Die regering is onder al hoe groter druk om die ramptoestand wat byna twee jaar gelede weens COVID-19 ingestel is, volledig op te hef of ten minste drasties te verslap.
Dit volg nadat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, die ramptoestand verlede Saterdag met nog ’n maand verleng het.
Die Solidariteit-beweging, waaronder Solidariteit en AfriForum, gaan met regstappe begin om die howe te vra om die ramptoestand te beëindig, terwyl Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, Woensdag ’n brief aan president Cyril Ramaphosa geskryf het waarin hy vra dat buitelugfasiliteite tot volle kapasiteit heropen mag word.
Verskeie mense het op sosiale media ook gevra vir die skrapping van alle beperkings, onder andere die verpligte dra van maskers in die openbaar. Hulle voer aan dat die huidige maatreëls heeltemal verouderd is en nie meer met die beskikbare data strook nie.
Hill-Lewis sê in sy brief aan Ramaphosa Kaapstad is gereed om die stad se openbare buitelugfasiliteite tot volle kapasiteit te heropen, en is ook gereed om toeskouers weer toe te laat by buitelugsport. “Ons vra dat hierdie beperkings onverwyld opgehef word, en ons sien uit na u ondersteuning,” het hy geskryf.
Statement by Cape Town Mayor, @Geordinhl
City asks for Covid capacity restrictions at public venues to be scrapped.
Read more: https://t.co/M8od0wX31H#CTNews pic.twitter.com/3nAJnErG7O
— City of Cape Town (@CityofCT) January 19, 2022
Hill-Lewis sê namate die somerspitsseisoen in volle rat kom, en die jongste Omikron-variant minder negatiewe impak blyk te hê as die vorige Delta-variant, behoort die hervatting van publieke, vermaaklikheid- en sportgeleenthede ’n prioriteit te wees om ekonomiese herstel aan te help.
“Die Stad Kaapstad het gewys dat ons groot geleenthede veilig kan bestuur met duidelike nakoming van gesondheidsveiligheidsprotokolle om inwoners en toeskouers te beskerm. Sedert Oktober verlede jaar bied ons onder meer die Fietstoer, die Absa Cape Epic, Miss South Africa, die Kaapstad-marathon en die FNB One Run aan. Al hierdie geleenthede is hoëprofiel- en groot geleenthede wat suksesvol tydens ’n pandemie aangebied word. In al hierdie gevalle kan ons data verskaf om te wys dat die aantal infeksies van die onderskeie gebeurtenisse baie laag was.”
Met ’n groot aantal Kaapstad-inwoners wat ingeënt is en wat by masker-dra hou waar nodig, is dit volgens die stadsvaders moontlik om veilig terug te keer om weer toeskouers by sportbyeenkomste te hê, soos gesien kan word by stadions en byeenkomste die hele wêreld oor.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, hou die ramptoestand ’n bedreiging vir vryheid in, aangesien dit aan die regering buitengewone mag gee om burgerlike vryhede dramaties in te perk sonder dat sodanige mag op enige wyse aan parlementêre toesig en besluitneming onderwerp word.
“Die feit dat die ramptoestand aanhoudend verleng kan word sonder parlementêre goedkeuring, is ’n ernstige skending van gesonde demokratiese beginsels,” het Kriel in ’n verklaring gesê.
Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, skep die huidige ramptoestand groot onsekerheid vir werkers, maatskappye en die ekonomie oor die algemeen, en hy sê dit moet beëindig word.
“Die ramptoestand stel die regering in staat om op kort kennisgewing maatreëls in plek te stel wat besighede en werkers se lewensbestaan beïnvloed. Hierdie swaard wat oor die ekonomie hang skep onsekerheid vir kapitaalvorming en verdere uitbreiding in ’n tyd waar ekonomiese groei nou van kardinale belang is,” sê Hermann.
Statement by Cape Town Mayor, @Geordinhl
City asks for Covid capacity restrictions at public venues to be scrapped.
Read more: https://t.co/M8od0wX31H#CTNews pic.twitter.com/3nAJnErG7O
— City of Cape Town (@CityofCT) January 19, 2022
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder, sal die organisasie eersdaags sy hofstukke indien.
“AfriForum het reeds verskeie van die regering se verregaande maatreëls aangevat, insluitend die aandklokreël, staatskwarantynkampe en die verbod op godsdienstige byeenkomste. Dit is nou hoog tyd dat die ramptoestand in sy geheel opgehef word,” sê Broodryk.
Hermann sê argumente dat die ramptoestand nie op kort kennisgewing beëindig kan word nie, vergeet gerieflikheidshalwe van die regulasies wat “met onmiddellike effek” onder die ramptoestand ingestel en afgedwing is. Hy sê verdere besonderhede oor die voorgenome regstappe word binnekort bekend gemaak.