritici te loods. In Zimbabwe het die geesdriftige deelname van aktiviste en kritici aan die debat oor ’n nuwe Zimbabwe bloot daartoe gelei dat hulle as individue geteiken is in die weermag se reaksie op protes teen die 150%-verhoging in petrolpryse.
En net soos China sou, het die regering die internet laat afskakel, sonder om ag te slaan op die gevolge vir die land se benarde ekonomie.
Suid-Afrika kan verwag om ook gebuk te gaan onder die gevolge van Harare se regeringsterreur. ’n Nuwe stroom vlugtelinge is aan die kom, en waar vorige geslagte vlugtelinge nog welkom was en met vrug in die Suid-Afrikaanse ekonomie opgeneem is weens hul bewese vaardighede wat deur ’n sterk onderwysstelsel verskaf is, is dit opmerklik hoe swak opgelei die nuwe geslag is – sommige kan skaars Engels praat. Dit beteken net meer uitbuiting en lyding in ’n land met sy eie 6,2 miljoen werkloses, en dikwels ’n toetrede tot misdaad – Zimbabwiërs is gewild as die voetsoldate van bendes in Suid-Afrika.
Maar in ’n sin is dit ’n geval van die vrot vrugte pluk van Suid-Afrika se perverse beleid teenoor Zimbabwe deur die jare, ’n beleid wat ook elders in Afrika tot politieke stase, onderdrukking en die ondermyning van die demokrasie lei.
Die Suid-Afrikaanse wonderwerk het die verbeelding om twee redes aangegryp: die vermoë van onderhandelaars om saam te werk aan die ontwerp van ’n nuwe land, en die katarsis en geregtigheid wat deur die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) gelewer is. Nelson Mandela, die eerste swart president, het vroeg laat blyk waar sy voorkeur lê vir Suid-Afrika se beleid om ’n voorbeeld te word vir ander state in konflik.
Die WVK is dan ook met vrug elders ter wêreld gebruik, met veral Liberië as ’n suksesverhaal, en selfs Nigerië, waar die pers en intellektuele klas sterk bevorder is, al het sy weergawe daarvan misluk.
Tot Thabo Mbeki aan bewind gekom het. Wat Mbeki kennelik uit Suid-Afrika en ander se onderhandelinge geleer het, was dat die politieke klas in enige land in die eerste plek vir homself sal sorg. Sy lede – en dit maak nie saak aan watter kant nie, links of regs – sien hulself as deel van ’n geglobaliseerde institusionele opset waarin hulle uitverkore is om eindeloos te beraadslaag. Die eerste toepassing van die Mbeki-model was met die Kongolese burgeroorlog.
Die Kongo se politieke klas is te Sun City geskep, die dobbelpaleis van apartheid. Ewigdurende onderhandelinge het verseker dat die deelnemers die lekker lewe kon lewe en gereelde uitstappies na Sandton se winkels reël met hul ruim stipendiums. Gewoontes is aangeleer wat die politiek van die land sou bepaal.
In die onlangse verkiesing het almal dus ingeval by die vorige president, Joseph Kabila, se keuse vir president, Felix Tshisekedi, al is dit hoogs te betwyfel dat hy die duur en moeilike verkiesing gewen het. Enigiets om as parlementariërs op die kringloop van hotelle te kom.
Later is die model ook in Burundi en Suid-Soedan toegepas. ’n Nuwe burgeroorlog het in laasgenoemde uitgebars en in Burundi is ’n nuwe diktator aan bewind.
Mbeki se houding teenoor Zimbabwe was tweeslagtig. Hy het ’n weersin in Robert Mugabe se menseregtevergrype gehad, maar wou terselfdertyd die regime laat slaag met veral sy grondbesettings, ten einde die haalbaarheid daarvan as ’n oplossing ook vir Suid-Afrika te probeer behou. Sy diplomasie het die twee partye in die kwansuise demokrasie as deelnemers aan ’n burgeroorlog voorgestel, hoewel net een kant gewapende magte gehad het.
Onderhandelinge was nodig.
Hy het sy eie span van twee regters se verslag oor Zimbabwe, wat bevind het dat die opposisie, die MDC, van ’n oorwinning in verkiesings beroof is, dus geïgnoreer en met onophoudelike druk is die MDC uiteindelik in “vredesonderhandelinge” ingetrek.
Dit het uitgeloop op die spektakel van parlementslede van albei partye wat baklei oor hul nuwe viertrekvoertuie en huise toe die nuwe regering van nasionale eenheid ingestel is. In die jongste betogings het die parlementslede laat blyk hulle is ook ongelukkig, want hulle kry nie meer driegangmaaltye in hul restaurant nie.
As Mbeki van die begin af die WVK as oplossing voorgehou het, MDC-vlugtelinge in Suid-Afrika in Zimbabwe se verkiesings laat stem het, en Mugabe gedwing het om hom aan so iets te onderwerp, sou die land heelwat anders daar uitgesien het. Die grondhervorming sou waarskynlik ook kon geslaag het met wit boere aan boord.
Vandag het Zimbabwe net die skyn van demokrasie. Die parlement is nutteloos. Mugabe se voormalige regterhand vir 37 jaar, Mnangagwa, doen wat hy wil. Ook Suid-Afrika se president Cyril Ramaphosa volg Mbeki se pro-Mugabe-uitsprake deur in Davos ’n beroep op die Weste te doen om sanksies op lede van die politieke klas af te skaf.
Al hoop vir Zimbabwiërs is om slawewerk in Suid-Afrika te gaan probeer soek.
Buro: MvH