Heftige reaksie oor Wilgenhof se voorgestelde sluiting

  • 0

Die voorgestelde sluiting van die omstrede Wilgenhof-koshuis aan die Universiteit Stellenbosch (US) het heftige reaksies uitgelok van veral oudstudente van die universiteit.

Vir sommige is die hele bohaai oor Wilgenhof ’n storm in ’n teekoppie en ’n verlies aan tradisie. Ander beskou dit as ’n geleentheid om te wys die universiteit is ernstig om te transformeer tot ’n instelling waar alle Suid-Afrikaners welkom voel.

Dit volg nadat die US ’n aanbeveling van ’n paneel aanvaar het dat Wilgenhof, die universiteit se oudste manskoshuis is, gesluit moet word.

Die koshuis sal moontlik sy deure aan die einde van hierdie jaar moet sluit. Die universiteitsraad sal later vandeesmaand dié besluit neem wanneer die rektor en visekanselier, Wim de Villiers, die voorstel aan hulle voorlê.

Wilgenhof was onlangs opnuut in die nuus ná die ontdekking van sekere items wat glo verband hou met beweerde geïnstitusionaliseerde rassisme in twee kamers van die koshuis vroeër in 2024.

’n Paneel van drie persone is aangestel om te ondersoek of beweerde onaanvaarbare praktyke vermoedelik by Wilgenhof toesgemeer word.

Die universiteit sê indien die aanbeveling deur sy raad aanvaar word, sal Wilgenhof aan die einde van 2024 sluit, en alternatiewe gebruike van die ruimte sal vir 2025 bespreek word.

Die adjunkvisekanselier vir leer en onderrig, Deresh Ramjugernath, het gesê: "Die ontdekking van die inhoud en aanstelling van die paneel volg op die universiteit se konsekwente bevestiging van sy standpunt oor die versekering van die waardigheid van al ons studente en personeel en ’n verbintenis om onaanvaarbare praktyke uit te roei by ons kampusse en universiteitstudenteverblyf."

Die reaksie van die publiek wissel van ondersteuning ten gunste van die besluit tot algehele verwerping.

“Absurd ... Absurd ... Absurd ... Wonder wat dr Craven te sê sou hê,” het die vuurvreter-Springbok van die ’80’s, Schalk Burger, op X geskryf.

Burger se kommentaar het ’n storm op sy eie ontketen. Sommige wou weet of hy deel was van “die Wilgenhof-kultus”, terwyl ander meen dit sal ’n verlies van tradisies wees. “Die manne van veral Wilgenhof sal hulle stemme moet dik maak ... Ons moet waak teen die tiepe (sic) anti-Afrikaanse haat,” het iemand anders op Burger se inskrywing reageer.

Die oudjoernalis en voormalige Afrikaanse koerantredakteur van Volksblad, Hennie van Deventer, het op die Facebook-blad Nagkantoor, waar verskeie oudjoernaliste kommentaar oor nuusgebeure lewer, gesê die nuus dat Stellenbosch (moontlik) die koshuis se deure wil sluit, is ’n begrafnis vir ’n Matie-tradisie met diep wortels.

“Ek het dit nie verwag nie. My verkeerde lesing van die situasie daar verg ’n verskoning, soos ek onderneem het. Jammer, Wim de Villiers, jammer US. Vir hierdie trotse Tukkie en Kollegeman is dit egter ’n onverstaanbare kniebuiging na politieke korrektheid en ’n verarming van die studentelewe in hierdie vorige mekka vir geslagte Afrikaanse studente.”

Van Deventer sê ’n swaard hang nou oor elke koshuis wat volhardend sy tradisies uitleef. “Maties sal nooit weer Maties wees nie. Wat ’n jammerlike stap agteruit,” sê hy.

Andries Erwee het in sy reaksie op Van Deventer se stelling gesê die nuus dat Wilgenhof (moontlik) moet sluit, is nie in die minste verrassend nie, en selfs ook nie skokkend nie.

Hy meen die koshuis het oor baie jare wonderlike dinge vir baie gedoen, maar dat dit wat in 2020 tot 2023 vermoedelik daar plaasgevind het, noodwendig tot kriminele vervolging moet lei. “Ons gaan nog baie jare sukkel met ’n omgewing waar menseregte ook tot ’n dramatiese afname in beheer lei. Dinge wat bloot ondenkbaar is vind nou in die ‘donker’ plaas,” meen Erwee.

Daar is by baie mense min twyfel dat die US-raad wel die aanbeveling sal aanvaar om die koshuis te sluit.

  • Die paneel wat aanbeveel het dat die koshuis gesluit word se verslag en motivering vir hul aanbeveling kan hier gelees word.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top