Hlope se aanstelling "ondermyn die geloofwaardigheid van die regbank"

  • 0

Die MK-party (MKP) het Dinsdag hulle eerste oorwinning in die parlement gehad. Die gediskrediteerde en omstrede oudregter John Hlope, wat vroeër vanjaar deur die parlement uit sy amp as regter geskors is, sal sy party verteenwoordig in die Regterlike Dienskommissie (RDK) wat hom vroeër skuldig bevind het aan growwe wangedrag.

Sy benoeming as lid van die RDK was die eerste openlike verskil in die veelpartyregering tydens ’n parlementêre bespreking toe die ANC sy gewig agter die MKP en die EFF ingegooi het om Hlope te benoem.

Die organisasie Judges Matter sê in ’n verklaring hulle is teleurgesteld oor die Nasionale Vergadering se besluit om parlementslede wat voorheen aan wangedrag skuldig bevind is of deur howe gekritiseer is vir etiese oortredings, soos Hlophe en Faith Muthambi, as lede van die RDK aan te wys.

“Ons glo dit ondermyn die geloofwaardigheid van hierdie kommissies en die integriteit van die regbank,” lui hulle verklaring.

Hulle sê die parlement se besluit is ook in stryd met die gees, strekking en oogmerke van die Grondwet. “Dit is duidelik irrasioneel met betrekking tot artikel 165(4) van die Grondwet, wat vereis dat die Parlement maatreëls tref om die onafhanklikheid en waardigheid van die howe te beskerm.”

Mbekezeli Benjamin sê namens Judges Matters dit is ironies dat aspirantregters oor hul etiek, integriteit en geskiktheid vir ’n geregtelike amp beoordeel sal word deur mense wat self aan wangedrag skuldig bevind is.

Hlope se benoeming het ook kritiek onder gewone Suid-Afrikaners uitgelok. Die bekende politieke kommentator op sosiale media, Goolam, het op X gesê dit is ’n hartseer en baie donker dag vir demokrasie in Suid-Afrika dat die eerste regter wat in die demokratiese Suid-Afrika aangekla is, toegelaat sal word om die parlement in die RDK te verteenwoordig. “Dit is ’n bespotting van die regbank. Dit is ’n bespotting van die RDK. Dit is ’n bespotting van die parlement,” het hy geskryf.

Die ANC se grootste vennoot in die veepartyregering, naamlik die DA, het Hlope se benoeming op die RDK sterk teengestaan in die parlement. Hulle sê dit is nie redelik of rasioneel om hom as ’n verteenwoordiger van die Nasionale Vergadering op die RDK te verkies nie.

Die Vryheidsfront Plus, ActionSA en ACDP het ook beswaar gemaak teen sy benoeming. Die ANC sê egter totdat die Nasionale Vergadering en die Grondwet se reël oor die benoeming van lede op die RDK gewysig word, sal die ANC die gevestigde gebruik dat politieke partye hulle eie verteenwoordigers vir liggame soos die RDK benoem, handhaaf.

Hlope se benoeming is ook deur die UDM, ATM en Al Jama-ah gesteun.

Die ander lede wat deur die Nasionale Vergadering verkies is om op die RDK te dien, is Molapi Lekganyane en Fasiha Hassan van die ANC, EFF-leier Julius Malema, die DA se Glynnis Breytenbach en ActionSA se parlementêre leier, Athol Trollip.

Die RDK is die liggaam wat kandidate aanbeveel vir aanstelling as regters. Dit ondersoek ook klagtes oor regterlike beamptes en adviseer die regering oor aangeleenthede wat met die regbank of die regpleging verband hou.

Die DA se hoofsweep, George Michalakis, sê in ’n verklaring dit was nie redelik of rasioneel om Hlophe as ’n verteenwoordiger van die Nasionale Vergadering op die RDK te verkies nie.

Hy het gesê selfs al besluit die meerderheid in die parlement Hlope moet op die RDK dien, sal diegene met wie daar in die toekoms onderhoude gevoer word om regters te word, met reg daarop kan aandring dat Hlope hom aan die verrigtinge moet onttrek op grond daarvan dat hy deur dieselfde kommissie skuldig bevind is aan growwe wangedrag.

Die ANC en die EFF meen egter dit is elke party se reg om ’n persoon van hul keuse te benoem om op die RDK te dien.

Sihle Ngubane van die MKP het gesê politici het die mandaat van die kiesers en kan nie uitgesluit word uit strukture soos die RDK nie, omdat dit die wil van die kiesers sal misken.

Hy sê sy party se regte word deur die Grondwet beskerm en enige poging om die wil van die mense te erodeer deur aan die MKP te dikteer, soos watter van sy voorkeurkandidate tot die RDK aangewys moet word, is grondwetlik afstootlik.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top