Here to there by die Kunstekaap: ’n Herontdekking van verlede en hede

  • 0

 

Postkolonialisme.

Die postkoloniese oomblik.

’n Postkoloniale liggaam.

Iewers tussen term en begrip word die woord nie net as akademiese voertaal gebruik nie, maar sit dit op straathoeke, in busse en treine en tussen alledaagse omgang en bestaan. Die postkolonialisme is ’n tyd en plek waarin ons almal onsself bevind. Achille Mbembe beskryf in ’n 2002-onderhoud die term as ’n tyd-ruimte wat gekarakteriseer word deur verspreiding en veelsydigheid. ’n Era van verplaaste verstrengeling. ’n Eenheid wat geskep word uit blote verskil. Mbembe se beskrywing van die eietydse politiese oomblik lui self ’n nostalgiese klokkie wat ons eie land se leuse oproep: “!ke e: /xarra //ke” – “eenheid deur diversiteit”. Dit is ook dan dié term wat as beginpunt dien vir Here to there, ’n plekspesifieke werk wat dans en die gesproke woord as medium gebruik om ondersoek in te stel na die gedeelde, en dikwels morsige, geskiedenis van Suid-Afrika en Nederland. Die stuk gebruik interdissiplinêre kunsvorme om vrae aan die gehoor te stel rondom die invloed van Nederland op Suid-Afrika, beide geskiedkundig en binne die huidige oomblik; hoe die geskiedenis van kolonialisme op Suid-Afrika ingegraveer is; en waar die individu se liggaam binne die politiese realiteite lê.

Die stuk begin met die Nederlandse koreograaf en danser Niki van Callandt wat buite Kunstekaap se parkeerterrein op ’n groen bankie sit. Dit bied ’n eenvoudige beeld van ’n wit vrou wat sit en wag terwyl die Kaapse naglewe om haar ontvou – die karwagte wat baklei oor wie na watter kar gaan kyk; ’n man wat verby die teater draf en uit blote nuuskierigheid by die gehoor kom aansluit; die MyCiti-bus wat moeë werkers stadig uit die stad ontruim. Dan tree Koleka Putuma, die veelbekroonde Suid-Afrikaanse digter, se stem in gesprek met die beeld. Die opname van Putuma wat feitelik te sprake gaan oor besitting, die swart liggaam en die verbruik van die liggaam speel oor en oor oor ’n luidspreker, terwyl daar in Nederlands ’n lys van swart voorwerpe opgenoem word. Uit die staanspoor word die twee tale, en die liggaam binne die taal, as knooppunt van die stuk aangebied. In die brose oomblik word die gehoor gekonfronteer met jare se koloniale geskiedenis, nie net deur taal nie, maar deur liggaam en die ruimte waarin die liggaam ontmoet word.

------------------------------------------------------

"Die stuk gebruik interdissiplinêre kunsvorme om vrae aan die gehoor te stel rondom die invloed van Nederland op Suid-Afrika, beide geskiedkundig en binne die huidige oomblik; hoe die geskiedenis van kolonialisme op Suid-Afrika ingegraveer is; en waar die individu se liggaam binne die politiese realiteite lê."

------------------------------------------------------

Waarom word die wit liggaam voor my as gehoorlid geplaas, as die gesprek een van swart-liggaamlike uitbuiting is? Waarom kan ek beide die Engelse poësie van Putuma en die Nederlandse lys wat voorgedra word, verstaan? Dring die twee tale met mekaar mee? Praat hul saam? Of bied die een taal konteks vir die ander? En as dit die geval is, watse taal moet ek as die dominante taal aanskou? Maak dit saak dat die stuk plaasvind in die destydse Nico Malan-teater, wat opgerig is om die 10de herdenking van die Republiek te vier? Moet ek dalk weer my oog toelaat om die karwagte van nader te beskou? Is hul liggame nie net bloot simbolies van kapitalisme, kolonisering en uitbuiting wat iewers, jare terug, ontstaan het nie? Waar moet ek my eie liggaam plaas in verhouding met hulle s’n? Ek self is dan ’n spieëlbeeld van die wit vrou wat op die bankie sit.

Die stuk verskuif dan na verskillende ruimtes rondom die Kunstekaap-teater, en soos dit verskuif, word die gehoorlede saamgeroep en moet hulle in die proses hul eie liggame verskuif en heroriënteer. Die stuk word deur dans en koreografie verder gevoer en die gehoor aanskou hoe liggame mekaar aanraak, hoe vingers soek en voete die soekende weer opsy skop. Met elke oomblik word die geweld van tastende liggame verder gevoer, word die spasie tussen gehoor en akteur kleiner. Die stuk eindig in ’n donker tonnel wat terugloop na Kunstekaap se ondergrondse parkering. Teen die mure blink NP Van Wyk Louw se woorde, kunswerke oor die land se geskiedenis en die teater se plakkate wat om een of ander rede sinister begin lyk. Maar dis donker. Ons, as gehoor, kan nie werklik sien hoe die kunswerke lyk nie, al word daar deur die akteurs vir ons die opdrag gegee om daarna te kyk.

Die eerste ding wat my oog vang, is die land se leuse wat kinderlik teen die muur geverf is. Helder kleure. Dit moet dan vrolik wees. Nie waar nie?

Ons beweeg al hoe dieper in die tonnel in – só ver dat die gehoor op ’n punt teen mekaar skuur en styf langs mekaar moet sit om te kan sien. Dit word intiem. My liggaam is nie meer myne alleen nie, maar verdwyn tussen ’n see van liggame. Diverse liggame, elk met hul eie identiteit, taal en kultuur. ’n Postkoloniese oomblik wat weer eens die onderwerp van Here to there eggo en vergestalt. Die gehoor word uitbeelding van geskiedenis wat saamgeloop het en nou binne ’n tyd-ruimte saamsmelt en nuwe betekenis probeer skep. Dwarsdeur die stuk vind daar ’n gesprek tussen die gehoor, die individu se liggaam, taal en ruimte plaas. ’n Mens weet later nie waar die een ontstaan en die ander uitloop nie. Die stuk skep postkoloniale collage: ’n palimpses van geskiedenis, taal, die teater, die land en elke individu wat saam die gehoor vorm. Deur die gebruik van interdissiplinêre kunsvorme word elkeen van die temas ’n voorwerp wat die gehoor uitnooi om krities daaroor te dink, dit te bevraagteken.

Die finale oomblik waarmee die gehoor gekonfronteer word, is die beeld van vyf liggame wat saam hande neem en as een organisme in die donker in terugbeweeg. ’n Eenheid wat bly sukkel, wat bly beweeg, wat bly wroeg. Dit is nie gemaklik om saam te bestaan nie. Die beeld roep die idee op dat die postkoloniale liggaam as fragment ontstaan, bestaan. Een wat nie in ’n eenvoudige narratief toegedraai kan word nie. Daar is ’n soeke tot samesyn, tot samehang, maar die liggaam spoel dikwels terug na die posisie van ontwrigting, die posisie van diskontinuïteit.

Beweeg ’n mens werklik vorentoe deur agtertoe te beweeg? Waar is hier en waar is daar? Is verlede waar hede ontdek kan word? Of hede bloot terugkeer na die verlede toe?

Uiteindelik word daar aan die gehoor erken dat die enigste manier vorentoe een van kompromie is, een van saam probeer luister en ontdek.

Soos die akteurs verdwyn en ’n mens net hul asems hoor, besef ek die gehoor haal self swaar asem. Dit is ’n reusetaak waarmee die stuk ’n mens laat, maar ’n relevante een. Een wat die postkoloniale oomblik nie net konkreet voor ’n mens neerplaas nie, maar een wat ’n mens uitnooi om werklik daaroor na te dink.

Soos ek van die teater wegstap – verby die man wat weer huis toe draf, verby die karwagte wat op my afgestorm kom, verby die MyCiti-busbestuurder wat gou ’n sigaret probeer rook – besef ek dat ons, as ’n samelewing, dieper in die verlede moet delf. Nie as ’n gegewe feit nie, maar as ’n herinnering wat tot vandag toe in ons alledaagse bestaan ontdek kan word. Nog so meer is dit belangrik dat werk van veeltaligheid, van diverse en soms kontrasterende identiteite en van verskeie kontinente, gemaak word. Dít is die werk wat ons meer krities en bewus van samelewing gaan maak. Wat die postkoloniale nie net as ’n tydperk van verplasing en verstrengeling gaan laat bekend staan nie, maar as ’n tydperk van veelsydige tale, liggame en ruimtes wat krities oor elke aspek van saambestaan gaan probeer omgaan.


 

Here to there is deur Koleka Putuma en Niki van Callandt ontwikkel met die ondersteuning van Kunstekaap en Afrovibes.

Regie: Koleka Putuma en Warona Seane.

Dramaturg: Warona Seane.

Koreografie: Niki van Callandt.

Akteurs: Luke de Kock, Koleka Putuma, Conway October, Kimberly Agyarko en Niki van Callandt.

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top