Die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, moes Maandag nog ’n hou op die ken vat toe die Hooggeregshof in Pretoria in een van talle hofsake ook teen haar beslis het.
Die geveg rondom nog een van haar omstrede bevindings gaan nou in die konstitusionele hof voortgesit word, nadat sy vir die soveelste keer bloedneus in verskeie howe gekry het.
Openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane (Foto: YouTube)
Die Hooggeregshof in Pretoria het ’n dringende interdik toegestaan aan die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, wat verhoed dat remediërende stappe teen hom ingestel word soos wat sy gevra het.
Die regter het in haar uitspraak gesê optrede teen Gordhan, oor sy beweerde aandeel in ongerymdhede by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, word uitgestel totdat die hersieningsproses van die OB se verslag afgehandel is. Die uitspraak word beskou as ’n groot terugslag vir die OB en ’n oorwinning vir Gordhan en Ramaphosa.
Die EFF het onmiddellik ná die uitspraak die rassekaart gespeel. Die party sê hulle gaan by die grondwetlike hof appèl aanteken teen die uitspraak. Hulle het daarop gesinspeel dat die regter rassisties was in die verhoor. Volgens die EFF het die uitspraak nie as ’n verrassing gekom nie. Hulle beskuldig die regter daarvan dat sy van die begin af geïrriteerd was met die OB se regspan, wat uit swart regsgeleerdes bestaan het en simpatiek geluister het na die argumente van Gordhan se regspan, wat uitsluitlik wit was.
Die EFF se reaksie het wye kommentaar op sosiale media uitgelok. Hulle is onder andere daarvan beskuldig dat hulle die hof minag en slegs hofuitsprake, wat hulle pas, respekteer.
Druk op die openbare beskermer om óf self te bedank óf uit haar pos verwyder te word, het die afgelope tyd in felheid toegeneem. Daar was selfs ’n versoek deur die organisasie Accountablity Now dat daar oorweeg moet word om haar van die rol van advokate te skrap.
Sy is egter geensins van plan om uit haar eie te bedank nie. Sy kan slegs met ’n tweederdemeerderheidsbesluit deur die parlement in die pad gesteek word.
Haar woordvoerder, Oupa Segalwe, het na die uitspraak gesê dit ’n teleurstellende uitspraak maar sy is nie van plan om te bedank nie.
In ’n ander saak het die grondwetlike hof verlede week in ’n verdoemende uitspraak beslis dat sy onder meer haar mandaat oorskry het in haar verslag oor die reserwebank. Haar verslag oor die Estina-suiwelproduksie by Vrede in die Vrystaat is ook reeds deur ’n hof tersyde gestel.
In verlede week se hofsaak het die Grondwethof bevind sy het ’n “groot hoeveelheid onwaarhede” in een van haar verslae geuiter wat nie gegrond was op deeglike ekonomiese raad nie. Ook dat sy versuim het om te verklaar waarom sy nie met die president en die staatsveiligheidsagentskap ontmoet het toe haar ondersoek aan die gang was nie.
............
“Haar woordvoerder, Oupa Segalwe, het na die uitspraak gesê dit ’n teleurstellende uitspraak maar sy is nie van plan om te bedank nie.”
............
Dit spruit uit ’n verslag van Mkhwebane in Junie 2017 waarin sy beveel het dat Absa ’n bedrag van R1,125 miljard aan die Reserwebank moet terugbetaal. Volgens die OB was dit ’n “reddingsboei” wat die Reserwebank in die apartheidsjare onregmatig aan Bankorp betaal het.
Die hof het bevind die OB het haar mandaat oortree, sy was nie eerlik nie en het nie met die betrokke partye wat in die verslag genoem word, ontmoet nie. Die leier van die VF+, Pieter Groenewald, sê dit laat ook geweldig baie vrae ontstaan oor haar jongste bevindinge wat president Cyril Ramaphosa betref en skep opnuut die indruk dat sy nie onpartydig en objektief is soos wat van haar verwag word nie.
Maandag se uitspraak wat sy met koste verloor het, beteken dat president Ramaphosa nie tugstappe teen minister Gordhan hoef te neem, totdat die hof finale uitsluitsel gee, oor die verslag waarin sy hom van allerhande ongerymdhede beskuldig nie.
Behalwe die twee hangende hofsake van Ramaphosa en Gordan teen die OB, het opposisiepartye en nieregeringsorganisasies ook die parlement versoek om met ’n parlementêre proses te begin wat haar bevoegdheid as openbare beskermer ondersoek. Die parlement het aangedui dat hulle dit in September sal bespreek.
Buro: MvH