Die weg is nou gebaan vir die moontlike arrestasie van die speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, nadat die Hooggeregshof in Pretoria Dinsdag haar dringende aansoek met koste van die hand gewys het waarin sy probeer keer het dat die Valke haar in hegtenis neem.
Mapisa-Nqakula wou hê die hof moet wetstoepassingsowerhede beveel om haar te dagvaar om in die hof te verskyn indien hulle haar wil aankla, eerder as om haar in hegtenis te neem.
Sy sal waarskynlik vir 12 aanklagte van korrupsie aangekla word omdat sy na bewering omkoopgeskenke van net meer as R4,5 miljoen ontvang het tydens haar termyn as minister van verdediging.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat is besig om die bewerings te ondersoek.
Opposisiepartye het Dinsdag se hofuitspraak verwelkom. Die leier van die UDM, Bantu Holomisa, sê Mapisa-Nqakula moet haarself aan die polisie oorgee en klaar.
Nosiviwe Mapisa-Nqakula must hand herself over to the police finish and klaar!! pic.twitter.com/ermQXS9LzA
— Bantu Holomisa (@BantuHolomisa) April 2, 2024
Holomisa sê in ’n verklaring sy behoort die parlement die moeite te spaar om ’n mosie van wantroue teen haar in te dien en haarself aan die polisie oorgee, want parlementslede is besig om vir die verkiesing voor te berei.
“Ons het op 26 Maart 2021 aan die Gesamentlike Staande Komitee oor Verdediging geskryf oor bewerings dat sy verskeie betalings van altesaam meer as R5 miljoen tussen 2017 en 2019 ontvang het van minstens een maatskappy wat kontrakte met die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag gehad het toe sy gedien het as minister van verdediging en militêre veterane.
“Ek is aangesê om my beskuldigings na die polisie te neem. Ek het dit gedoen en hier wag ons nou vir Mapisa-Nqakula om die regte ding te doen,” het Holomisa gesê.
Regter Sulet Potterill het in haar uitspraak gesê as die hof Mapisa-Nqakula se aansoek sou toestaan, sal die sluise oopgaan en sal alle verdagtes so ’n aansoek by die howe indien om hul arrestasie te voorkom.
Potterill het dit baie duidelik gemaak dat die hof nie die statutêre liggame sal verbied om hul pligte uit te voer nie.
[WATCH] Justice Sulet Potterill says if the court was to grant Speaker of Parliament Nosiviwe Mapisa-Nqakula's application, then the floodgates will open and all suspects will make such an appointment to prevent their arrest. #Newzroom405 pic.twitter.com/BMK6ZkL3mG
— Newzroom Afrika (@Newzroom405) April 2, 2024
Die DA het verlede week kennis gegee dat hulle ’n mosie van wantroue teen die speaker wil indien. Die adjunkspeaker, Lechesa Tsenoli, het die indiening van die mosie aanvaar maar nog nie aangedui wanneer dit in die parlement bespreek sal word nie. Die DA dring daarop dat die mosie so gou as moontlik bespreek word.
Die EFF sê in hulle verklaring hulle dring daarop aan dat geen individu, ongeag hul posisie of veronderstelde belangrikheid, bo die reg verhewe moet wees nie.
Die party sê Mapisa-Nqakula se bewering oor haar eie belangrikheid as Suid-Afrika se “derde belangrikste funksionaris” is beide arrogant en irrelevant in die lig van die ernstige bewerings van korrupsie en geldwassery teen haar.
Hulle het ook aangedring op haar onmiddellike arrestasie.
The EFF’s Statement Demanding the Immediate Arrest of Speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula
-The EFF insists that no individual, regardless of their position or perceived importance, should be above the law. Mapisa-Nqakula's assertion of her own significance as South Africa's "third… pic.twitter.com/Ln8L7gIdL2
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) April 2, 2024
Ook die VF Plus verwelkom die uitspraak van die Hooggeregshof. Die party sê in ’n verklaring indien so ’n versoek toegestaan sou gewees het, dit die strafregstelsel sou ondermyn het.
“Mapisa-Nqakula kan nie spesiale behandeling verwag omdat sy speaker van die NV is nie. Nie sy of enigiemand anders in Suid-Afrika is verhewe bo die reg nie. Sy moet nou so gou doenlik in hegtenis geneem word en dan soos enige ander gewone landsburger aansoek doen om borgtog,” sê die party se leier, Pieter Groenewald.
Hy sê dit moet ook dien as voorbeeld vir ander politici en hooggeplaaste persone dat niemand die wet kan oortree en dink dat hulle daarmee kan wegkom nie.
Die VF Plus en EFF sal albei die DA se mosie van wantroue in Mapisa-Nqakula steun.
Groenewald sê ’n speaker dien as simbool van integriteit, eerlikheid, respek en verantwoordbaarheid van die parlement en dit is nou in die gedrang gebring. “Sy kan nie langer as speaker van die NV dien nie en behoort die eerbare weg te kies en self te bedank.”
Mapisa-Nqakula het volgens Business Day gesê sy is bereid om haarself van vandag (Woensdag) af aan die polisie oor te gee om haar inhegtenisneming oor aantygings van korrupsie en omkopery te bewerkstellig.