Die Hooggeregshof in Pretoria het die Aarto-wysigingswet waarop die beplande strafstelsel vir verkeersoortredings gebaseer is, ongrondwetlik en ongeldig verklaar.
Een van die hoofpunte van die wetsontwerp is die strafpuntstelsel, waarvolgens ’n bestuurder per oortreding strafpunte opgelê kan word wat tot die tydelike of permanente opskorting van ’n rybewys kan lei.
Die organisasie teen belastingmisbruik (Outa) het die grondwetlike geldigheid van Aarto en die Aarto-wysigingswet betwis en die hof in Oktober 2021 gevra om beide die hoofwet en die wysigingswet ongrondwetlik te verklaar.
Regter Annali Basson het Donderdag ten gunste van die Outa bevind. Die hof stem saam met Outa se standpunt dat die wetgewing onregmatig inbreuk maak op die eksklusiewe uitvoerende en wetgewende bevoegdheid van die plaaslike en provinsiale regerings wat in die Grondwet beoog word. Die Grondwet gee die bevoegdheid aan plaaslike en provinsiale regerings om hulle eie sake reguleer.
BREAKING NEWS: Court declares #AARTO #unconstitutional and #invalid, finds in #OUTA's favour. Dept of Transport and @rtia_aarto send back to re-do the law, ordered to pay OUTA's legal costs. https://t.co/lbfPpvfVCH
— OUTA (@OUTASA) January 13, 2022
Die respondente in die saak was die Minister van Vervoer, die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (RTIA), die Padverkeersoortredingsowerheid (RTIA) en die Appèltribunaal. Die hof het die Minister van Vervoer en die RTIA beveel om Outa se koste te betaal, insluitend die koste van twee advokate.
Die Departement van Vervoer sê hy sal die hofuitspraak bestudeer voor hy oor die pad vorentoe besluit.
Outa het die uitspraak in ’n verklaring verwelkom. Outa se bestuurshoof, Wayne Duvenhage, sê die wet sal geensins padveiligheid verbeter of padsterftes verminder nie.
Duvenhage sê Outa is tevrede dat die uitspraak die regering terug na die tekenbord sal stuur. Hy sê hierdie keer vertrou hulle dat die betrokke departemente sinvol by die burgerlike samelewing betrokke sal raak om hulle insette te verkry wanneer sulke belangrike beleide vir die land ontwikkel word.
“Suid-Afrika het effektiewe prosesse nodig wat moontlik gemaak word deur billike beoordeling wat aan die Grondwet voldoen,” sê adv Stefanie Fick, uitvoerende direkteur van die Verantwoordbaarheid- en Bestuursafdelings by Outa.
Fick het bygevoeg dat die hof se uitspraak nog ’n belangrike oorwinning vir die burgerlike samelewing verteenwoordig. Sy sê dit toon weer dat die regering uit voeling met die werklikheid is. “Dit is jammer dat die regering weer eens gekies het om geldige bekommernisse en goed nagevorste insette te ignoreer en voortgegaan het met die wysiging. Hulle het nie net baie tyd gemors nie, maar ook geldige hulpbronne, aangesien die Aarto-uitrol gestaak sal moet word terwyl die wet weer eens gewysig en deur die wetgewende proses geneem word. Eers dan kan dit geïmplementeer word.”
Outa sê hulle het herhaaldelik gewys op die probleme met die Aarto-wette, wat ook administratief ingewikkeld is en op chaotiese munisipale stelsels staatmaak.
Ook die Vryheidsfront Plus het die hof se uitspraak verwelkom.
Die VF Plus wens ook @OUTASA baie geluk met sy suksesvolle aansoek om #AARTO ongrondwetlik te laat verklaar. @AntonAlberts https://t.co/eb75EKoQq8
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) January 13, 2022
Die party sê in ’n verklaring die hof se uitspraak dat die Aarto-stelsel in sy geheel ongrondwetlik is, onderskraag die VF Plus se standpunt wat van meet af die stelsel as ongrondwetlik en baie gevaarlik beskou het.
Adv Anton Alberts sê sy party het vandat die Aarto-wet uitgevaardig is, gewaarsku dat die stelsel kompleks is en nie sy doelwit sal bereik om die land se paaie veiliger te maak nie.
Hy sê die stelsel is ook gesofistikeerd en vereis ’n omgewing van integriteit en hoë standaarde om te werk. “Daar is geen sodanige omgewing geskep nie. Inteendeel, die nuwe stelsel het eerder die omgewing geskep vir talryke misbruike tot nadeel van die publiek.”
Boetes is byvoorbeeld in Gauteng te laat uitgereik ingevolge die wetlike voorskrifte, wat dit onwettig maak, terwyl dit steeds afgedwing is teen ’n onkundige publiek. Verder is geen behoorlike infrastruktuur daargestel om die groot aantal vertoë te hanteer nie. In ’n stadium het die Johannesburgse metropolisie Aarto-funksies uitgevoer waarvoor hy nie gemagtig was nie, soos om self met vertoë te handel.
Alberts sê Aarto is in wese ’n simbool van die ANC-regering se onbevoegdheid om enige moderne stelsel tot voordeel van die land te bestuur.
Die uitspraak van die Hooggeregshof bring volgens hom ’n verdere vraag na vore, en dit is of almal wat Aarto-boetes betaal het, dit kan terugeis. Hy sê benewens die moontlikheid van appèl teen die bevel deur die regering, sal hierdie vraag in die agtergrond bly hang met ongelooflike finansiële gevolge vir die regering.