Hof moet beslis oor NG Kerk se besluit dat gays nie mag trou

  • 0

Die NG Kerk moet op 21 Augustus aan ’n volbank regters verduidelik waarom hulle die sinodebesluit van 2015 dat homoseksuele lidmate mag trou, skaars ’n jaar later omgekeer het.

Die hofsaak volg nadat pogings om die saak deur middel van arbitrasie te skik laat vaar is.

Die algemene sekretaris van die NG Kerk, Gustav Claassen, sê die NG Kerk is steeds oortuig daarvan dat arbitrasie die beste uitweg sal wees, maar die applikante meen dat die hof nou duidelikheid moet gee oor die saak.

Een van die twaalf lidmate wat hierdie saak in die hof gaan beveg, Chris Jones, het aan die Sondagkoerant Rapport gesê hoewel hulle aanvanklik die moontlikheid van arbitrasie voorgestel het, het hulle dit reeds ’n geruime tyd gelede laat vaar. Na gesprekke met hulle regspan, is daar na deeglike oorweging besluit die saak is van openbare en grondwetlike belang en dat dit eerder in die hof aangehoor behoort te word.

Jones het aan Rapport gesê die applikante is nie teen die kerk nie, maar vir die besluit wat die algemene sinode in 2015 geneem het. Indien die 2016-besluit gehandhaaf sou word, sal dit volgens hom beteken dat sekere mense op grond van hul seksuele oriëntasie nie volledige lidmaatskap en voorregte in die NG Kerk sal geniet nie.

Die kommissie vir geslagsgelykheid het hulle intussen by diegene geskaar wat die NG Kerk hof toe neem, en gevra om as ’n vriend van die hof toegelaat te word.

Die aansoek om as vriend van die hof toegelaat te word, is deur middel van hulle regsverteenwoordiger aan die hooggeregshof in Gauteng en die onderskeie partye gerig. Beide partye in die hofsaak het die toetrede van die geslagskommissie aanvaar.

Twaalf van die kerk se lidmate voer aan die kerk het sy eie appèlreëls verbreek toe hulle in 2016 besluit het om die vorige jaar se besluit om te keer. Hulle sê die geslagskommissie se toetrede tot die saak is uitstekende nuus.

Die NG Kerk het reeds toegegee die appèlproses was nie korrek nie. Hulle beroep hulle egter op 2016 se besluit en voer aan dit was ’n nuwe besluit wat onafhanklik is van die appèlproses. Die applikante betwis dit. Hulle sê die “nuwe besluit” kan nie losgemaak word van die appèlproses nie.   

Volgens die kommissie vir geslagsgelykheid is hulle toetrede tot die saak in die openbare belang. Die uitvoerende hoofamptenaar, Keketso Maema, sê in ’n beëdigde verklaring aan die Gautengse hooggeregshof dit is hulle mandaat om geslagsgelykheid ingevolge die Grondwet te bevorder en te beskerm.

Die kommissie is by verskeie vorige geleenthede tydens grondwetlike sake as vriend van die hof toegelaat.

Volgens die geslagskommissie het hulle ’n institusionele en grondwetlike belang by die saak tussen die applikante en die NG Kerk. In hulle bydrae om die hof by te staan om tot ’n besluit te kom, sê die geslagskommissie geen vorm van diskriminasie kan ingevolge die Grondwet verdedig word nie.

Dit bekommer hulle wanneer individue of godsdiensgroeperings kultuur en tradisie gebruik om ongelyke behandeling van mense te regverdig asook hulle teenstand teen verandering. Hulle sê godsdienstige instellings behoort al hulle lidmate en volgelinge gelyk te behandel. Hulle mag nie lidmate se gelykheid, waardigheid en godsdiensvryheid geweld aandoen nie.

Hulle voer verder aan dat die Wet op Burgerlike verbintenisse van 2006 dit nie aan godsdienstige instellings oorlaat om diskresionêr te besluit of hulle selfdegeslagverhoudings wil erken of nie. Indien dit so sou wees kan dit volgens die geslagskommissie as ongrondwetlik beskou word.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top