Het die nag vir Suid-Afrika aangebreek?

  • 0

 Die Sondagblad Rapport het verlede naweek op die voorblad van sy Weekliks-meningsbylae slegs drie woorde in wit teen ‘n donker agtergrond geplaas. Die drie woorde het in hul eenvoud die kompleksiteit van die gemoed van ’n ganse land op ’n kragtige wyse saamgevat.

Dit was ook ’n skokkend-akkurate beskrywing van hoedat staatsinstellings en, in die besonder, plaaslike regerings die een ná die ander ineenstort, sonder hoop dat dit gou weer sal kan herstel. Hierdie ineenstorting of vernietiging kom, toegegee, lank reeds aan – en wat die nasionale staat betref, word die meeste skuld voor die deur van die voormalige president, Jacob Zuma, gelê. Maar die kanker het aanhou versprei selfs nadat hy die pos verlaat het; en die politieke diagnose dui daarop dat dit veel te make het met die aanstelling van (nie altyd bekwame) mense in belangrike posisies, ’n voorreg wat hulle verkry weens hul lidmaatskap van die regerende party en dié se beleid van kaderontplooiing.

Hoewel daar in sekere opsigte verbetering getoon word by, sê maar, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Nasionale Vervolgingsgesag, is daar byvoorbeeld nog net die afgelope week weer amptenare van die departement van binnelandse sake oor die uitreiking van vals reisdokumente in hegtenis geneem.

Noudat die Zondo-kommissie na staatskaping uiteindelik die vyfde en finale aflewering van sy verslag aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig het, miljarde rande later, is die verwagting dat dringend teen die geïmpliseerdes opgetree sal word. In dié opsig word spesifiek ook gekyk na die wyse waarop die regerende ANC die saak sal hanteer – want behalwe dat die vergrype hoofsaaklik gedurende die Zuma-era plaasgevind het, word bevindings ook teen ’n velerlei ANC-leiers deur die kommissie gemaak. Terselfdertyd word die beleid van kaderontplooiing deur die kommissie as “ongrondwetlik” verwerp.

Wat nie uit die oog verloor moet word nie, is dat tot Ramaphosa self deur Zondo voor stok gekry word omdat hy mos knus langs Zuma as dié se adjunk in die party en presidensie gesit het toe Zuma glo die Gupta-broers ’n geleentheid gebied het om staats- en presidensiële besluite en stappe te neem. Om te bedank, het Ramaphosa in sy getuienis voor die kommissie geskerm, sou gewoon die hoofopskrifte in koerante gehaal het, maar sou nie die staatskapers gestuit het nie. Hy sou aanbly (het hy geargumenteer) ten einde druk van binne uit te oefen – en daarom het hy, nadat hy die partyleisels in Desember 2017 en die staat s’n in Februarie 2018 by Zuma oorgeneem het, belowe dat ’n nuwe daeraad van skoon, korrupsielose regering en beter dienslewering sou volg.

Oor sy prestasierekord bestaan daar meningsverskille. In sekere opsigte het hy goed gedoen met aanstellings in kritieke poste, maar in ander opsigte sit Suid-Afrikaners steeds vasgekeer in ’n moeras van werkloosheid, armoede en ongelykheid. ’n Kundigheidspaneel, onder leiding van Sandy Africa van die Universiteit van Pretoria, wat ondersoek moes instel na die oorsake van verlede Julie se oproer in KwaZulu-Natal en Gauteng, het juis hierdie sogenaamde “drievoudige uitdagings” (werkloosheid, armoede en ongelykheid) as een van die kernfaktore geïdentifiseer. Maar almal het geweet, en dit is ook so deur die paneel beklemtoon: Zuma se inhegtenisname - wat die plundery voorafgegaan het - het ook as ’n aanhitser van die geweld gedien, of is as sodanig deur die (steeds gesiglose) hoofaanstigters uitgebuit. Ons wag steeds dat hulle aangekeer word.

Intussen gaan die plundery van hulpbronne, hetsy dit deur korrupsie of die optrede van misdadigers is, asook die ontwrigting van staatsstelsels, bloot voort. Die nasionale noodtoestand met onvoldoende kragvoorsiening staan sentraal hierin; “sabotasie” is ’n beskrywing wat reeds enkele kere as oorsaak deur die bestuur van die kragvoorsiener Eskom ingespan is. Dit is dan ook waarna die Rapport-Weekliks se voorblad verwys het: Oneindigende beurtkrag, wat net vererger (sleg, slegter, slegste). Maar dan word werkers by Eskom beloon met hoër salarisse – ten spyte daarvan dat hulle deur ’n onwettige staking daarop aangedring het.

Hier sit ons nou, almal tesame, arm en ryk, sonder aansiens des ras, geloof of geslag, gyselaars van die oorblyfsels van staatskaping en voortgesette ondermyning van enige poging om herstelwerk te doen.

Geen vooruitsig bestaan dat dinge binnekort handomkeer sal verander nie. Dit kan dalk net erger, bepaald omdat die manne en vroue in die regering almal - met die uitsondering van een minister (Patricia de Lille van die Good-party) - vasgevang is in die aanloop tot die ANC se leierskapverkiesing in Desember. Ramaphosa se vyfjaartermyn sal by dié konferensie met ’n verdere vyf jaar verleng word óf dit kan sy afskeidspartytjie van sy partyleierskap wees. Ontleders skyn saam te stem dat daar nie tans enige ernstige teenstander vir hom is nie, maar wat is die politiek indien nie onvoorspelbaar nie?

Die Rapport-opskrif het dalk spesifiek na die kragkrisis verwys, maar dit is ongetwyfeld ook ’n scenario wat van toepassing gemaak kan word op die onsekerheid (of angstigheid?) oor watter ANC-groepering in Desember sal triomfeer. Die verkeerde keuse sal die drie woorde in die opskrif soos sout in ’n oop wond vryf: Nag, Suid-Afrika.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top