Die 2023-matriekslaagsyfer is ’n misleidende barometer van die ware toedrag van sake in die land se skoolstelsel, ondanks die stygende neiging in die land se matriekslaagsyfer.
So sê die onderwysbeweging Equal Education (EE) in reaksie op verlede week se bekendmaking van 2023 se matriekuitslae.
Equal Education sê in ’n verklaring dat ten spyte van die harde werk wat die jongste uitslae geverg het, die nasionale matriekslaagsyfer misleidend kan wees vir die werklike prestasie van die skoolstelsel en die onderwyssektor, en dit dus met omsigtigheid geïnterpreteer moet word.
[#MatricResults2023 statement ????️????] Annual matric pass rate a misleading barometer of the true health of the schooling system
Read our full statement here: https://t.co/29xM6wCoKT pic.twitter.com/iBloTAH0hQ
— Equal Education (@equal_education) January 19, 2024
Die akademikus Jonathan Jansen het op die sosialemediaplatform X gevra watter 80% die ware toestand van die land se skoolstelsel weerspieël – die 81% van graad 4’s wat nie kan lees nie, of die 83% wat wonderbaarlik “matriek” geslaag het? Jansen sê albei kan nie waar wees nie.
Which 80% do you believe reflects the state of the school system? That 81% of grade 4s cannot read? Or that 83% of grade 12s miraculously passed ‘matric’? Both cannot be true
— Jonathan Jansen (@JJ_Stellies) January 19, 2024
Opposisiepartye het verlede jaar se matrieks gelukgewens met hulle slaagsyfer, maar stem saam dat die skoolstelsel veel te wense oorlaat.
Die DA wys daarop dat 81% van graad 4’s nie in enige taal met begrip kan lees nie en dat 56% van graad 6-leerders nie op ’n graad 4-vlak kan lees nie. Sowat 74,2% van skole het nie biblioteke nie, terwyl net 56,9% biblioteke het wat boeke bevat.
ActionSA sê in hulle reaksie die hoër afwesigheidsyfer en kullery van leerders laat aansienlike kommer ontstaan oor die huidige skoolstelsel se versuim om duisende jongmense voldoende voor te berei om die regte wêreld en tersiêre onderwys te betree.
Die party sê in ’n verklaring die Suid-Afrikaanse skoolstelsel slaag nie daarin om die jeug se sterkpunte te ontgin wat hul vaardighede sal opskerp en ekonomiese geleenthede sal bied nie.
“In plaas daarvan ontmagtig dit ons jeug, wat nie die vaardighede geleer word wat nodig is om by te dra tot die samelewing nie en gedwing word om tradisionele skole by te woon, wat nie almal se eerste keuse of die regte manier van leer is nie.”
ActionSA glo dat onderwys en leer verder gaan as die klaskamer. Die party sê die verbetering van die jeug betrek ook gesinne, gemeenskappe, die burgerlike samelewing en besighede wat studente kan help om voortdurend te leer en hulself te verbeter. Hierdie ondersteuning kan afwesigheid drasties verminder, wat leerders die selfvertroue sal gee om klasse by te woon en nie tydens eksamens te kul nie.
Die onderwyskenner Danie van Wyk het op Facebook gesê die tyd het aangebreek vir ’n onderwys-Kodesa. “Ons onderwysstelsel is broos en het erge verbetering nodig. Ek haal egter my hoed af vir onderwysers wat hul rol en funksie besef en hul bes doen onder moeilike omstandighede.”
Roger Solomons, waarnemende woordvoerder van Build One South Africa, het gesê die uitvalsyfer is kommerwekkend: “Vier uit 10 leerders (38%) wat in 2012 met graad 1 begin het, het nie verlede jaar gematrikuleer nie. Dit beteken daar is byna 470 000 jongmense wat dit moeilik sal vind om werk te kry en waarskynlik deel van die jeugwerkloosheidslyn sal word.”
Die party het met ’n petisie begin wat vra dat “die minister van 30%-onderwys” moet weg! Hulle eis die bedanking van Angie Motshekga as minister van basiese onderwys.
We need new leadership in education basic and higher education! https://t.co/bxnX7tX7FP
— Mmusi Maimane (@MmusiMaimane) January 19, 2024
Die DA se skaduminister van basiese onderwys, Bax Nodada, sê in ’n verklaring leerders word gedwing om skole by te woon waar klaskamers oorvol is. Altesaam 3 932 skole het nog puttoilette en 728 het nét puttoilette, waarvan 506 in die Oos-Kaap is. Elke sperdatum om puttoilette te verwyder en infrastruktuurprobleme op te los het tot dusver misluk, sê Nodada.
“Leerders word gedwing om skole by te woon in fasiliteite wat met modder en asbes gebou is; sommige geboue is so onveilig dat leerders onder bome onderrig word.”
Nodada sê misdaadstatistiek het aan die lig gebring dat daar tussen Januarie en September 2023 altesaam 27 moorde, 59 pogings tot moord, 707 gevalle van aanranding of ernstige liggaamlike besering en 229 verkragtings op die perseel van opvoedkundige instellings (skole, universiteite, kolleges en dagsorgfasiliteite) was.