Teen Dinsdagoggend het die hof beslis dat vanjaar se matriekuitslae wel in die media gepubliseer moet word, aldus Netwerk24.
𝐌𝐞𝐝𝐢𝐚𝐯𝐞𝐫𝐤𝐥𝐚𝐫𝐢𝐧𝐠
Sukses hof beslis matriekuitslae mag gepubliseer word.https://t.co/KCjv70gDxl
— AfriForum (@afriforum) January 18, 2022
[MEDIA STATEMENT] the court ruling regarding the release of the National Senior Certificate Examination results on various platforms
@ElijahMhlanga @dbetvnews @HubertMweli @ReginahMhaule pic.twitter.com/o1tsCI7Yhk— Dep. Basic Education (@DBE_SA) January 18, 2022
Hiermee die agtergrond in die aanloop tot vanoggend se hofbeslissing:
Verlede jaar se matrikulante het styf duim vasgehou dat dié week se matriekuitslae soos in die verlede ook in die koerante en ander media gepubliseer sal word, in weerwil van ’n besluit deur die Departement van Basiese Onderwys dat dit nie gedoen gaan word nie.
Die burgerregteorganisasie AfriForum, Maroela Media en een van verlede jaar se matrikulante, Anlé Spies, het verlede week hofstukke ingedien om die departement se besluit om te keer.
Spies, wat haar eksamen in Pretoria afgelê het maar in Gqeberha woon, voer aan dat dit van kritieke belang is dat sy haar uitslae so vinnig moontlik ontvang sodat sy kan voorberei vir die begin van haar universiteitsloopbaan. Sy voer aan dat daar verskeie leerders is wat verhuis of verhuis het na adresse ver weg van die skole waar hulle hul matriekeksamen afgelê het.
Die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het vandag (Dinsdag 18 Januarie) die saak aangehoor waarin die hof gevra is dat vanjaar se matriekuitslae later die week wel soos in die verlede in die media gepubliseer mag word.
Die hoop dat die hofaansoek sou slaag, het die naweek opgevlam toe die Departement van Basiese Onderwys in ’n verklaring aangedui het dat hulle nie AfriForum se aansoek gaan teenstaan nie.
[MEDIA STATEMENT] the release of the National Senior Certificate examination results on various platforms
@dbetvnews @ElijahMhlanga @HubertMweli pic.twitter.com/LKuXzNMXUs— Dep. Basic Education (@DBE_SA) January 16, 2022
Die departement het verlede Dinsdag (11 Januarie) in ’n verklaring gesê matriekeksamenuitslae sal nie meer op mediaplatforms gepubliseer word nie. Hulle voer aan dit is in ooreenstemming met die onlangs ingestelde Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (algemeen bekend as POPIA).
Die departement het gesê dat die publisering van persoonlike inligting aanlyn ’n oortreding van die wet sal wees. Hulle het ook bevestig dat die matriekuitslae nog geskeduleer is om op 21 Januarie 2022 bekendgemaak te word en dat uitslae steeds by skole beskikbaar sal wees. Histories is die matriekuitslae ook wyd in die media beskikbaar gestel aan studente, wat deur hul ID-nommers of eksamennommers geïdentifiseer is.
“Om aan die bepalings van die POPIA te voldoen, sal die gewone praktyk om die resultate van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) op openbare platforms (mediaplatforms) te publiseer nie vir 2021 plaasvind nie,” het die departement verlede week in hulle verklaring gesê.
“Soos ook die praktyk in vorige jare was, sal daar van alle leerders verwag word om hul uitslaestaat van die skole wat hulle bygewoon het, te bekom. Op hierdie manier sal elke leerder se persoonlike inligting met betrekking tot die uitslag van hul Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen beskerm word.”
Volgens Natasha Venter, bestuurder vir onderwysregte by AfriForum, dien die openbare opgewondenheid wat met die publisering van matriekuitslae gepaardgaan, as motivering vir toekomstige matrieks. Sy sê in ’n verklaring om die grootsheid van die geleentheid af te water, sal uiteindelik die strewe na uitnemendheid in onderwys ondermyn.
Voorts kan die departement volgens Venter nie agter die POPI-wet skuil om hierdie “irrasionele besluit” te regverdig nie. “Slegs leerders se eksamennommers word op mediaplatforms gepubliseer, met ander woorde leerders se persoonlike inligting of identiteit word op geen wyse sonder hul toestemming bekendgemaak nie. In ’n demokratiese land moet inligting (binne die perke van die reg) tog vrylik beskikbaar wees en dit is iets wat die departement ook behoort te ondersteun.”
AfriForum het intussen die onderwysdepartement se aankondiging verwelkom dat hulle nié die dringende aansoek gaan teenstaan nie.
𝗠𝗲𝗱𝗶𝗮𝘃𝗲𝗿𝗸𝗹𝗮𝗿𝗶𝗻𝗴
.@AfriForum verwelkom aankondiging dat onderwysdepartement nié aansoek oor publikasie van matriekuitslae gaan teenstaan nie https://t.co/F9VoOJAca0— AfriForum (@afriforum) January 17, 2022
“Ons hoop dat ons Dinsdag in die hof kan verseker dat vanjaar se matrieks ook hul uitslae op mediaplatforms sal kan bekom soos wat in die verlede die gebruik was,” het Venter gesê.