’n Beduidende stap is die afgelope week geneem om die uitsterwing van die Afrika-pikkewyn (Brilpikkewyn) te voorkom.
Dit volg ná ’n historiese regsooreenkoms tussen Suid-Afrikaanse natuurbewaarders en die visbedryf. Die ooreenkoms, wat deur die Pretoriase Hooggeregshof as ’n hofbevel geformaliseer is, stel ’n nuwe visvangverbod in rondom ses van die belangrikste broeikolonies van die pikkewyne. Hierdie kolonies sluit dié in op Robbeneiland naby Kaapstad en Bird-eiland in Algoabaai oorkant Gqeberha.
Geen sardyn- of ansjovisvangste sal toegelaat word binne ’n radius van 20 kilometer rondom hierdie twee kolonies nie. Dit is die grootste uitsluitingsones in die ooreenkoms, wat daarop gemik is om die pikkewyne se voedselbronne, veral sardyne en ansjovisse, te beskerm.
High Court victory for the Critically Endangered African Penguin. We are proud to share that an out of court settlement has been reached, which was subsequently endorsed by the DFFE. Click on the link to read the full press release:https://t.co/H3RhVlddmw… #SaveTheAfricanPenguin pic.twitter.com/VtsTtKWPrE
— SANCCOB (@SANCCOB) March 19, 2025
Bewaringskundiges en die visbedryf is reeds jare lank in ’n geskil betrokke oor hoeveel kommersiële visvang bygedra het tot die Afrika-pikkewynbevolking se skerp afname en tot watter mate visvangbeperkings die dreigende uitsterwing van dié pikkewyne sou stuit.
Die Suid-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls (SANCCOB) en BirdLife Suid-Afrika het die hofuitspraak bestempel as ’n geskiedkundige oorwinning vir Suid-Afrika se kritiek bedreigde Afrika-pikkewyn.
Great news for the Critically Endangered African Penguin! 🐧 South Africa has agreed to establish no-fishing zones around six major breeding colonies, a huge victory thanks to the relentless efforts of our National Partner @birdlifesa.bsky.social 🌍💙 Read more: www.theguardian.com/environment/...
— BirdLife International (@birdlifeglobal.bsky.social) March 18, 2025 at 7:21 PM
SANCCOB is ’n nie-winsgewende organisasie in Suid-Afrika wat daarop gefokus is om seevoëls, veral die Afrika-pikkewyn, te beskerm en te rehabiliteer. Dit is een van die sleutelspelers in die bewaring van bedreigde kusvoëlspesies en speel ’n groot rol in die redding, rehabilitasie en bewaring van hierdie diere.
Die Suid-Afrikaanse Pelagiese Visbedryfvereniging en die Oos- en Suid-Kaapse Pelagiese Vereniging het die ooreenkoms as ’n “middeweg-kompromis” verwelkom. Hulle glo dit balanseer bewaring met die sosio-ekonomiese impak op die bedryf.
Die Afrika-pikkewyn, wat slegs in Suid-Afrika en Namibië voorkom, se getalle ervaar ’n ernstige afname. ’n Eeu gelede was daar meer as ’n miljoen broeipare, maar vandag is daar minder as 10 000 oor. Die bevolking krimp teen ’n tempo van ongeveer 7,9% per jaar. Sonder ingryping kan die spesie teen 2035 in die natuur uitsterf. Die grootste bedreiging is die afname in hul voedselvoorrade, wat deels veroorsaak word deur mededinging met die kommersiële visbedryf wat dieselfde vissoorte (sardyne en ansjovisse) teiken.
Alistair McInnes van BirdLife SA het die hofbevel in ’n verklaring as ’n “belangrike mylpaal” beskryf, nie net vir die pikkewyne nie, maar ook vir ander mariene spesies soos Kaapse malgasse (Cape Gannets) en Trekduikers (Cape Cormorants) wat op dieselfde visse staatmaak. Dit is twee seevoëlspesies wat inheems is aan die Suid-Afrikaanse kuslyn en dikwels in dieselfde ekosisteem as die Afrika-pikkewyn voorkom. Hulle is ook afhanklik van soortgelyke voedselbronne, soos sardyne en ansjovisse.
Nicky Stander van SANCCOB het die ooreenkoms ’n “beduidende stap” genoem, maar beklemtoon dat die stryd nog nie verby is nie, gegewe ander bedreigings soos klimaatsverandering en geraasbesoedeling.
Die ooreenkoms is die resultaat van jare se spanning tussen natuurbewaarders en die visbedryf. BirdLife South Africa en SANCCOB het in Mei 2024 die voormalige omgewingsminister, Barbara Creecy, voor die hof gedaag. Hulle het geargumenteer dat die bestaande verbodsones “biologies betekenisloos” was en nie genoeg beskerming bied nie.
Die nuwe minister, Dion George, wat in Julie 2024 aangestel is, het ’n skikking buite die hof nagestreef, wat uiteindelik tot hierdie ooreenkoms gelei het. Die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewing (DFFE) het die finalisering van die skikkingsooreenkoms as ’n hofbevel verwelkom.
George het die hofbevel in ’n verklaring as ’n monumentale prestasie geprys: “Vandag is ’n triomf vir bewaring en volhoubare ontwikkeling. Hierdie skikking bevestig die DFFE se langdurige verbintenis tot die beskerming van ons pikkewyne en biodiversiteit, terwyl die visbedryf se lewensvatbaarheid verseker word. Ek is geweldig trots hoedat dit in ’n gees van samewerking en bewaring bereik kon word.”
Yesterday we @environmentza celebrated the historic victory with court order securing Penguin protection settlement! pic.twitter.com/GHdwnX76f7
— Dr Dion George (@Dr_Dion_George) March 19, 2025
Die Departement van Bosbou, Vissery en Omgewing het twee weke om die nuwe permitvoorwaardes in te stel, en monitering sal deurslaggewend wees om te verseker dat die sonebeperkings nagekom word.
-
Foto’s, heel bo, van pikkewyne in hul broeikolonies deur Izak de Vries