Eskom se voorneme om aansoek te doen vir ’n verhoging van tot 44% in die elektrisiteitstariewe wat hy van kliënte hef, kan Suid-Afrikaanse huishoudings ’n ernstige finansiële knou toedien.
As die kragvoorsiener sy sin kry, sal Suid-Afrikaners van aanstaande jaar die hand diep in die sak moet steek om hul ligte te laat brand.
Luidens ’n uitgelekte dokument wat Eskom se tariefverhogingsaansoek by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) vir die volgende drie boekjare wys, vra die kragvoorsiener dubbelsyferverhogings bo die inflasiekoers, wat elektrisiteit eenvoudig onbekostigbaar sal maak vir talle huishoudings, naamlik:
- 2025/2026: 36,15%
- 2026/2027: 11,81%
- 2027/2028: 9,1%
Volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank het die gemiddelde Eskom-tarief tussen 2007 en 2022 met 450% gestyg, terwyl inflasie oor dieselfde tydperk met slegs 129% toegeneem het. Dit beteken dat elektrisiteitstariewe binne 14 jaar verviervoudig het in reële geldterme.
Die DA het nou die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, versoek dat die parlement ’n debat van nasionale belang hou oor die vinnig stygende koste van elektrisiteit wat al hoe meer onbekostigbaar word.
Die besluit deur Nersa om Eskom se aansoek om R8 miljard terugwerkend deur sy regulerende verrekeningsrekening vir die 2021/2022-boekjaar toe te staan, sal neerkom op ’n tariefverhoging van 4% in 2025. Koppel dit aan Eskom se aansoek om ’n verdere tariefverhoging van 36,15%, dan sal baie huishoudings nie meer elektrisiteit kan bekostig teen 2025 nie. Dit sal energie-armoede verhoog tot vlakke wat nie gesien is sedert die aanbreek van demokrasie nie, sê die DA se woordvoerder oor elektrisiteit en energie, Kevin Mileham, in ’n verklaring.
????The DA is fighting the 40% electricity hike in Parliament by calling for a debate of national importance. SA is battling a cost of living crisis and Eskom's monopoly is worsening it by passing inefficiency costs to citizens. We call for a special sitting to address this crisis! pic.twitter.com/0pwAjlOh0G
— Democratic Alliance (@Our_DA) August 5, 2024
Mileham sê elektrisiteitstariewe het krisisvlakke bereik en daar is nou ’n wesenlike risiko dat Suid-Afrikaanse huishoudings vasgevang kan word in ’n permanente hoë lewenskoste-omgewing weens sulke elektrisiteitspryse.
Hy sê die afgelope maande se ononderbroke kragtoevoer laat nie juis veel ruimte om oor te juig nie, aangesien die beurtkragverligting vinnig in ’n finansiële nagmerrie ontaard het weens die stygende prys van krag.
“Die dubbelsyfer-tariefverhogings wat die afgelope paar jaar aan Eskom toegestaan is, het baie mense genoop om te kies tussen kos op die tafel of om die ligte aan te hou. Niemand moet gedwing word om hierdie keuse te maak nie.”
Die onlangse aankondiging deur die ministerie van energie en elektrisiteit om die elektrisiteitsprysmodel te hersien, word deur die DA verwelkom, maar die omvang van die elektrisiteitspryskrisis vereis volgens hulle dat die regering dringend moet aandag skenk aan die stygende elektrisiteitstariewe.
“Die Eskom-monopolie het ondoeltreffend geword, en die koste van daardie ondoeltreffendheid word nou aan verbruikers deurgegee. Dit help nie dat die huidige elektrisiteitsprysbeleid meer geneig is om tariewe vas te stel wat Eskom se ondoeltreffendheid beloon, terwyl dit nie balanseer met verbruikers se vermoë om dit te bekostig nie,” sê Mileham in sy verklaring.
Die groep Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity (PMBEJD) sê ook in ’n verklaring die hoë elektrisiteitstariewe oorskry die vermoë van gewone huishoudings om daarvoor te betaal en vir die meeste Suid-Afrikaners is elektrisiteit onbekostigbaar.
Die groep sê elektrisiteitsverhogings jaag nie net die prys van direkte energie in huishoudings op nie, maar ook die pryse van alle ander goedere en dienste in die ekonomie.
“Wanneer elektrisiteitspryse styg, beteken dit dat huishoudings die verhoging moet absorbeer van die tariefverhoging, plus die inflasionêre uitvloeisel vir alle ander noodsaaklike goedere en dienste wat in die huishouding nodig is.”
Volgens hulle ondermyn die jaarlikse elektrisiteitstariefverhogings, wat jare reeds onbekostigbaar is, ook die nasionale minimumloon as instrument om billikheid in lone te verbeter en die lewens van Suid-Afrikaanse werkers en hul gesinne te verbeter.
PMBEJD sê elektrisiteitstariewe is grootliks ondeursigtig en word nie voldoende gereguleer nie, terwyl Nersa die algehele jaarlikse Eskom-verhogings bepaal.
Op plaaslike munisipale vlak is daar dikwels allerlei bykomende heffings wat veroorsaak dat huishoudings dikwels geskok word wanneer hulle hul rekenings ontvang, soos in Johannesburg waar voorafbetaalde gebruikers vanaf Julie ’n R200-diensheffing per maand moet betaal.