Historiese slaagsyfer vir matrieks in ’n druipelingland

  • 0

Die skoen, wat die reaksie op Suid-Afrika se jaarlikse matriekuitslae betref, is nou skynbaar aan die ander voet.

In die klompie jare voor hierdie een, met ander woorde voor 2024 se uitslae bekend gemaak is, het die DA as amptelike opposisieparty gedurigdeur kapsie gemaak teen wat ook al deur die nasionale minister van basiese onderwys as die “suksesvolle” slaagsyfer vir matrieks voorgehou is.

Maar dié mondvol het slegs gegeld, wil dit nou voorkom, terwyl die portefeulje deur ’n ANC-minister bestuur is. Dit was vir ’n lang tyd Angie Motshekga; nou is dit in die hande van ’n DA-minister geplaas. Haar volle naam is Nosiviwe Gwarube; haar noemnaam is Siviwe.

Gwarube het ons die afgelope Maandag jubelend meegedeel dat die uitslae vir die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen die beste ooit was, met ’n algehele slaagsyfer van 87,3% – ’n hele 4,4% sprong van 2023 se 82,9%. Die DA se kommentaar hierop was gedemp. Onderwyskenners het egter hul wenkbroue gelig, omdat hulle hoogstens ’n verbetering van sowat twee persentasiepunte verwag het – en dan is daar die jarelange debat oor die leerders wat sogenaamd “langs die pad” uitval en nie matriek haal nie.

Hierdie kwessie is wel deur ’n ander party, Build One South Africa (BOSA), opgehaal in hulle verklaring waarin hulle sommer die DA bygesleep het deur John Steenhuisen se party te kritiseer oor dié skynheilig sou wees, omdat hulle nie vanjaar die uitslae betwis het soos wat die gebruik in vorige jare was nie. Die party self het die “werklike” uitslae op 51% gestel. Nou moet ’n mens nie vergeet nie dat BOSA gestig is deur die voormalige DA-leier Mmusi Maimane, wat in die pad gesteek is weens die DA se (swakker as verwag) steun in die 2019-verkiesing.

Maimane behoort dus te weet van hoe die DA in vorige jare te werke gegaan het wanneer Motshekga die uitslae aangekondig het. Wat die DA dan sou doen, is ’n berekening waardeur die aantal leerders wat twee jaar tevore in graad 10 was, te vergelyk met die aantal wat uiteindelik graad 12 (matriek) gehaal het, sowel as met die getal wat dan wel die matriekeindeksamen afgelê het. Dit is op hierdie manier dat ’n vorige DA-woordvoerder oor basiese onderwys, Baxolile Nodada, 2023 se slaagsyfer van 82,9% afgeskiet het deur die “werklike” slaagsyfer op 55,3% te bereken.

In die DA se aanvanklike reaksie op die nuutste uitslae wens die party egter die 87,3% suksesvolle kandidate geluk: “Their success is a testament to their hard work and the commitment of teachers, school leaders, and families across the country,” lui die DA-verklaring. Geen woord oor die verlore skape nie. Die party spreek wel ook “ernstige kommer” uit oor die gebruik by sommige skole “waar leerders verhoed word om die eksamen af te lê ten einde die uitkomste in spesifieke vakke kunsmatig aan te pas”.

Die Wes-Kaap (waar die DA regeer) word in die verklaring geluk gewens met die provinsie se goeie prestasie in wiskunde en fisiese wetenskappe, maar dat die nasionale deelname aan hierdie kritieke vakke ’n afwaartse neiging toon – 12 338 matrieks minder as in 2023 het wiskunde geskryf en 6 962 minder was in die eksamenlokaal vir fisiese wetenskap – pla ook die party.

Eers ná BOSA se kritiek op die DA het dié party by die olifant in die vertrek uitgekom, maar die huidige DA-woordvoerder oor basiese onderwys, Delmaine Christians, was steeds meer positief as BOSA. Háár aangepaste slaagsyfer – teenoor BOSA se 51% – was 53,6%.

Christians aan die woord: “[Die departement se amptelike slaagsyfer] neem slegs die kandidate in ag wat wel die matriekeksamen afgelê het, wat geen rekenskap gee van die groot getalle leerders wat langs die weg verdwyn nie.”

Vraag: Hoe het die party hul berekening gedoen? Antwoord: ’n Totaal van 1 148 437 leerders was in 2022 in graad 10. ’n Totaal van 740 876 het graad 12 bereik. Slegs 705 291 het uiteindelik die eindeksamen afgelê.

Terwyl politieke partye en sommige onderwyskundiges se aandag meestal op die slaagsyfer – en die uitvalsyfer – gerig is, is daar egter die belangriker vraag oor wat die suksesvolle kandidate met hul “goeie” uitslae kan maak. Watse loopbaanmoontlikhede word daardeur ontsluit? Berei die gemiddelde 30%- of 40%-slaagvereiste in vakke die kandidaat voor vir middelmatigheid of vir uitblinkerstatus in die lewe ná skool?

En einde ten laas: Wat gaan ’n arbeidsmark met ’n werkloosheidsyfer van tussen 30% en 40% (afhangend van die definisie wat ingespan word) uit dié “historiese” matriekslaagsyfer baat? Watter verskil gaan dit maak aan die land se agterstand met betrekking tot dienslewering, instandhouding en infrastruktuurontwikkeling? Solank as wat dié vrae nie voldoende beantwoord word nie, sal Suid-Afrika ’n druipeling in die kontinentale en globale regeerkundeklas wees.

Lees ook:

Is matriek regtig die towerstaffie?

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top